Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Skoonheid weggesteek in die donker

Skoonheid weggesteek in die donker

Skoonheid weggesteek in die donker

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SLOWENIË

MET ’n klein lamp in sy hand het Luka Čeč stadig deur die ondergrondse stikdonkerte beweeg. Ver onder die aarde se oppervlak het hy hoog teen ’n rots opgeklouter en is hy met ’n ongelooflike gesig beloon. ’n Glinsterende, skitterende wêreld het voor sy oë ontvou. Wat het hy ontdek? ’n Nuwe gang van die Postojna-grotte in Slowenië.

Hierdie ontdekking in die lente van 1818 was die begin van die florerende toeristebedryf van vandag. Dit het ook die weg gebaan vir verdere “wetenskaplike studie en verkenning van grotte”, oftewel speleologie. Kom gerus saam met ons op ’n besoek aan Postojna, ’n dorp in Wes-Slowenië, om hierdie pragtige grotstelsel van naderby te beskou.

’n Gebied met baie grotte

Die Postojna-grotstelsel is een van die grootste in Europa, met gange en kamers van meer as 20 kilometer. Die grotte is in die Karst-streek van Slowenië geleë, ’n kalksteenplato wat sowat 50 kilometer van die Adriatiese See na die binneland strek, tussen die Juliese en Dinariese Alpe. Die Postojna-grotte tel onder die duisende fassinerende grotte in die streek.

Vandag het die woord “karst” verskillende betekenisse. Die term word regoor die wêreld deur geoloë gebruik om terrein te beskryf wat soortgelyk is aan dié van die Karst-streek. Karstlandskappe word in baie dele van die wêreld aangetref, onder meer in Australië, Sentraal-Amerika, China, Indo-China, Rusland sowel as Mediterreense lande en op die Karibiese Eilande. Hierdie terrein word gekenmerk deur onvrugbare, klipperige grond waarin grotte en sinkgate asook ondergrondse strome en mere deur erosie gevorm is.

Aangesien ’n groot deel van Slowenië uit karstlandskap bestaan, is grotte en ander ondergrondse formasies volop in die land. Die Postojna-grotte tel onder beroemde karstgrotte soos die Mammoetgrotte in Kentucky, VSA, en die Rietfluit-grotte van Kuei-lin, China.

’n Kykie binne die grotte

Die eerste beskrywing van die Postojna-grotte dateer uit die 17de eeu, toe die Sloweense geleerde Janez Vajkard Valvasor daaroor geskryf het in sy boek The Glory of the Duchy of Carniola. In Valvasor se beskrywing van die grotte in die gebied het hy gesê dat hulle “pilare met vreemde vorms” het. Hy het dit vergelyk met “allerhande soorte ongediertes, slange en ander diere . . . of verskillende vorms van monsters, misvormde gesigte, spoke en dies meer”. Hy het bygevoeg: “Angs en vrees neem ook toe weens die talle gange, putte en diep klowe aan alle kante.” Dit is geen wonder nie dat min dit gewaag het om baie diep in die angswekkende donkerte van die grotte te gaan verken nadat hulle hierdie onheilspellende beskrywing gelees het!

Mettertyd het die gewildheid van die Postojna-grotte egter toegeneem. Dit was veral die geval nadat Čeč sy ontdekking in 1818 gemaak het. Net die volgende jaar is die grotte vir die publiek oopgestel. Maar eers toe ’n spoorweg in 1872 aangelê en elektriese beligting in 1884 aangebring is, kon baie mense hierdie natuurwonders self sien. Wat het hulle gesien?

Vandag is die Postojna-grotte bekend vir hulle pragtige gange. Die ryk kleure en buitengewone vorms van stalaktiete en stalagmiete laat die grotte se gange soos juwele lyk. Party glinster asof hulle met diamante besprinkel is, terwyl ander warm geelbruin of roeskleurige skakerings het. Inskripsies op die mure toon dat besoekers van vergange eeue ook die seldsame skoonheid van die grotte geniet het.

