Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Te jonk om ma’s te wees

Te jonk om ma’s te wees

Te jonk om ma’s te wees

“My kêrel was aantreklik. Hy het geld gehad, en ons kon na plekke toe gaan en pret hê. Toe ek my maandstonde oorslaan, het ek geweet iets is verkeerd. Hoe moes ek my ma daarvan vertel? Hoe kon dit met my gebeur? Ek was maar net 16 jaar oud en ek het nie geweet wat om te doen nie.”—Nicole.

VANDAG is Nicole a, wat in haar middeldertigerjare is, ’n selfversekerde, energieke ma van drie. Haar oudste kind is 20. Ja, jare gelede was sy een van miljoene ongehude swanger tieners. Soos ander tienerma’s was sy vasgevang in ’n moeras van ontsaglike uitdagings, moeilike besluite en onsekere vooruitsigte.

Nicole praat nie dikwels oor die skok, die ontkenning, die vrees, die woede en die wanhoop wat sy ervaar het in haar laat tienerjare nie—’n tyd toe klere en punte op skool vir haar portuurs belangrik was. Nicole se situasie was egter nie hopeloos nie. Sy het ’n liefdevolle gesin gehad wat probeer het om hoë sedelike beginsels by haar in te skerp. Hoewel sy ’n ruk lank verkies het om daardie beginsels te verontagsaam—en die gevolge daarvan gedra het—het daardie selfde waardes haar later gehelp om ’n produktiewe en sinvolle lewe te lei. “Daar is altyd hoop”, het haar leuse geword.

Ongelukkig het nie elke tienerma ’n gesin wat haar ondersteun—of so ’n optimistiese uitkyk op die lewe nie. Baie bevind hulle kort voor lank in ’n skynbaar hopelose toestand van armoede. Party moet die emosionele gevolge van verkragting en geweld probeer verwerk.

Hierdie probleme het ’n negatiewe uitwerking op die kinders van tienerma’s. Volgens die boek Teen Moms—The Pain and the Promise het babas van tienerma’s “gewoonlik ’n laer geboortegewig, meer kinderkwale en ’n hoër sterftesyfer; hulle ontvang swakker mediese sorg, meer van hulle ly weens honger en wanvoeding, hulle word aan meer geweld blootgestel en ontwikkel stadiger as kinders van ouer ma’s”. Trouens, daar is ’n groter kans dat dogters van tienerma’s self tienerma’s sal word as kinders wat ’n ouer ma het.

Hoe algemeen is tienerswangerskap? Hoe kan tienerma’s die uitdagings om hulle baba groot te maak met sukses die hoof bied? Is daar enige manier om jongmense te help om in die eerste plek nie in hierdie verknorsing te beland nie? Die volgende artikels ondersoek hierdie vrae.

[Voetnoot]

a Van die name in hierdie reeks is verander.