Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Oorlaai jy jou brein?

Sommige navorsers sê dat “dit vir die brein moeilik is om te veel dinge op dieselfde tyd te doen”, berig die Kanadese koerant Toronto Star. Studies dui daarop dat multitaakverrigting verminderde produktiwiteit, foute en selfs siekte veroorsaak. Dit kan byvoorbeeld die “geheue verswak, rugpyn veroorsaak, ’n mens vatbaar maak vir griep en slegte spysvertering, en dit beskadig selfs jou tande en tandvleis”. Studies wat deur die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstitute gedoen is, toon dat verskillende dele van die brein geaktiveer word wanneer mense sekere take verrig. Maar wanneer hulle twee of meer dinge gelyktydig probeer doen, soos om op ’n selfoon te gesels terwyl hulle ’n motor bestuur, “begin die brein in werklikheid afskakel”, sê dr. John Sladky, ’n neuroloog aan Emory-universiteit. “Dit is nie net dat die brein nie in staat is om dit te doen nie, dit weier om dit te doen.” Volgens navorsers moet mense die pas verminder en aanvaar dat hulle brein nie alles kan doen wat hulle daarvan vereis nie.

Nuwe vissoorte gevind

Wetenskaplikes wat die stroomgebied van Venezuela se Caurarivier bestudeer, het onlangs bekend gemaak dat hulle “tien nuwe vissoorte ontdek het”. Hierdie vissoorte sluit ’n klein vissie “met ’n bloedrooi stert” in, asook ’n “katvis met ’n kuif wat uit voelers bestaan” en “’n piranha wat vrugte sowel as vleis eet”, sê die koerant El Universal van Venezuela. Hierdie gebied wat uit byna ongerepte tropiese woude en waterweë bestaan, is beskryf as een van die plekke met die grootste biologiese diversiteit op die planeet. Wetenskaplikes doen ’n ernstige beroep op die regering om die gebied te beskerm, wat deur landbou, vissery, huisvestingsprojekte, mynbou en moontlike hidroëlektriese projekte bedreig word.

Spanning in die wagkamer

“Duitse pasiënte moet gemiddeld 48 minute in die wagkamer sit voordat hulle ingeroep word om die dokter te spreek. Party wag baie langer”, sê die tydskrif Psychologie Heute. ’n Onlangse studie van die praktyke van 610 dokters wat deur die Instituut vir Ontleding, Advies en Strategiese Ontwikkeling in verband met Sakebestuur gedoen is, het getoon “hoe ongelukkig pasiënte in werklikheid met die situasie is”. Waar dokters niks gedoen het om die probleem op te los nie, “het hulle gereelde pasiënte binne ’n jaar met 19 persent verminder”, sê die verslag. Die stresvlakke van dokters en assistente in praktyke met wagkamers wat oorvol is, was baie hoër as dié van werkers in ander kantore, en hulle was ’n derde minder doeltreffend in hulle werk. Wat meer is, hierdie assistente het twee keer meer foute gemaak.

Verward oor reg en verkeerd

“Byna een uit vier Australiërs het erken dat hulle skryfbehoeftes by hulle werk steel”, sê The Sun-Herald van Sydney. ’n Opname wat onder meer as 2 000 kantoorwerkers gedoen is, het getoon dat dit algemeen is om by die werksplek dinge te doen soos om toegang te verkry tot persoonlike inligting oor kollegas, die Internet gedurende werksure vir persoonlike doeleindes te gebruik, ongemagtigde sagteware op die werk se rekenaars af te laai en die kantoor se sagteware by die huis te gebruik. “Dit is duidelik dat baie mense verward is oor wat reg en wat verkeerd is”, sê Garie Dooley, onder wie se toesig die opname gedoen is.

Troeteldierbegrafnisse—Belasbaar of nie?

