Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Sonbrand en sonbaaiers

Die meeste sonbaaiers smeer nie genoeg sonskerm aan om die sonbeskermingsfaktor (SBF) te bereik wat op die verpakking aangedui word nie, berig die Medical Journal of Australia. Volgens dr. Stephen Taylor “smeer die meeste mense, om kosmetiese en ekonomiese redes, net genoeg sonskerm aan om ’n SBF van ongeveer ’n derde of selfs net ’n kwart van die vlak te bereik”. Hoeveel sonskerm is dan genoeg? Dr. Jeffrey Schneider het in Archives of Dermatology die “teelepelreël” aanbeveel. ’n Volwassene van gemiddelde grootte moet meer as ’n halwe teelepel sonskerm aan elkeen van die volgende liggaamsdele smeer: kop en nek, regterarm sowel as linkerarm. Daarbenewens moet die bolyf, rug, regterbeen en linkerbeen elk meer as ’n teelepel room kry. “As ’n mens die regte hoeveelheid sonskerm gebruik”, sê Schneider, “kry jy meer sonbeskerming as wanneer jy minder . . . sonskerm met ’n hoër SBF gebruik.”

Kampioenspringer

“Die insekwêreld het ’n nuwe hoogspringkampioen”, berig The Times van Londen. Die piepklein skuimbesie kan tot 70 sentimeter hoog spring. Dit is die ekwivalent van ’n mens wat oor ’n wolkekrabber spring wat meer as 180 meter hoog is! Professor Malcolm Burrows van die Universiteit van Cambridge, Engeland, het met behulp van hoëspoedfotografie waargeneem dat die spiere in die gogga se agterbene soos ’n katapult werk en hom met geweldige krag boontoe dryf wanneer hy spring. Burrows skat dat die skuimbesie meer as 400 keer die aarde se gravitasiekrag verduur wanneer hy spring, “wat 130 keer groter is as wat die bemanning van ’n ruimtetuig tydens lansering ondervind”, sê die koerant.

Slaap—Hoeveel het ’n mens nodig?

“Volwassenes wat op weeksaande 7 uur lank slaap, se kanse is kleiner om oor ’n tydperk van 10 jaar te sterf as diegene wat meer slaap”, berig USA Today. Navorsers in Japan het meer as 104 000 volwassenes ongeveer 10 jaar lank gemonitor en hulle slaappatrone, fisiese en geestesgesondheid asook hulle lewenswyse in ag geneem. Die wetenskaplikes het gevind dat “minder slaap, selfs net vier uur per nag, nie die sterftesyfer onder mans noemenswaardig verhoog het nie en slegs die oorlewingsyfer onder vroue verlaag het as hulle gemiddeld minder as vier uur geslaap het”. Hierdie bevindinge word bevestig deur twee ander omvattende gepubliseerde studies en talle kleiner studies. Maar slaapdeskundiges het ook gevind dat “diegene wat vier tot 5 1/2 uur geslaap het, swak gevaar het wanneer hulle geheue, helder denke en hulle vermoë om aandag te skenk, getoets is”. Die sielkundige en slaapnavorser Daniel Kripke sê: “Mense moet soveel slaap kry as wat hulle nodig het om uitgerus te voel.”

’n Somber toekoms vir baie jongmense

“Byna die helfte van alle mense is jonger as 25—die grootste geslag jongmense in die geskiedenis”, sê die VN se Wêreldbevolkingsverslag vir 2003. Wat is die vooruitsigte vir hierdie jongmense? Volgens The Independent van Londen “het dr. Thoraya Obaid, hoof van die VN se Bevolkingsfonds, gesê dat die grootste geslag jongmense in die geskiedenis ongekende gevare in die gesig staar weens vigs en ander seksueel oordraagbare siektes, vroeë huwelike en swangerskap, gebroke gesinne, dwelmgebruik, geweld en seksslawerny”. Die helfte van alle nuwe MIV-gevalle kom voor onder diegene tussen die ouderdomme van 15 en 24. Volgens skatting is daar een nuwe geval elke 14 sekondes. Die moontlikheid dat tieners tydens swangerskap en bevalling sal sterf, is twee keer groter as in die geval van volwassenes. En daar is vermoedelik tot viermiljoen jongmense elke jaar by die sekshandel betrokke.

