Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die hanbok—Korea se nasionale drag

Die hanbok—Korea se nasionale drag

Die hanbok—Korea se nasionale drag

Deur Ontwaak!-medewerker in Die Republiek Korea

VIR Koreane is klere meer as net ’n liggaamsbedekking. ’n Voorbeeld hiervan is die tradisionele Koreaanse drag wat die hanbok genoem word.

’n Unieke ontwerp

Die hanbok bestaan uit ’n bloes in ’n bolero-styl en ’n lang romp, en het unieke proporsies. a In sommige gevalle is die romp vier keer langer as die bloes. Gevolglik lyk selfs ’n kort vrou langer daarin.

Die hanbok het sagte kurwes en eenvoudige lyne. Die bloes se moue maak oop soos vlerke, en die romp klok van die bors af uit en val elegant na onder. Die bors word beklemtoon deur ’n ongewone strik waarvan die twee punte aan die voorkant van die bloes afhang van die knoop af tot amper by die enkels. Op baie hanbokke is daar ook pragtige geometriese en blomontwerpe om die moue en nek van die bloes asook op die romp geborduur. Ja, die hanbok se proporsies, lyne en kleure maak dit waarlik elegant!

’n Veelsydige uitrusting

Die praktiese ontwerp van die hanbok maak dit nog mooier. Aangesien die hanbok gewoonlik van natuurlike vesel gemaak word, kan dit maklik heeljaar gedra word. ’n Hanbok wat byvoorbeeld van plantvesel soos ramie of hennep gemaak word, bied goeie ventilasie, wat help om die draer daarvan gedurende die somer koel te hou, al word die grootste deel van die liggaam deur die hanbok bedek. Ander soorte materiaal help om ’n mens warm te hou, wat dit meer geskik maak vir die winter.

Die hanbok is ook gemaklik. Hierdie eienskap het min te doen met die mode, maar spruit voort uit ’n praktiese behoefte wat eeue gelede bestaan het toe perde nog baie in hierdie streek gebruik is. Die boek Culture & I sê: “Die klere is ontwerp sodat dit vir die koue klimaat en vir jagdoeleindes en nomadiese bedrywighede geskik sou wees.” Koreaanse perderuiters het dus enige klere vermy wat hulle vryheid van beweging beperk het. Ja, Koreane wat vandag graag die hanbok dra, is dank verskuldig aan hulle voorvaders vir die fisiese gemak wat dit bied!

Nog ’n interessante kenmerk van die hanbok is die eeue oue tradisie om van kleure gebruik te maak wat simboliese betekenis het. In die verlede het die Koreaanse heersersklas dikwels pragtig gekleurde uitrustings gedra, terwyl die kleinboere meestal wit gedra het. Ook kon ’n ongetroude vrou geïdentifiseer word as sy ’n kombinasie van geel en rooi gedra het. Ná haar troue het die kleur van haar hanbok haar man se sosiale status weerspieël. Deesdae is die bruid se moeder veronderstel om ’n pienk uitrusting na die troue te dra, terwyl die bruidegom se moeder gewoonlik blou dra. Hierdie gebruik maak dit beslis maklik om hulle uit te ken.

Die hedendaagse hanbok

Ná die Koreaanse Oorlog (1950-53) is ’n modernisasieveldtog onderneem. Gevolglik het die hanbok teen die 1970’s uit die mode geraak en is dit deur Westerse kleredrag vervang. Wat dus eens op ’n tyd ’n alledaagse, informele uitrusting was, is weggebêre en slegs vir troues, vakansiedae en ander spesiale geleenthede uitgehaal.

In onlangser tye het die hanbok egter ’n herlewing ondergaan. In 1996 is daar byvoorbeeld probeer om die styl weer gewild te maak toe die eerste Saterdag van elke maand verklaar is as “die dag om ’n hanbok te dra”. Klerevervaardigers het nuwe hanbokke bekend gestel wat spesifiek vir die jeug ontwerp is. Blykbaar bied dit ’n soort emosionele bevredigend om na tradisionele dinge terug te keer, want die moderne hanbok het groot byval gevind. In ’n tyd waarin baie van die nuutste style sensualiteit beklemtoon, is die hanbok ’n verfrissende voorbeeld van mooi en beskeie kleredrag.—1 Timoteus 2:9.

[Voetnoot]

a Hoewel daar hanbok-style vir mans en vroue is, handel ons bespreking oor dié vir vroue.