Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom word hulle bedreig?

Waarom word hulle bedreig?

Waarom word hulle bedreig?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

MAJESTUEUSE Bengaalse tiers, wildehonde, saruskraanvoëls, ou skilpaaie en Asiatiese olifante—dit is net ’n paar van Indië se diersoorte wat met uitsterwing bedreig word. Neem byvoorbeeld die grootste landsoogdier, die olifant.

Daar is ’n groot aanvraag na die olifant se ivoortande. Japan is een van die grootste verbruikers van ivoor, en die aanvraag is net so groot in China, waar ivooreetstokkies nog steeds gewild is. Hoe het die aanvraag na ivoor ’n besonder nadelige uitwerking op die Asiatiese olifant gehad?

’n Ruk gelede het The Times of India verduidelik: “Anders as die Afrika-olifante is dit slegs die Asiatiese olifantbulle, en dan net ’n klein aantal van hulle, wat ivoortande het. Volwasse bulle met ivoortande is dus die hoofteikens. Volgens die amptelike syfers word sowat ’n honderd [bulle] elke jaar in Indië doodgemaak, wat die bul:koei-verhouding versteur.” Sulke slagtings stel die voortbestaan van die spesie in gevaar.

Vir saamgeperste hare

Beskou ook die renoster, die tweede grootste landsoogdier wat vandag lewe. Indië en Nepal is die laaste gebiede waar die Indiese renoster beskerm word. Maar die Pobitara-wildreservaat in die staat Assam in Noordoos-Indië beslaan slegs sowat 38 vierkante kilometer, wat ’n betreklike klein gebied vir renosters is. Die diere dwaal dus dikwels in die nabygeleë landerye in waar hulle geskiet of vergiftig kan word.

Die mens het aan ’n slinkse manier gedink om ’n renoster dood te maak. Twee hoogspanningsdrade loop oor die Pobitara-wildreservaat. Die wilddief gebruik ’n lang bamboespaal om ’n stuk draad hieraan te haak wat tot net bo die grond hang. Die natuurbioloog Vivek Menon verduidelik wat gebeur het toe ’n renoster aan die draad geraak het: “Toe die geweldige stroom elektrisiteit deur sy liggaam vloei, het hy twee keer gehyg en net daar inmekaargesak . . . Die yslike dier het op sy sy gelê, dood binne ’n sekonde.”

Dit is hartseer dat die reusagtige dier doodgemaak word vir sy betreklike klein horing, wat ’n skamele kilogram weeg! Die enorme kommersiële waarde van die horing—saamgeperste hare wat soortgelyk is aan ’n mens se naels—het die renoster in groot gevaar gestel.

Vir shahtoosh-tjalies

Die Tibettaanse wildsbok, of chiru, se wol word shahtoosh genoem. Dit is so fyn dat ’n tjalie wat daarvan gemaak is, deur ’n ring getrek kan word wat om jou wysvinger pas. So ’n tjalie kan tot R105 000 kos, wat dit een van die duurste in die wêreld maak. Maar wat beteken dit vir die bok wat die wol dra?

“Ten minste vyf chirus moet doodgemaak word om een shahtoosh-tjalie te maak”, sê The Indian Express. Na bewering word ongeveer 20 000 chirus van die Tibettaanse plato elke jaar deur wilddiewe doodgemaak. Dit gebeur al is die dier veronderstel om deur verskillende wette in verband met bedreigde spesies beskerm te word. Boonop is daar in 1979 ’n verbod op die handel in shahtoosh-wol geplaas. Tog het die aantal chirus sedertdien bly daal.

Vir vel en been

Die oorlewing van tiers en ander wildekatte in Indië word ook bedreig. Sommige subspesies, soos die Kaspiese, die Javaanse en die Balinese tier, het vermoedelik reeds op ander plekke uitgesterf. Aan die begin van die 20ste eeu was daar ongeveer 40 000 tiers in Indië se woude. Oor die jare heen het hulle getalle afgeneem. Die rede hiervoor is dat hulle habitat stelselmatig vernietig word en dat hulle gejag word vir hulle vel en sekere bene wat glo geneeskragtige waarde in Chinese geneeskunde het.

Aangaande die uitwerking wat die tekort aan behoorlike habitat op tiers het, sê die boek The Secret Life of Tigers: “Tierbevolkings kan slegs toeneem as die woudgebied waarin hulle lewe, groter gemaak word. Wanneer dit nie gebeur nie, beperk tiers hulle eie bevolkingsgrootte deur noodlottige gevegte onder mekaar oor kos en gebied.”

Hoe vaar ander wildekatte in Indië? By ’n dieretuin in Joenagad, Goedjarat, het ’n besoeker ’n leë hok teëgekom. Op ’n bordtjie buite die hok was ’n foto van die Asiatiese jagluiperd en die volgende woorde in Goedjarati: “Die jagluiperd het in die 1950’s in Indië uitgesterf.”

Wat hou die toekoms in?

Die toekoms vir Indië se bedreigde diere lyk nie goed nie. Daar is oorvloedige bewys dat mense die aarde op selfsugtige wyse verderf, en dit sluit die vernietiging van baie van die aarde se pragtige natuurlewe in. Wat hou die toekoms in? Die gesaghebbende woord van God, wat in die Heilige Bybel opgeteken is, toon dat die tyd naby is wanneer die volgende profesie vervul sal word: “Die nasies se gramskap het ontvlam, en u [God se] eie gramskap het gekom, en die vasgestelde tyd . . . om die verderwers van die aarde te verderf.”—Openbaring 11:18.

Wat sal die gevolg wees wanneer die aarde van almal gereinig is wat dit en die wonderlike natuurlewe daarop geplunder het? Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog wees! Geen diersoort sal meer deur die mens bedreig word nie. Dit sal onder die heerskappy van God se Koninkryk plaasvind waarvoor Jesus Christus mense leer bid het.—Jesaja 11:6-9; Matteus 6:10.

[Prente op bladsy 26]

Party van Indië se bedreigde diere

Saruskraanvoël

Bengaalse tier

Asiatiese olifant

Indiese renoster

Tibettaanse wildsbok

[Erkennings]

Kraanvoël: Cortesía del Zoo de la Casa de Campo, Madrid; wildsbok: © Xi Zhi Nong/naturepl.com