Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van kleintyd geleer om God lief te hê

Van kleintyd geleer om God lief te hê

Van kleintyd geleer om God lief te hê

SOOS VERTEL DEUR ANATOLI MELNIK

Baie mense noem my goedig Oupa. Die woord roer my hartsnare want dit herinner my aan my eie oupa, vir wie ek baie lief was en aan wie ek baie verskuldig is. Kom ek vertel julle van hom en hoe hy en Ouma ’n groot invloed op die lewens van hulle gesinslede, sowel as baie ander, gehad het.

EK IS in die dorpie Hlina gebore, in die noorde van wat vandag as Moldowa bekend staan. a In die 1920’s het reisende bedienaars, wat pelgrims genoem is, van Roemenië af oor die grens na ons pragtige heuwelagtige gebied gekom. My ma se ouers het onmiddellik gereageer op die goeie nuus uit die Bybel wat aan hulle verkondig is. In 1927 het hulle Bybelstudente geword, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Teen die tyd dat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, was daar alreeds ’n gemeente van Jehovah se Getuies in ons klein dorpie.

Toe ek in 1936 gebore is, was ons hele familie Jehovah se Getuies, behalwe my pa wat nog aan die Ortodokse Kerk behoort het. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy oor die doel van die lewe begin nadink, hom uiteindelik aan ons Skepper, Jehovah God, toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer. My oupa het grootliks bygedra tot die geestelike vooruitgang van ons gesin. Hy het ’n groot liefde vir die Bybel gehad en het honderde verse uit die kop geken. Hy kon enige gesprek in ’n Bybelse rigting stuur.

Ek het dikwels op Oupa se skoot gesit en luister terwyl hy Bybelverhale vertel. Hy het ’n liefde vir God by my ingeskerp. Ek is so dankbaar teenoor hom daarvoor! Op agtjarige ouderdom het ek vir die eerste keer saam met Oupa aan die predikingswerk deelgeneem. Ons het die Bybel gebruik om vir ander dorpsbewoners te wys wie Jehovah is en hoe om na aan hom te kom.

Onderdruk deur die Kommuniste

In 1947 het die regering, onder die invloed van die Kommunistiese beleid en die Ortodokse Kerk, Jehovah se Getuies in Moldowa begin vervolg. Agente van wat later die KGB genoem is, sowel as die plaaslike polisie, het herhaaldelik na ons huis toe gekom en wou by ons uitvind wie die leiding in ons predikingswerk neem, waar die lektuur vandaan kom en waar ons vir aanbidding vergader. Hulle het gesê dat hulle die bedrywighede van Jehovah se Getuies sou stopsit omdat hulle na bewering “die vooruitgang van Kommunisme in die land belemmer”.

Teen hierdie tyd het my pa, ’n geleerde man, ook ’n innige liefde vir Bybelwaarheid ontwikkel. Hy en Oupa het geweet hoe om ondervraers te beantwoord sodat hulle nie ons Christenbroers en -susters verraai nie. Hulle was albei moedige en liefdevolle mans wat oor die welsyn van medegelowiges besorg was. Soos hulle, het my ma altyd kalm en bedaard gebly.

In 1948 is my pa gearresteer en weggeneem. Daar is nooit vir ons gesê wat die aanklagte teen hom was nie. Hy is tot sewe jaar in ’n maksimumsekuriteitsgevangenis en tot nog twee jaar ballingskap gevonnis. Uiteindelik is hy na die Magadan-gebied in die verre noordooste van Rusland gestuur, meer as 7 000 kilometer van ons huis af. Ons het mekaar nege jaar lank nie gesien nie. Dit was moeilik om sonder ’n pa oor die weg te kom, maar Oupa was vir my ’n ware steunpilaar.

Verban

Op die nag van 6 Junie 1949 het twee soldate en ’n offisier by ons huis ingebars. Hulle het gesê dat ons twee uur het om die huis te verlaat en in hulle voertuig te klim. Geen verdere verduideliking is gegee nie. Hulle het eenvoudig gesê dat ons verban word en nooit sou terugkeer nie. Ek is dus saam met my ma, oupa, ouma en medegelowiges na Siberië gestuur. Ek was net 13. Ná ’n paar weke het ons ons in die moerasse van die taiga bevind, te midde van ondeurdringbare woude. Hoe het dit tog verskil van my tuisdorp, waarvoor ek so lief was! Soms het ons gehuil. Maar ons was oortuig dat Jehovah ons nooit sou verlaat nie.

Die klein dorpie waarheen ons geneem is, het uit tien houthuise bestaan. Ander Getuies is na verskillende dorpe regoor die taiga verban. Om die plaaslike inwoners af te skrik en hulle teen ons bevooroordeeld te maak, het die regering gesê dat die Getuies kannibale is. Die mense het egter gou agtergekom dat dit ’n leuen was en dat daar geen rede was om ons te vrees nie.