Die Japannese koerant IHT Asahi Sjimboen het berig dat ’n Boeddhistetempel onlangs ’n hofsaak teen die belastingowerheid aanhangig gemaak het en beweer het dat die inkomste wat dit van troeteldierbegrafnisse, -verassing en die berging van as ontvang, belastingvry behoort te wees. Die belastingkantoor het aangevoer dat die verassing van troeteldiere en die godsdiensseremonies wat vir hulle gehou word op “kontraktuele bedrywighede” neerkom en dat die tempel in die “pakhuisbedryf” is aangesien dit as berg. Daarenteen beweer die tempel dat “’n gedenkdiens ’n godsdienstige daad is om bedroefde troeteldiereienaars van hulle smart te probeer genees en om die siel van diere te troos”, sonder om daaruit wins te maak.

Vliegongelukke neem af

Die aantal vliegongelukke wat wêreldwyd in 2003 plaasgevind het, was die laagste sedert die 1950’s, toe mense begin het om rekord hiervan te hou, berig die tydskrif Flight International. Die sterftesyfer van 702 was die laagste sedert 1990, ondanks ’n toename van 40 persent in lugverkeer. Londen se Daily Telegraph sê dat een rede “vir die algemene verbetering in veiligheid ’n afname was in voorvalle waar navigasiefoute veroorsaak het dat die vliegtuig in hoogliggende terrein vasvlieg. Nuwe waarskuwingstelsels wat die vlieënier inlig oor die terrein waaroor hy vlieg, het vermoedelik ’n rol gespeel, maar die tegnologie word beskryf as ‘nie onfeilbaar nie’.” Talle ouer vliegtuie is nie met sulke stelsels toegerus nie.

Engelse sout red swanger vroue

’n Eenvoudige, goedkoop behandeling wat van gehidrateerde magnesiumsulfaat (Engelse sout) gebruik maak, kan die moontlikheid dat ’n komplikasie intree wat vir swanger vroue noodlottig kan wees, met 50 persent verminder, verduidelik The Times van Londen. Eklampsie, ’n gevaarlike vorm van hoë bloeddruk wat stuipe veroorsaak, eis elke jaar wêreldwyd die lewens van 50 000 vroue en hulle ongebore kinders. Hoewel ’n drup of inspuiting wat magnesiumsulfaat bevat, al jare lank in die Verenigde State gebruik word om preëklampsie te behandel, wat in eklampsie kan ontwikkel as dit nie behandel word nie, het dit nie in die meeste ander lande ingang gevind nie. ’n Internasionale span dokters by die Instituut vir Gesondheidswetenskappe in Oxford, Engeland, het derhalwe “besluit om die voordele van die sout te toets deur ’n proefneming onder 10 000 vroue in 33 lande te doen”, sê The Times. “Ná drie jaar is die . . . proefneming vroeg beëindig toe dit duidelik geword het hoe doeltreffend die behandeling is: toe magnesiumsulfaat vir vroue met preëklampsie gegee is, het dit die risiko dat hulle stuipe sou kry met 58 persent verminder. Dit het die risiko dat hulle sou sterf met 45 persent verminder.” Die behandeling “kos net £3 [R36] per vrou, wat dit binne die bereik van vroue in ontwikkelende lande plaas”.

Eetgewoontes onder tieners

“’n Verontrustende aantal tienderjarige skoolmeisies slaan maaltye oor omdat hulle bekommerd is oor hulle figuur en modelle en popsterre wil naboots”, sê die Londense koerant Daily Telegraph. Brittanje se Eenheid vir Gesondheidsonderrig by Skole het ’n studie gedoen van die eetgewoontes van 300 000 leerlinge, wat getoon het dat meer as 40 persent van meisies wat 14 en 15 jaar oud is, “skool toe gaan sonder om ontbyt te eet. In vergelyking met soortgelyke data wat in 1984 versamel is, het die aantal meisies wat [soggens] die huis verlaat sonder om te eet, byna verdubbel.” Die aantal meisies wat middagete oorslaan, het ook vermeerder, van 2 persent in 1984 tot 18 persent in 2001. Omdat daar ’n groter gevaar bestaan dat leerlinge eetversteurings soos anorexia nervosa en bulimie kan ontwikkel, word skoolhoofde van meisieskole versoek om die gewig van hulle leerlinge te monitor. Seuns stel ook nou meer daarin belang om op dieet te gaan. Onder hulle wil 31 persent van 12- en 13-jariges en 25 persent van 14- en 15-jariges gewig verloor, syfers wat vroeër onderskeidelik 26 persent en 21 persent was.