Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Let wel: Die reeks “Verstaan gemoedsversteurings”, wat in die “Ontwaak!” van 8 Januarie 2004 verskyn het, het ’n buitengewoon groot reaksie van ons lesers uitgelok. Die volgende is net ’n paar van die talle briewe wat ons ontvang het.

Ek het al baie artikels in julle tydskrifte gelees wat my diep geraak het, maar nie een van hulle het my soveel geraak soos hierdie reeks nie. Terwyl ek oor ons broers en susters gelees het wat aan hierdie versteurings ly, het ek werklik meegevoel vir hulle gehad. As ek al ooit vir sulke mense iets ongevoeligs gesê het, hoop ek dat hulle my sal kan vergewe. Hou asseblief aan om sulke artikels te publiseer. Dit help ons almal om liefdevoller te wees en meer begrip te hê.

S. W., Verenigde State

Ek het gevoel asof my lewe verby was toe ek met bipolêre versteuring gediagnoseer is. Ek het baie gehuil, maar ek het ook met smekinge tot Jehovah gebid. Hierdie week is my gebede verhoor toe ek die Ontwaak! oor gemoedsversteurings ontvang het. Dit was asof Jehovah my op ’n wintersdag in ’n warm kombers toegevou het. Danksy hierdie artikels het ek die moed om verder te gaan.

R. T., Kanada

Ons 12-jarige seun is drie jaar gelede met bipolêre versteuring gediagnoseer. Hy het al dikwels gevoel dat niemand sy probleme verstaan nie en dat Jehovah nie vir hom omgee nie. Toe ons hom hierdie artikels gewys het, het hy dit onmiddellik gelees. Hy het met trane in sy oë gesê: “Mamma, hulle verstaan tog. En Jehovah verstaan my.” Sy dokter was bly toe ek vir hom die tydskrif gee, en ek het ’n aangename Bybelbespreking met hom gehad.

L. P., Verenigde State

Ek het Jehovah met my hele hart gevra dat inligting oor bipolêre versteuring gepubliseer moet word. Vandag, twee maande later, hou ek die Ontwaak! van 8 Januarie 2004 in my hande. Danksy julle praktiese wenke kan ek nou meer in Jehovah se diens doen.

M. S., Mexiko

Ek het die inligting in hierdie reeks vir ’n kollegeprojek gebruik. Die departementshoof van die program vir diegene met spesiale behoeftes het vir ’n eksemplaar gevra wat hy wil gebruik om personeellede oor bipolêre versteuring in te lig. Hou aan met die uitstekende werk. Baie vind baat daarby.

K. R., Verenigde State

Julle het duidelik getoon hoe belangrik dit is om nie die siekte met die persoon te verwar nie. Hierdie artikels help dié van ons wat gemeentelike ouer manne is om die omstandighede van die broers en susters te verstaan wat met hierdie siektes worstel, en hulle by te staan.

R. P., Italië

My suster ly aan major depressie. Toe ek hierdie artikels gelees het, het ek gehuil, want ek het besef dat ek met soveel onkunde oor haar siektetoestand gepraat het. Ek weet nou dat ek moet aanhou om my suster te help en geduldig moet probeer om haar te verstaan.

D. P., Verenigde State

Ek het my met alles wat ek in hierdie reeks gelees het, vereenselwig. Dit het my laat huil en my nie so skuldig laat voel nie. Ek het ’n eksemplaar van die tydskrif vir my dokter gegee, wat my nog altyd aangemoedig het om getrou te wees aan my oortuigings.

A. L., Frankryk

Ek is 13 jaar oud. Ek wou al so dikwels net doodgaan. Die Ontwaak! het my regtig gehelp om nie tou op te gooi nie. Nou weet ek dat Jehovah regtig omgee en dat hy na ons luister!

M. S., Verenigde State

Ek het altyd gedink dat depressie niks anders as selfsugtigheid is nie en dat iemand met depressie hom net moet regruk. Maar nadat ek hierdie artikels gelees het, het ek besef dat ek eintlik die een is wat selfsugtig is omdat ek ander se gevoelens nie in ag neem nie.

R. N., Verenigde State

Dankie vir hierdie goeie artikels. Dit bied ’n wonderlike grondslag vir behandeling. Ek studeer tans vir ’n doktorsgraad in sielkundige berading, en ek sal die artikels gebruik in die behandeling van my pasiënte.

P. Y., Verenigde State

Ek worstel nou al meer as tien jaar met depressie. Hierdie artikels het genoem dat dit nuttig is om ’n dagboek te hou, en ek wil dit graag probeer. ’n Christenvriendin maak vir my ’n bandopname van die vergaderinge wanneer ek nie kan gaan nie, en dit help my baie.

M. S., Japan

Ek lewe al tien jaar met hierdie simptome saam. Ek het die artikels al baie keer gelees en dit sorgvuldig saam met my man bestudeer. Dit het ons gehelp om oor my gemoedswisselinge te praat en om meer aandag aan mekaar te skenk.

I. H., Hongarye

My eie familie het my al so gekritiseer dat ek selfmoord wou pleeg. Maar hierdie reeks gee my hoop omdat ek weet dat Jehovah my verstaan. Ek het weer begin om Christelike vergaderinge by te woon en aan die bediening deel te neem.

M. B., Verenigde State

Dit is vertroostend om te weet dat ek nie alleen ly nie. Daar was praktiese wenke in die reeks, en ek sal dit sover moontlik probeer toepas. Hou asseblief aan om sulke artikels te druk, wat baie mense kan help.

V. L., Rusland

Ek is ’n 68-jarige ouer man wat al omtrent tien jaar lank aan kliniese depressie ly. Die “herders” is ook skape, en party van ons kan ook ernstig depressief word. Dit het my diep geraak om te lees hoe ander gemoedsversteurings die hoof bied.

B. A., Verenigde State

Die materiaal in hierdie reeks het my beweeg om mediese behandeling te kry. Dit het ook my vrou gehelp om my depressie beter te hanteer. Ek is altyd baie beïndruk met hoe tydig en akkuraat julle artikels is.

C. B., Duitsland

Drie maande voordat ek hierdie reeks gelees het, is ek met depressie gediagnoseer. My eerste reaksie op die nuus was presies soos julle in die reeks beskryf het—skok en ’n teësinnigheid om enigiemand daarvan te vertel. Danksy julle reeks voel ek dat ek verstaan word, en ek voel nie meer alleen nie.

A. G., Oostenryk

Toe ek nog klein was, het my pa reeds aan bipolêre versteuring gely. Wanneer hy in die maniese fase was, het die gesin werklik swaargekry. Al het ek geweet dat hy siek is, het ek hom gehaat. Maar toe ek hierdie reeks gelees het, het ek vir die eerste keer verstaan wat my pa deurmaak. Ek kon nie ophou huil terwyl ek dit gelees het nie. Wanneer ek weer huis toe gaan, wil ek met hom probeer praat. Ek sal werklik probeer om hom te aanvaar.

S. S., Japan

My vriendin se dogter het geestesprobleme, en ek het vir haar gesê dat sy net meer moet studeer en meer moet bid, dan sal sy beter voel. Die inligting op bladsy 10 van hierdie reeks het vir my gewys dat ek verkeerd was. Gebed en studie kan help, maar dit genees nie siektes nie. Dankie dat julle my help om op hoogte van sake te bly.

B. D., Verenigde State

Ek het al baie keer gehuil wanneer iemand vir my sê dat ons nie depressief raak as ons Christene is nie. Maar hierdie reeks het my gehelp, en die wete dat ek nie die enigste een met hierdie probleem is nie, het my vertroos.

P. B., Engeland