Die eerste twee maande nadat ons daar aangekom het, het ons in ’n ou huisie gebly. Maar ons moes ’n meer gepaste blyplek bou voordat die strawwe winter aanbreek. Oupa en Ouma het my en my ma gehelp om ’n baie eenvoudige woning, half bo en half onder die grond, te bou. Ons het meer as drie jaar lank daar gebly. Ons is verbied om die dorp sonder toestemming te verlaat, en toestemming is nooit gegee nie.

Na verloop van tyd is ek toegelaat om skool toe te gaan. Aangesien my godsdiensoortuiging van die ander kinders s’n verskil het, het onderwysers en medeleerlinge my dikwels vrae gevra. Oupa se oë het geblink wanneer ek huis toe gekom het en hom vertel het hoe ek ons opvattings kon verduidelik.

’n Bietjie meer vryheid

Ná die dood van die diktator Stalin in 1953 het ons lewe ’n bietjie verbeter. Ons is toegelaat om die dorp te verlaat. Ons kon toe met medegelowiges omgaan en vergaderinge bywoon in dorpe waar daar ander Getuies was wat verban is. Omdat ons nie aandag wou trek nie, het ons in klein groepe bymekaargekom. Om daar uit te kom, het ons tot 30 kilometer ver gestap, soms kniediep in die sneeu en in temperature van 40 grade onder vriespunt. Die volgende dag het ons die lang pad terug huis toe aangepak. Op pad het ons gewoonlik net ’n agurkie en ’n paar suikerklontjies geëet. Maar hoe gelukkig was ons tog, soos Dawid van die ou tyd!—Psalm 122:1.

Ek het in 1955 my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Kort voor dit het ek Lidia, ’n beskeie donkerkopmeisie, by ’n gemeentelike vergadering in ’n naburige dorpie ontmoet. Soos ons, was sy en haar gesin Getuies wat uit Moldowa verban is. Sy kon pragtig sing en het amper al 337 liedere in die liedereboek wat ons destyds gebruik het, uit die kop geken. Dit het my beïndruk want ek was ook lief vir ons musiek en liedere. In 1956 het ons besluit om te trou.

Ek het vir my pa geskryf—ons het gehoor dat hy na Magadan verban is—en ons het ons troue uitgestel totdat ons sy seën ontvang het. Kort daarna is my pa vrygelaat en kon hy by ons kom bly, waar ons in ballingskap gelewe het. Hy het ons vertel hoe hy en mede-Christene, met God se hulp, die haglike toestande in die werkkampe oorleef het. Sulke gesprekke het ons geloof versterk.

Kort nadat my pa teruggekom het, het ’n verskriklike ongeluk plaasgevind terwyl my ma olie voorberei het wat ons in verwe en vernisse gebruik het. Die groot pot kokende olie het op die een of ander manier omgeval, en die inhoud het oor haar uitgeval. Sy is in die hospitaal oorlede. Ons is oorweldig deur droefheid. My pa het met verloop van tyd oor sy smart gekom en hy is later getroud met Tatiana, ’n Getuie van ’n naburige dorpie.

Ons brei ons bediening uit

In 1958 het ek en Lidia van Kizak, die dorp waar ons gebly het, na Lebjaie, ’n veel groter dorp sowat 100 kilometer daarvandaan, getrek. Ons het gelees dat Christene in ander lande die predikingswerk van huis tot huis doen. Ons het dus probeer om dit in ons nuwe gebied te doen. Die Wagtoring en Ontwaak! is natuurlik verbied, maar ons het eksemplare gekry wat van ander plekke af ingesmokkel is. Toe is ons in kennis gestel dat ons voortaan die tydskrifte net in Russies sou ontvang. Tot op daardie tyd het ons ook eksemplare in Moldawies ontvang. Ons het dus hard gestudeer om Russies beter te verstaan. Selfs vandag nog onthou ek nie net die opskrifte van daardie artikels nie, maar ook sommige van die punte wat daarin bespreek is.

Om die pot aan die kook te hou, het Lidia by ’n graansilo gewerk en ek het hout van waens afgelaai. Die werk was vermoeiend en die lone was karig. Hoewel die Getuies hoog op prys gestel is vir hulle pligsgetrouheid, het ons nie byvoordele of bonusse ontvang nie. Amptenare het openlik gesê: “Daar is geen plek vir Jehovah se Getuies in ’n kommunistiese gemeenskap nie.” Nogtans was ons verheug dat Jesus se woorde aangaande sy volgelinge in ons geval waar was: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.”—Johannes 17:16.

