Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die belangrikheid daarvan om jou kind te leer

Die belangrikheid daarvan om jou kind te leer

Die belangrikheid daarvan om jou kind te leer

WAT iemand gedurende sy kinderjare leer of nie leer nie, kan ’n uitwerking op sy toekomstige vermoëns hê. Wat het kinders dus van hulle ouers nodig om gebalanseerde, suksesvolle volwassenes te word? Kom ons kyk watter gevolgtrekkings party gemaak het na aanleiding van navorsing wat in onlangse dekades gedoen is.

Die rol van die sinapse

Vooruitgang op die gebied van breinbeeldingstegnologie stel wetenskaplikes in staat om die ontwikkeling van die brein in groter detail as ooit tevore te bestudeer. Sulke studies toon dat die vroeë kinderjare ’n kritieke tyd is vir die ontwikkeling van die breinfunksies wat nodig is om inligting te verwerk, normaal aan emosies uiting te gee en taalvaardigheid aan te leer. “Verbindings in die brein word in die vroeë jare teen ’n ongelooflike spoed gemaak terwyl die struktuur van die brein elke oomblik gevorm word deur die wisselwerking tussen genetiese inligting en stimulasie vanuit die omgewing”, berig die tydskrif Nation.

Wetenskaplikes meen dat die meeste van hierdie verbindings, wat sinapse genoem word, in die eerste paar lewensjare gemaak word. Dit is wanneer “’n baba se potensiële toekomstige bedrading vir intelligensie, selfbewussyn, vertroue en motivering om te leer, gelê word”, sê dr. T. Berry Brazelton, ’n deskundige op die gebied van kinderontwikkeling.

Gedurende die eerste paar jaar groei ’n baba se brein geweldig vinnig wat grootte, struktuur en funksie betref. In ’n uiters stimulerende omgewing waar die kind baie nuwe dinge leer, vermenigvuldig sinaptiese verbindings, wat ’n wye netwerk van senuweebane in die brein skep. Hierdie bane maak dit moontlik om te dink, te leer en te redeneer.

Dit is moontlik dat hoe meer stimulasie ’n baba se brein kry, hoe meer senuweeselle aangeskakel word en hoe meer verbindings tussen hulle gemaak word. Dit is interessant dat hierdie stimulasie nie net intellektuele stimulasie deur middel van blootstelling aan feite, syfers en taal insluit nie. Wetenskaplikes het gevind dat emosionele stimulasie ook nodig is. Navorsing toon dat babas wat nie vasgehou, aangeraak, mee gespeel of gestimuleer word nie, minder van hierdie sinaptiese verbindings sal vorm.

Opvoeding en potensiaal

Namate kinders ouer word, vind ’n soort uitdunning uiteindelik plaas. Dit lyk of die liggaam ontslae raak van sinaptiese bedrading wat dalk onnodig is. Dit kan ’n verreikende uitwerking op ’n kind se potensiaal hê. “As ’n kind nie die regte soort stimulasie op die regte ouderdom kry nie”, sê die breinnavorser Max Cynader, “sal die neurologiese bedrading nie behoorlik ontwikkel nie.” Volgens dr. J. Fraser Mustard kan dit lei tot ’n laer IK, gebrekkige taal- en wiskundige vaardighede, gesondheidsprobleme as ’n volwassene en selfs gedragsprobleme.

Dit lyk dus of die ondervindinge wat iemand as ’n baba het, beslis ’n uitwerking op sy lewe as ’n volwassene kan hê. Of die persoon emosionele herstelvermoë het of nie, of hy leer om abstrak te dink of nie en of hy ’n medelydende persoon word of nie, kan deur die ondervindinge van sy vroeë kinderjare beïnvloed word. Ouers se rol is dus baie belangrik. “Een van die belangrikste aspekte van hierdie vroeë ondervinding”, sê een kinderspesialis, “is ’n sensitiewe ouerfiguur.”

Dit klink dalk heel eenvoudig. Sorg vir en leer jou kinders, en hulle sal floreer. Ouers besef dat dit ongelukkig nie altyd so maklik is om te weet hoe om jou kinders reg groot te maak nie. Doeltreffende ouerskap kom nie altyd vanself nie.

Volgens een studie het 25 persent van ouers wat ondervra is, nie geweet dat die manier waarop hulle vir hulle kind sorg ’n voordelige of nadelige uitwerking op sy of haar intelligensie, selfvertroue en leergierigheid kan hê nie. Dit laat die volgende vrae ontstaan: Wat is die beste manier om jou kind se potensiaal te ontwikkel? En hoe kan jy die regte atmosfeer hiervoor skep? Kom ons kyk.

[Prent op bladsy 6]

Babas wat alleen gelaat word en nie gestimuleer word nie, sal miskien nie so goed soos ander ontwikkel nie