Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N Voortdurende stryd teen water

’N Voortdurende stryd teen water

’N Voortdurende stryd teen water

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NEDERLAND

“Met ’n magtige gedruis stroom die oseaan twee maal per dag oor ’n ontsaglike gebied, sodat daar twyfel bestaan of dit aan die land of die see behoort. ’n Bejammerenswaardige volk woon daar op hoë heuwels, wat hulle self tot ’n hoogte bokant die hoogste bekende watervlakke gemaak het.”

DIE bogenoemde is ’n beskrywing deur die eerste-eeuse Romeinse skrywer Plinius die Ouere van die bewoners van die laagliggende gebiede langs die Noordsee en die stryd wat hulle teen water gevoer het. Vandag duur hierdie stryd voort. Trouens, sowat die helfte van die meer as 16 miljoen mense in daardie gebied woon en werk onder seespieël.

Ondanks die voortdurende stryd beskou hierdie bewoners van Nederland, of Laagland, hulleself nie as bejammerenswaardig nie. Hulle land is weliswaar laagliggend en klein, a maar dit is die tuiste van een van die wêreld se rykste nasies. En verbasend genoeg, Nederland het baie van sy welvaart aan water en die stryd daarteen te danke.

’n Belangrike rede waarom die Nederlanders besluit het om in hierdie gebied te bly, is die vrugbaarheid van die grond. Dit is besonder geskik vir landbou, tuinbou en beesboerdery. En omdat Europa se groot riviere hier in die see invloei, is die land ook ekonomies gesproke strategies geleë. Dit is geen wonder dat Nederland—insluitende Rotterdamhawe, die grootste hawe ter wêreld—die poort tot Europa genoem word nie!

Die bou van dyke deur die eeue heen

Welvaart het egter nie vanself gekom nie. Die Nederlanders bou al die afgelope 900 jaar lank dyke om hulle teen die water te beskerm, van die riviere wat deur die land vloei sowel as van die see. Gevolglik het Nederland nou duisende kilometers dyke wat dit teen water van die see en riviere beskerm—’n indrukwekkende prestasie!

Ander lande het ook dyke. Faktore soos die hoogte maak die dyke hier lewensbelangrik. Koos Groen, medeskrywer van die boek Dijken, het gesê: “As Switserland se hele bevolking sou besluit om op ’n jaarlange oorsese vakansie te gaan, sou hulle land nog steeds daar wees wanneer hulle terugkeer. As die Nederlanders dit sou doen, sou die helfte van hulle land en 75 persent van hulle huise verdwyn het wanneer hulle terugkeer.” b

Vandag kan die miljoene Nederlanders wat onder seespieël woon, hulle voete droog hou en rustig slaap omdat ’n ononderbroke stryd gevoer word. Kom ons kyk na die moeite wat daaraan verbonde is om die strande en duine in stand te hou.

Instandhouding van strande en duine

Met verloop van duisende jare het ’n natuurlike versperring van strande en duine ontstaan en dié gebied teen die see beskerm. Maar hierdie versperring word voortdurend deur erosie verswak. Om vir hierdie verlies te vergoed, word sand 9 tot 20 kilometer van die kus af deur spesiale skepe van die seebodem opgebagger en op of teen die strand gespuit. Sedert 1970 is bykans 85 miljoen kubieke meter sand verskuif om die land se duine in stand te hou!

Maar dit is nie net die mensebevolking wat by die instandhouding van die duine baat vind nie. Die Nederlandse koerant NRC Handelsblad sê: “Hoewel die duine slegs 1 persent van die oppervlak van Nederland beslaan, word driekwart van die land se voëlsoorte en twee derdes van alle hoër plantsoorte hier aangetref.”

Die verdedigingslinie word verkort

Nederland het die 32 kilometer lange Afsluitdyk in 1932 gebou. Hiermee is die Suidersee van ’n binnelandse see in ’n meer verander, die Yselmeer. Terselfdertyd het dit die land se kuslyn van ongeveer 1 900 kilometer na net meer as 1 300 kilometer verkort.