Nuwe uitdagings

In 1959 is ons dogter Walentina gebore. Kort daarna het ’n nuwe vlaag van vervolging begin. The Encyclopædia Britannica sê: “Gedurende 1959-64 is ’n nuwe antigodsdiensbeweging deur die eerste minister Nikita Chroesjtsjof van stapel gestuur.” Lede van die Staatsveiligheidsdiens het vir ons gesê dat dit die Sowjetregering se doelwit was om alle godsdiens uit te wis, veral Jehovah se Getuies.

Walentina was byna ’n jaar oud toe ek vir diensplig opgeroep is. Toe ek weier om aan te meld, is ek vyf jaar tronkstraf opgelê weens my neutrale standpunt. Eenkeer, toe Lidia by my kom kuier het, het ’n KGB-kolonel vir haar gesê: “Ons het ’n kennisgewing van die Kremlin ontvang dat daar binne twee jaar nie een van Jehovah se Getuies in die Sowjetunie oor sal wees nie.” Toe het hy gewaarsku: “Jy moet jou geloof verloën, anders sal jy tronk toe gaan.” Die kolonel het gedink dat sulke dreigemente die vroue sou stilmaak en het beweer: “Hulle is maar ’n swak spul.”

Binne ’n kort tydjie is die meeste Getuiemans na tronke en werkkampe gestuur. Maar moedige Christenvroue het die predikingswerk voortgesit. Hulle het lektuur na diegene in tronke en werkkampe gesmokkel, hoewel dit baie gevaarlik was. Lidia het voor sulke toetse te staan gekom, en sy moes ook dikwels die ongewenste toenadering verduur van mans wat my afwesigheid wou uitbuit. Verder is sy vertel dat ek nooit vrygelaat sou word nie. Maar ek is!

Vrylating en verhuising na Kazakstan

My saak is in 1963 heropen, en later is ek vrygelaat—ná drie jaar in die tronk. Maar ons kon nêrens ’n verblyfpermit kry nie, en daarsonder kon ek nie werk kry nie. ’n Staatswet het gelui: “Geen permanente verblyf, geen werk nie.” Ons het Jehovah in vurige gebed om hulp gesmeek. Toe het ons besluit om na Petropawl in die noorde van Kazakstan te trek. Die plaaslike owerhede is egter reeds van ons in kennis gestel en het ons nie toegelaat om daar te bly of te werk nie. Omtrent 50 Getuies in hierdie stad het soortgelyke vervolging verduur.

Ons en ’n ander Getuie-egpaar het saam verder suid na die klein dorpie Sjtsjoetsjinsk getrek. Geen ander Getuies het daar gewoon nie, en die owerhede het niks van ons predikingswerk geweet nie. Ek en Iwan—die ander broer— het ’n week lank werk gesoek terwyl ons vrouens by die treinstasie gebly het, waar ons snags geslaap het. Uiteindelik het ons by die glasfabriek werk gekry. Ons het ’n klein kamertjie vir ons gesinne gehuur, en al het dit net plek vir twee beddens gehad, was ons tevrede.

Ek en Iwan het ons op ons werk toegelê, en ons werkgewers was baie tevrede. Teen die tyd dat ek weer vir diensplig opgeroep is, het die fabrieksbestuurder geweet dat my Bybelopgeleide gewete my nie sou toelaat om aan militêre opleiding deel te neem nie. Tot my verbasing het hy met die militêre hoof in aanraking gekom en vir hom gesê dat ek en Iwan bekwame werkers was en dat die fabriek nie sonder ons aan die gang kon bly nie. Ons is dus toegelaat om te bly.

Ons maak kinders groot terwyl ons ander dien

Ons tweede dogter, Lilia, is in 1966 gebore. ’n Jaar later het ons getrek na Beljie Wodi in die suide van Kazakstan naby die grens van Oesbekistan, waar daar ’n klein groepie Getuies was. ’n Gemeente is kort voor lank gestig, en ek is as presiderende opsiener aangestel. In 1969 het ons ’n seun, Oleg, gehad, en twee jaar later is ons jongste dogter, Natasja, gebore. Ek en Lidia het nooit vergeet dat kinders ’n erfdeel van Jehovah is nie (Psalm 127:3). Ons het bespreek wat ons moet doen om hulle groot te maak sodat hulle ’n liefde vir Jehovah sou ontwikkel.

Selfs tot in die 1970’s was die meeste Getuiemans nog steeds in werkkampe. Baie van die gemeentes het geestelik volwasse toesig en leiding nodig gehad. Ek het dus as ’n reisende opsiener gedien, terwyl Lidia ’n groter rol in die grootmaak van die kinders gespeel het en soms ma en pa moes wees. Ek het gemeentes in Kazakstan besoek, sowel as die aangrensende Sowjetrepublieke Tadjikistan, Toerkmenistan en Oesbekistan. Terselfdertyd het ek ook gewerk om die gesin te help onderhou, en Lidia en die kinders het gewillig hulle samewerking gegee.