Meer 40-jariges nou moeders

Die gemiddelde ouderdom waarop Italiaanse moeders aan hulle eerste kind geboorte gee, neem toe. In 1980 was die geboortesyfer onder 20-jarige Italiaanse vroue 74,3 per duisend van die bevolking, maar in 2000 het die syfer tot 20,7 gedaal. Gedurende dieselfde tydperk het die geboortesyfer onder 40-jariges van 12,2 per duisend tot 16,1 gestyg. Die statistiek, wat verskaf is deur die Italiaanse Nasionale Instituut vir Statistiek (ISTAT) en gepubliseer is deur Corriere della Sera, vestig die aandag op die neiging onder mense om langer te wag voordat hulle hulle eerste kind het. Volgens ISTAT “wag mense totdat hulle werksekuriteit het en gevestig geraak het in die lewe, maar hulle wag ook omdat hulle nie hulle eie onafhanklikheid wil verloor nie. Hoe dit ook al sy, ’n kind word as ’n verpligting en ’n las beskou.”

Belydenis neem af

“Gereelde privaat belydenis het in ons tyd tot minder as 25 persent afgeneem”, sê die sosioloog William D’Antonio van die Katolieke Universiteit. “Die vernaamste rede hiervoor, sê deskundiges, is dat mense se beskouing van wat sonde is, verander het”, berig die internasionale uitgawe van The Miami Herald. Monseigneur Thomas Kane, ’n 76-jarige pastoor van St. Patrick se Katolieke Kerk in Rockville, Maryland, voeg by: “’n Soort sedelike relativisme het oorgeneem. . . . Niks is werklik verkeerd nie. As ek ’n goeie rede het om iets te doen, is dit nie sonde nie.” Boonop “verwerp baie Katolieke die kerk se leringe oor geboortebeperking, homoseksualiteit en egskeiding”, sê die koerant. Gevolglik “is Katolieke al hoe meer geneig om op hulle eie gewete staat te maak wanneer hulle besluit of hulle gesondig het”.

Dreigende waterkrisis

“Oor die volgende 20 jaar sal die wêreldwye gemiddelde watervoorraad per persoon na verwagting met ’n derde afneem”, sê UNESCO se direkteur-generaal Koichiro Matsuura. Die wêreld se watervoorraad sal na verwagting afneem, nie net weens ’n groeiende wêreldbevolking, besoedeling en omgewingsfaktore nie. Dit is ’n dreigende krisis omdat “daar nie ’n politieke verbintenis is om hierdie tendense om te keer nie”, sê UNESCOPRESS. ’n Verslag met die titel Water for People, Water for Life, wat deur 23 medewerkers van die Verenigde Nasies saamgestel is, sê: “Omdat leiers traag is en die wêreldbevolking nie heeltemal bewus is van die omvang van die probleem nie, neem ons nie betyds die nodige regstellende stappe nie.” Mnr. Matsuura sê: “Geen streek sal die impak van hierdie krisis vryspring nie.”

Waarskuwing teen voorgeboortelike ultraklank

Al hoe meer swanger moeders in die Verenigde State laat video’s van hulle ongebore kind maak deur gebruik te maak van hoëresolusie-ultraklanktegnologie, berig die tydskrif FDA Consumer. Ultraklankbeeldvorming (sonogramme) behels dat hoëfrekwensieklankgolwe deur interne strukture teruggekaats word, en dit word gebruik om beelde op ’n rekenaar voort te bring. Hierdie beelde word dan opgeneem, en video’s of portrette daarvan word dan as aandenkings gereproduseer. Maatskappye wat hierdie diens lewer, is nou oral in die land in winkelsentrums te sien. Maar anders as personeel wat ultraklankprosedures by ’n dokter se spreekkamer uitvoer, is operateurs wat voorgeboortelike portrette maak, moontlik onopgelei en ongelisensieerd. Gevolglik is die blootstellingstyd dalk langer of teen hoër energievlakke as dié tydens mediese prosedures. Volgens FDA Consumer ‘is dit gevaarlik om foto’s van ongebore babas te neem wanneer daar nie ’n mediese rede daarvoor is nie’.