Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die voordele om vir kinders te lees

Die voordele om vir kinders te lees

Die voordele om vir kinders te lees

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN POLE

Die organiseerders van die jaarlikse kampanje “Die hele Pole lees vir kinders” sê: “Om te lees, is die sleutel tot kennis sowel as verstandelike vermoë. . . . Dit maak die deur oop tot die skatkamer van mensedenke en -kennis.” As dit waar is, waarom beskou baie volwassenes en kinders lees bloot as ’n noodsaaklike kwaad?

Die mense wat hierdie kampanje begin het, sê: “Die gewoonte om te lees en ’n liefde vir boeke moet in die kinderjare aangeleer word.” Hulle sê vir ouers: “As jy wil hê dat jou kinders verstandig en suksesvol op skool en in die lewe moet wees, moet jy elke dag 20 minute lank hardop vir hulle lees.”

Ouers word ook aangemoedig om nie uit te stel om vir hulle kinders te lees nie, maar om “so gou moontlik daarmee te begin”. Wanneer? “Kom ons lees vir ’n baba terwyl ons hom in ons arms hou, liefdevol na hom kyk en sy belangstelling met ons stem wek”, word ouers aangespoor. “Op hierdie manier sal die kind lees altyd verbind met ’n gevoel van veiligheid, genot en intimiteit. Daarbenewens stimuleer dit sy verstandelike ontwikkeling.”

Die organiseerders van die kampanje beklemtoon dat “dit nou belangriker is as ooit tevore om vir kinders te lees”, en hulle wys op ander voordele. Om hardop te lees, leer kinders om te dink, “help hulle om ander mense, die wêreld en hulleself te verstaan, . . . wek hulle belangstelling in dinge, ontwikkel hulle verbeelding, stimuleer emosionele ontwikkeling, kweek sensitiwiteit en empatie, leer hulle sedelike waardes, . . . bou eiewaarde”. Die organiseerders van hierdie kampanje meen dat dit ongetwyfeld “die teenmiddel is vir talle ongewenste invloede . . . wat kinders se verstande en harte bedreig”.

Die leeservaring is besonder doeltreffend wanneer publikasies gebruik word wat kinders aanmoedig om nader aan hulle hemelse Skepper te kom. Die Bybel is die beste boek wat daar is om ons te help om nader aan God te kom. “Van kleintyd af”, sê die Bybel, is die jong Timoteus “die heilige geskrifte” geleer (2 Timoteus 3:15). Ouers kan Bybelpublikasies soos My boek met Bybelverhale en Leer by die Groot Onderwyser, wat spesiaal vir kinders geskryf is en deur Jehovah se Getuies uitgegee word, gebruik om gereeld hardop vir hulle kinders te lees.