Hoewel ek soms weke lank weg was, het ek probeer om vaderlike liefde teenoor die kinders te betoon en met hulle geestelike ontwikkeling te help. Ek en Lidia het vurig saam gebid dat Jehovah ons kinders moet help, en ons het met hulle gepraat oor hoe om mensevrees te bowe te kom en ’n hegte verhouding met God te ontwikkel. Sonder die onselfsugtige ondersteuning van my liewe vrou, sou ek nie my verantwoordelikhede as ’n kringopsiener kon nakom nie. Lidia en ons ander susters was glad nie die “swak spul” wat die leëroffisier beweer het hulle is nie. Hulle was sterk—ware geestelike reuse!—Filippense 4:13.

In 1988, toe al die kinders groot was, is ek as ’n gewone reisende opsiener aangestel. My kring het die meeste van die lande van Sentraal-Asië ingesluit. Nadat die predikingswerk van Jehovah se Getuies in 1991 in die voormalige Sowjetunie wetlik geregistreer is, het ander bekwame, geestelik ryp manne die Asiatiese republieke van die voormalige Sowjetunie begin dien. Vandag is daar 14 reisende opsieners wat in hierdie lande dien, waar daar laas jaar meer as 50 000 mense die Herdenking van Christus se dood bygewoon het!

’n Onverwagte uitnodiging

Vroeg in 1998 het ek ’n onverwagte oproep van die Russiese takkantoor van Jehovah se Getuies ontvang. “Anatoli, het jy en Lidia dit al ooit oorweeg om die voltydse diens te betree?” is ek gevra. Natuurlik het ons gedink dat so ’n voorreg dalk vir ons kinders moontlik sou wees. Trouens, ons seun Oleg het toe al ongeveer vyf jaar lank by die Russiese takkantoor gedien.

Toe ek vir Lidia vertel van die uitnodiging wat aan ons gerig is, het sy gevra: “Maar wat van ons huis, ons tuin en ons besittings?” Nadat ons daaroor gebid het en dit bespreek het, het ons besluit om ons beskikbaar te stel. Uiteindelik is ons genooi om by die godsdienssentrum van Jehovah se Getuies in Issik, Kazakstan, te dien, naby die groot stad Alma-Ata. Hier word ons Bybellektuur vertaal in die plaaslike tale wat oor die hele gebied gepraat word.

Ons gesin vandag

Hoe dankbaar is ons tog teenoor God dat hy ons gehelp het om Bybelwaarhede aan ons kinders te leer! Ons oudste dogter, Walentina, het getrou en in 1993 saam met haar man na Ingelheim, Duitsland, getrek. Hulle het drie kinders wat almal gedoopte Getuies van Jehovah is.

Lilia, ons tweede dogter, het ook ’n gesin. Sy en haar man, ’n ouer man in die gemeente van Beljie Wodi, maak hulle twee kinders groot om ’n liefde vir God te hê. Oleg het met Natasja, ’n Christensuster van Moskou, getrou, en hulle dien saam by die Russiese takkantoor naby St. Petersburg. Ons jongste dogter, Natasja, het in 1995 getrou, en sy dien saam met haar man in ’n Russiese gemeente in Duitsland.

Nou en dan kom ons vir ’n groot familiereünie bymekaar. Ons kinders vertel hulle eie kinders hoe “Mamma” en “Pappa” na Jehovah geluister het en hulle kinders grootgemaak het om die ware God, Jehovah, lief te hê en te dien. Ek kan sien dat hierdie besprekings ons kleinkinders help om geestelik te groei. Ons jongste kleinseun lyk baie soos ek toe ek sy ouderdom was. Soms klim hy op my skoot en vra hy my om vir hom ’n Bybelverhaal te vertel. Trane wel in my oë op wanneer ek onthou hoe ek dikwels op Oupa se skoot gesit het en hoe hy my gehelp het om vir ons Grootse Skepper lief te word en hom te dien.

[Voetnoot]

a Die huidige naam van die land, Moldowa, sal deurgaans in hierdie artikel gebruik word, eerder as die vorige name Moldawië of die Sowjetrepubliek van Moldawië.

[Prent op bladsy 11]

Saam met my ouers buite ons huis in Moldowa, kort voor my pa in hegtenis geneem is

[Prent op bladsy 12]

Saam met Lidia in 1959, nog steeds in ballingskap

[Prent op bladsy 13]

Lidia saam met ons dogter Walentina, toe ek nog in die tronk was

[Prent op bladsy 15]

Saam met ons kinders en kleinkinders, wat almal Jehovah dien!

[Prent op bladsy 15]

Saam met Lidia vandag