Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die immergewilde ui

Die immergewilde ui

Die immergewilde ui

Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko

Wat sou ons sonder die ui gedoen het? Hierdie meerdoelige groente kan vir omtrent enigiets gebruik word—in soppe, slaaie, hoofdisse, medisinale preparate. Dit kan ons selfs ’n bietjie laat huil.

Die ui, ’n familielid van plante met pragtige blomme—soos die goue-ui, die knoffelgrasui en die sierknoffel—dra self pragtige blomme. Maar dit is die bol, basies ’n ondergrondse knol met geswelde blaarskedes, wat in feitlik elke kombuis in die wêreld aangetref word.

Hierdie groente is een van die oudste gewasse wat deur die mens gekweek word. Die Bybelverslag gee vir ons ’n aanduiding van hoe algemeen dit gebruik is, want dit toon dat die nasie Israel teen ongeveer die jaar 1513 v.G.J. verlang het na die uie wat hulle geëet het toe hulle slawe in Egipte was.—Numeri 11:5.

Maar waarom het die smaak van uie soveel byval by mense van uiteenlopende kulture gevind? Dit is ongetwyfeld die swaelverbindings daarin, wat die skerp geur daarvan so besonders maak. En sulfeensuur vorm die hoofbestanddeel wat veroorsaak dat ’n mens se oë traan.

Nie net smaaklik nie

Uie is voordelig vir die mensdom se gesondheid. Dit bevat voedingstowwe soos kalsium, fosfor en askorbiensuur, oftewel vitamien C. Maar deur die geskiedenis heen is uie in die besonder hoog op prys gestel vir hulle medisinale eienskappe. Uie word nou nog gebruik om sekere siektes te behandel, waaronder verkoues, laringitis, aterosklerose, koronêre hartsiekte, suikersiekte en asma. Daar word ook gesê dat die ui ’n antiseptiese, anti-inflammatoriese en antitrombotiese uitwerking het, asook dat dit cholesterol en kanker teëwerk.

Uie kom in verskillende kleure—wit, geel, bruin, groen, rooi en pers. ’n Mens kan dit vars, gekook, geblik, ingelê, gedroog, gepoeier, in vlokkies of in blokkies eet. Is die ui nie ’n wonderlike groente nie—selfs al laat dit jou ’n paar trane stort?