Sowat 20 jaar later, in 1953, nadat ’n rampspoedige oorstroming 1 835 lewens geëis het, het dykbouers ’n selfs groter projek aangepak. Hulle doelwit was om al die see-inlate in die suidwestelike deel van die land af te sluit, behalwe dié wat na die hawestede Rotterdam en Antwerpen gelei het. Hierdie sogenoemde Deltaplan het uiteindelik tot gevolg gehad dat die land se kuslyn verder verkort is tot sowat 622 kilometer.

Beskerming teen die riviere

Dit is nie net die see wat ’n bedreiging inhou nie, maar ook die riviere wat deur Nederland vloei voordat dit in die see uitmond. Aan die einde van die winter, ná die lang reënseisoen en wanneer die sneeu op die berge smelt, stroom groot hoeveelhede water van Switserland, Duitsland, Frankryk en België in hierdie riviere in en bereik dit Nederland.

Sulke massas water kan ernstige probleme veroorsaak. In Februarie 1995 het riviere in die middel van die land byvoorbeeld so vol geloop dat daar gevrees is dat die dyke onder die druk sou breek. As daar ’n breuk was, sou die land agter die dyke etlike meters diep onder die water wees. Die skrywer Koos Groen, wat vroeër aangehaal is, sê: “Min mense besef wat kon gebeur het as die rivierdyke ingegee het.”

’n “Bad” sonder ’n dak

Nederland is by uitstek bekend vir sy polders, “nuwe land” onder seespieël wat deur dyke omring word. Tot die einde van die 19de eeu is die watervlak in die polders deur windmeulens gereguleer. Deesdae doen rekenaarbeheerde pompstasies die werk. Peter Nowak, wat ’n pompstasie naby Amsterdam in stand hou, het verduidelik wat dit behels.

“’n Mens kan ’n polder met ’n bad vergelyk”, het Nowak gesê. “’n Polder is dikwels etlike meters onder seespieël geleë. Die dyk rondom keer dat die polder oorstroom. Maar ’n dyk is nie ’n dak nie. Swaar reëns kan veroorsaak dat die gebied binne die polder, of die bad, vol word. Om ernstige probleme te voorkom, moet die water uitgepomp word. Maar waarheen gaan die water?”

’n Polder bevat ’n netwerk van slote wat water na die pompstasie lei. Om te verhoed dat hierdie slote verstop raak, moet elke boer die slote op sy eiendom skoonmaak. Die pompstasie pomp dan die oortollige water van die polder af in die boesem, ’n vindingryke stelsel van mere en kanale wat as ’n opvanggebied buite die polder dien. Oortollige water in die boesem word gedurende laagwater in die see gepomp.

“Dit is noodsaaklik vir die Nederlandse ekonomie dat die regte watervlak in die polder gehandhaaf word”, het Nowak verder gesê. “Gedurende droë somers word water ingelaat omdat boere dit in hulle slote vir gras of gewasse nodig het. In sommige polders word van die land se beroemdste uitvoerprodukte gekweek—blomme.”

Hulle woon waar die see vroeër was

In die 20ste eeu is die polders nie meer net as bykomende landbougrond beskou nie; dit is ook as ekstra leefruimte beskou. ’n Halfeeu gelede, toe stadsbeplanners begin het om dorpe in polders uit te lê, het hulle min ondervinding daarin gehad om nuwe gemeenskappe te organiseer. Maar as jy die polders vandag besoek, sal jy sien dat die stadsbeplanners daarin geslaag het om bewoonbare leefruimtes vir gemeenskappe te skep waar die seebodem vroeër was! Kom kyk gerus self hoe dit lyk.

