Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Tienerswangerskap—’n Wêreldwye tragedie

Tienerswangerskap—’n Wêreldwye tragedie

Tienerswangerskap—’n Wêreldwye tragedie

TIENERSWANGERSKAP is al ’n epidemie genoem. Maar die tragiese gevolge van hierdie probleem kan die beste verstaan word wanneer ’n mens kyk na die impak wat ’n swangerskap op ’n verskrikte tienermeisie het. Om die minste daarvan te sê, sy sal drastiese veranderinge in haar lewe ondervind wat nie net ’n groot uitwerking op haar nie, maar ook op haar gesin en geliefdes sal hê.

Tieners is, soos die Bybel dit stel, in “die bloei van die jeug”—’n tyd wanneer seksuele begeertes dikwels op hulle sterkste is (1 Korintiërs 7:36). Dit sal egter ’n oorvereenvoudiging wees om tienerswangerskap bloot as ’n saak van geboortebeperking te beskou. Die bewyse toon dat tienerswangerskap verband hou met ’n aantal ingewikkelde maatskaplike en emosionele kwessies.

Bydraende faktore

Navorsing toon dat talle tienerma’s uit gebroke gesinne kom. “Al wat ek nog altyd wou hê, was ’n regte gesin”, is die begeerte wat deur baie swanger tieners uitgespreek word. Dit is dus duidelik dat disfunksionele gesinne tot tienerswangerskap kan lei. Volgens ’n uitreikprogram wat tienerma’s bystaan, het hulle dikwels “’n onstuimige verhouding met hulle ma en geen verhouding met hulle pa nie”. Anita, wat op 18 ma geword het, onthou dat sy, ondanks die feit dat haar enkelma hard gewerk het om in haar materiële behoeftes te voorsien, die emosionele leemte gevoel het wat deur die afwesigheid van haar pa veroorsaak is.

Ander meisies word ongehude ma’s as ’n direkte gevolg van verkragting. By sommige van hulle het die trauma emosionele pyn tot gevolg wat later tot vernietigende gedrag lei. Jasmine was byvoorbeeld 15 jaar oud toe sy verkrag is. “Daarna”, sê sy, “het ek selfvernietigend geword. Op 19 het ek swanger geraak.” Seksuele molestering kan ook lei tot gevoelens van waardeloosheid. “Ek het nooit gevoel dat ek enigiets verdien nie”, sê Jasmine. Anita het ’n soortgelyke trauma beleef: “Van 7- tot 11-jarige ouderdom is ek deur ’n tiener gemolesteer. Ek het myself gehaat. Ek het myself blameer.” Sy was 17 toe sy swanger geraak het.

Aan die ander kant is party jongmense die slagoffer van hulle eie selfversekerdheid en nuuskierigheid. Nicole, wat in die vorige artikel aangehaal is, erken: “Ek het gedink dat ek al die antwoorde het, dat ek enigiets kon doen. Ongelukkig kon ek ook ’n baba hê.” Carol, wat ook op ’n jong ouderdom ’n ongehude ma geword het, het uit nuuskierigheid met seks geëksperimenteer. Sy sê: “Ek het gevoel dat daar dinge in die wêreld is wat ek mis.”

Onkunde oor die gevolge van seksuele aktiwiteit speel ook ’n rol. Volgens die sosioloë Karen Rowlingson en Stephen McKay weet party jongmense in Brittanje “nie presies . . . wat om van ’n verhouding te verwag en wat dit beteken om swanger te raak nie”. Party jongmense verstaan blykbaar nie die verband tussen seks en swangerskap nie. Volgens een opname het tienerma’s “dikwels gesê dat hulle geskok of verbaas was om uit te vind dat hulle swanger is, al het hulle nie voorbehoedmiddels gebruik nie”.

Maar dit is veranderende gesindhede ten opsigte van seks wat die grootste invloed op tienerswangerskap het. Ons lewe in ’n tyd waarin mense “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” is (2 Timoteus 3:1-4). Die Australiese navorsers Ailsa Burns en Cath Scott sê dat daar “’n afname was in sosiale, godsdienstige en ekonomiese optrede teen seks buite die huwelik”. Om ’n buite-egtelike kind te hê, het moontlik nie meer dieselfde stigma as in die verlede nie. Trouens, op party plekke beskou tieners dit selfs as ’n soort prestasie of statussimbool om ’n baba te hê!

Emosionele nadraai

Die werklikhede van tienermoederskap verskil heelwat van jeugdige fantasieë. Wanneer meisies uitvind dat hulle swanger is, ondervind hulle dikwels ’n maalstroom van emosies. Baie erken dat hulle geskok of verbysterd gevoel het. “Van die algemene reaksies is woede, skuldgevoelens en ontkenning”, sê die Amerikaanse Akademie vir Kinder- en Adolessentepsigiatrie. Ontkenning kan egter gevaarlik wees, want dit kan daartoe lei dat ’n meisie nie die nodige mediese sorg kry nie.