Nuwe spesies ontdek

Verkenning van hierdie groot grotstelsel het nie net nuwe en ongewone geologiese formasies aan die lig gebring nie, maar ook voorheen onbekende lewensvorme. Tot op hede is meer as tien nuwe spesies in die Postojna-grotstelsel gevind.

Čeč het in 1831 een van hierdie ontdekkings gemaak, tot die vreugde van grotkundiges oor die hele wêreld. Čeč het ’n ongewone grotkewer ontdek, wat Leptodirus hohenwarti, oftewel “die een met ’n dun nek”, genoem word. Soos sy naam aandui, het hierdie kewer ’n dun nek. Hy het ook ’n klein kop, ’n geronde agterlyf en buitengewone lang voelers en bene. Ongelukkig is die oorspronklike eksemplaar per ongeluk beskadig, en daarom was ’n deeglike studie nie moontlik totdat ’n tweede kewer 14 jaar later gevind is nie.

’n Ander vreemde diertjie wat in hierdie gebied gevind is, is die olm, ’n blinde grotsalamander. Reeds in 1689 het Valvasor daarna verwys as ‘die nageslag van ’n draak’. Wetenskaplikes het al heelwat navorsing oor hierdie amfibiese diertjie gedoen.

Omliggende grotte

Die Postojna-grotte is maar net een van baie grotstelsels in die gebied. Die nabygeleë Škocjan-grotte, wat sedert 1986 op UNESCO se Wêrelderfenislys is, is veral merkwaardig. Besoekers aan dié grotstelsel is verstom oor hoe groot die grotte en canyons is. Dit is na bewering die grootste in Europa. ’n Deel van die grotstelsel is byvoorbeeld 300 meter lank, 100 meter wyd en 110 meter hoog!

By die ingang van die Predjama-grotte is daar ’n groot kasteel, die voormalige tuiste van die legendariese ridder Erazem Jamski. Daar word beweer dat die kasteel indringers eeue lank uitgehou het. Voorrade kon afgelewer word deur geheime tonnels wat met die grot onder die kasteel verbind is. Erazem het volgens berig aanvallers uitgetart deur vir hulle vars kersies of gebraaide vleis te gooi as bewys dat hy nie honger ly terwyl hy in sy kasteel vasgekeer is nie. Of die verhaal waar is of nie, die geheime gange is daar vir almal om te sien.

Dit kan baie opwindend wees om die fassinerende wêreld van grotte in hierdie karstgebied te verken. Die wêreldberoemde beeldhouer Henry Moore het die Postojna-grotte só beskryf: “Dit is die beste tentoonstelling van die natuur se beeldhoukuns wat ek nog gesien het.” As jy die geleentheid het om dit te besoek, sal jy moontlik met hom saamstem.

[Venster/Prent op bladsy 24]

Die “menslike vis”

Proteus anguinus staan plaaslik bekend as die menslike vis weens sy ongewone velkleur, wat party aan ’n mens se vel laat dink. Hierdie amfibiese werweldier kom net in die ondergrondse water van die karstgebiede in Noordoos-Italië, Slowenië en verder suid voor. Die feit dat hy ’n kleurlose vel en atrofiese oë het, is nie vir hom ’n probleem nie, want hy lewe in algehele donkerte van die eierstadium af tot wanneer hy doodgaan. Verbasend genoeg, sommige het na bewering tot 100 jaar lank gelewe, en hulle kan ’n hele paar jaar sonder kos oorleef.

[Erkenning]

Arne Hodalic/www.ipak.org

[Prente op bladsy 24]

1. ’n Gang in die Škocjan-grotte is 110 meter hoog

2. Die kasteel by die ingang van die Predjama-grotte

3. Die Postojna-grotte het wêreldbekend geword

[Foto-erkenning op bladsy 23]

Arne Hodalic/www.ipak.org