Voel jy ’n bietjie huiwerig om onder seespieël te gaan stap? Dit is verstaanbaar, maar baie is verbaas wanneer hulle uitvind dat hulle dit reeds gedoen het sonder om daarvan te weet. As jy byvoorbeeld al ooit by Schiphol-lughawe, naby Amsterdam, geland het, het die vliegtuig op die bodem van ’n drooggelegde meer neergestryk. Die feit dat jy nie eers agtergekom het dat jy sowat vier meter onder seespieël was nie, toon dat die dyke in Nederland nog in ’n goeie toestand is!

[Voetnote]

a Nederland beslaan ’n gebied van 41 500 vierkante kilometer.

b In Nederland bestaan twee vyfdes van die land uit polders, gebiede wat onder seespieël geleë is. Hierdie polders sal oorstroom word as die dyke nie voortdurend in stand gehou word nie. Bergagtige lande soos Switserland is bo seespieël geleë en het dus nie dieselfde probleem nie.

[Venster/Prent op bladsy 18]

Hulle vergader ONDER SEESPIEËL

Een van die twee Byeenkomssale van Jehovah se Getuies in Nederland is vyf meter onder seespieël. “Wanneer ons op pad is na ons halfjaarlikse byeenkomste”, het een van Jehovah se Getuies gesê, “dink ons dikwels aan God se woorde in Job 38:8 en 11: ‘Wie het die see met deure versper en gesê: “Tot hiertoe mag jy kom, en nie verder nie; en hier word jou trotse golwe begrens”?’ Hierdie woorde herinner ons daaraan dat die manier waarop Jehovah die ongelooflike krag van water kan beheer, ver verhewe is bo die pogings van hidrouliese ingenieurs, al is hulle prestasies indrukwekkend.”

[Venster op bladsy 19]

Wie sien om na die DYKE?

Dyke en dreineringstelsels moet onderhou en soms herstel word. Sedert die Middeleeue het plaaslike en streekswaterbestuurowerhede, wat waterrade genoem is, na hierdie verantwoordelikheid omgesien. Hierdie rade het volgens ’n driedelige beginsel gewerk: belange, betaling en seggenskap. Iemand wat belange in veilige dyke het, moet vir die bestuur en instandhouding daarvan betaal. Maar hy het ook seggenskap in die owerheid wat oor daardie belange toesig hou sowel as in die manier waarop ingevorderde geld gespandeer word.

Waterrade bestaan al sedert die 12de eeu in Nederland. Tans bestaan daar meer as 30 waterrade. Die mag om sulke rade aan te stel, af te skaf en te reguleer berus by die provinsiale owerheid. Dit besluit hoe groot die “dykleër” sal wees en uit wie dit sal bestaan. Die lede van hierdie leër woon in die gebied wat hulle moet beskerm. Hulle het ’n goeie dryfveer—die welsyn en veiligheid van hulle eie gesinne en gemeenskap. Wanneer die watervlakke hoog is, patrolleer hulle die dyk, slaggereed om op te tree deur sandsakke en ander toerusting te gebruik om enige breuke te voorkom. Hierdie eeue-oue stelsel van waterrade verseker dat daar goed na die dyke omgesien word.

[Kaarte op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Sonder duine en dyke sou hierdie blou gebied die meeste van die tyd oorstroom wees

[Prent op bladsy 16, 17]

Reusagtige seedyke is gebou om die laagliggende gebied agter die dyke te beskerm

[Prente op bladsy 17]

Elke jaar moet miljoene kubieke meter sand aangevul word

[Prent op bladsy 18]

Dit is nie ongewoon dat motors op ’n laer vlak ry as wat skepe vaar nie

[Prent op bladsy 18]

Die rampspoedige dykbreuk van 1953

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Albei foto’s: Met vriendelijke toestemming van het Nederlandse Ministerie van Verkeer en Waterstaat

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Boonste twee foto’s: Met vriendelijke toestemming van het Nederlandse Ministerie van Verkeer en Waterstaat