Elvenia beskryf die oomblik toe sy voor die gevolge van haar seksuele “avontuur” te staan gekom het en sê: “Ek het bang geword.” Talle swanger meisies het niemand wat hulle in hulle vertroue kan neem nie of is te skaam om oor hulle situasie te praat. Dit is dus nie verbasend dat party deur skuldgevoelens en vrees oorweldig word nie. Talle swanger tieners ondervind ook ernstige depressie. “Ek het nie omgegee of ek lewe of doodgaan nie”, sê Jasmine. a

Ongeag hoe ’n jong meisie aanvanklik reageer, uiteindelik sal sy ’n aantal besluite moet neem wat vir haar en haar kind verreikende gevolge sal hê. Die volgende artikel bespreek hoe jong meisies verstandige besluite kan neem.

[Voetnoot]

a Vir verdere inligting oor hoe om selfmoordgevoelens te oorkom, sien “Die lewe is die moeite werd” in die Ontwaak! van 22 Oktober 2001.

[Venster op bladsy 7]

Tienerswangerskap—die skokkende feite

Hoewel die inligting hieronder net die situasie in die Verenigde State beskryf, weerspieël dit van die werklikhede waarmee swanger tieners oor die hele wêreld te kampe het.

● Vier uit 10 meisies raak swanger voordat hulle 20 is—meer as 900 000 tienerswangerskappe jaarliks.

● Ongeveer 40 persent van tienerma’s is jonger as 18 jaar.

● Mishandeling en verwaarlosing is algemener onder kinders van tienerouers as onder kinders van ouers wat nie so jonk is nie.

● Slegs 4 uit 10 ma’s jonger as 18 jaar voltooi hulle hoërskoolloopbaan.

● Byna 80 persent van pa’s trou nie met die tienerma van hulle kind nie.

● Slegs 30 persent van tienerma’s wat trou nadat hulle kind gebore is, bly in daardie huwelik; die moontlikheid dat ’n tienerhuwelik sal misluk, is twee keer groter as dié van ’n huwelik waarin die vrou ten minste 25 jaar oud is.

● Daar is ’n groter moontlikheid dat kinders van tienerma’s te vroeg gebore sal word en ’n lae geboortegewig sal hê, wat die moontlikheid vergroot van babasterfte, blindheid, doofheid, chroniese asemhalingsprobleme, verstandelike vertraging, geestesiekte, serebrale gestremdheid, disleksie en hiperaktiwiteit.

[Erkenning]

Geneem uit Not Just Another Single Issue: Teen Pregnancy Prevention’s Link to Other Critical Social Issues, deur die Nasionale Kampanje vir die Voorkoming van Tienerswangerskap, Februarie 2002.

[Venster op bladsy 7]

Tienerswangerskap die wêreld oor

BRASILIË: Volgens berig “het 698 439 tienermeisies wat jonger as 19 was, in 1998 van Brasilië se staatsondersteunde gesondheidstelsel gebruik gemaak vir hulle bevalling . . . Van hierdie getal was 31 857 meisies tussen 10 en 14 jaar oud, wat belaglik jonk is om ’n kind te hê, nie waar nie?”—Folha de S. Paulo, 25 Augustus 1999.

BRITTANJE: “Brittanje het die hoogste geboortesyfer onder tieners in Wes-Europa . . . In 1997 het byna 90 000 tieners in Engeland swanger geraak. Min of meer drie vyfdes van hulle (56 000) het die baba gehad, en in 1997 was 90 persent van tienergeboortes (ongeveer 50 000) buite-egtelik.”—Lone Parent Families, 2002.

MALEISIË: “Sedert 1998 het die getal buite-egtelike kinders in die land toegeneem, en die meeste van hierdie ma’s is in hulle laat tienerjare.”—New Straits Times–Management Times, 1 April 2002.

RUSLAND: “Volgens statistiek wat deur die staat beskikbaar gestel is, is byna ’n derde van alle babas wat verlede jaar in Rusland gebore is, vir ongehude ma’s gebore, twee keer die persentasie van ’n dekade gelede en op ’n vlak wat nie sedert die Tweede Wêreldoorlog gesien is nie. Meer as 40 persent van hierdie babas is vir tieners gebore.”—The Moscow Times, 29 November 2001.

VERENIGDE STATE: “Ondanks die onlangse afname in die swangerskapsyfer onder tieners, raak 4 uit 10 tienermeisies ten minste een keer swanger voordat hulle 20 jaar oud is.”—Whatever Happened to Childhood? The Problem of Teen Pregnancy in the United States, 1997.

[Prent op bladsy 5]

Wanneer ouers uitmekaar gaan, vergroot dit die moontlikheid van tienerswangerskap

[Prent op bladsy 6]

Party jongmense verstaan blykbaar nie die verband tussen seks en swangerskap nie

[Prent op bladsy 6]

Swangerskap het ’n geweldige groot uitwerking op die meisie sowel as haar geliefdes