Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die stryd teen vetsug—Is dit die moeite werd?

Die stryd teen vetsug—Is dit die moeite werd?

Die stryd teen vetsugIs dit die moeite werd?

ONTWAAK! het met verskeie mense gepraat wat ’n stryd teen vetsug gevoer het. Het hulle goeie resultate gehad? Wat stel hulle vir ander slagoffers van hierdie epidemie voor?

Kom ons gesels met Mike, wat 46 jaar oud en 1,83 meter lank is en tans 130 kilogram weeg. Die swaarste wat hy nog geweeg het, was 157 kilogram.

Mike: “Selfs as ’n jongmens was ek oorgewig. Dis ’n familieprobleem—my broer en my susters is almal oorgewig. Ons het altyd alles op ons bord geëet, al was dit oorlaai. Wat het my my eetgewoontes laat verander? Die dokter het vir my gesê dat ek ’n hoë risiko loop om suikersiekte te kry! Die gedagte dat ek my hele lewe lank insulien sou moes gebruik, het my regtig bang gemaak. Ek het ook ’n ernstige cholesterolprobleem gehad en moes medisyne daarvoor neem.

“My werk het nie veel fisiese aktiwiteit vereis nie, en dit is nog steeds die geval. Om daarvoor te vergoed, het ek dus ’n vaste oefenprogram, wat insluit dat ek ten minste drie keer per week ’n halfuur lank op ’n trapmeul oefen. Die volgende noodsaaklike stap was om neer te skryf wat ek elke dag geëet het. Die feit dat ek geweet het dat die dieetkundige elke week my lys sou nagaan, het my gehelp om selfbeheersing aan die dag te lê. Ek het geredeneer: ‘As jy dit nie eet nie, hoef jy dit nie neer te skryf nie!’

“Ek het dus oor die afgelope 15 maande [28 kilogram] afgeskud, maar ek moet nog gewig afskud, aangesien ek [102 kilogram] wil bereik. Om dit te doen, het ek peuselkos, aartappelskyfies en kasserols uitgesny. Ek het in die afgelope paar maande meer slaai en groente geëet as wat ek in my hele lewe geëet het!

“’n Ander faktor wat my beweeg het om gewig te verloor, is die feit dat ek elke jaar ’n mediese ondersoek moet ondergaan voordat ek my lisensie as ’n vragmotorbestuurder kan hernieu. My lisensie was op die spel omdat ek die risiko geloop het om suikersiekte te kry. Nou het dinge verander. Ek hoef nie meer medisyne te neem om my cholesterol te beheer nie. My bloeddruk is laer, en ek drink minder medisyne daarvoor. Ek het meer energie, en selfs my kwaai rugprobleem is nie meer so erg nie. Ek kom ook geleidelik uit die vetsugkategorie!”

Ontwaak!: “Kan ’n mens se vrou jou help om gewig te verloor?”

Mike: “Wanneer jy teen oorgewig stry, het jy iemand nodig om jou by te staan. My vrou het gedink dat sy liefde aan my betoon deur my baie kos te gee. Maar nou help sy my om kleiner porsies te eet. Ek kan nie bekostig om oorgerus te raak nie, want anders sal ek kort voor lank weer gewig begin optel.”

Kom ons kyk na nog ’n geval; sy naam is ook Mike, van Kansas, VSA. Hy is 43 jaar oud en is 1,73 meter lank. Ons het hom gevra oor die oorsake van sy gewigsprobleem en hoeveel hy geweeg het toe hy op sy swaarste was.

Mike: “Die swaarste wat ek geweeg het, was omtrent [135 kilogram]. Ek was altyd moeg en het nie energie gehad om enigiets te doen nie. Weens asemhalingsprobleme kon ek nie slaap nie. Ek het dus dokter toe gegaan, en hy het obstruktiewe slaapapnee as een van die oorsake van my gewigsprobleem gediagnoseer. a Hy het ook gevind dat ek hoë bloeddruk het.”

Ontwaak!: “Wat was die oplossing vir jou probleme?”

Mike: “Die dokter het aanbeveel dat ek ’n toestel gebruik wat voortdurende positiewe lugwegdruk voorsien wanneer ek slaap. Op dié manier bly my keel oop en kan ek normaal asemhaal. As gevolg daarvan, het ek gedurende die dag meer aktief geword en gewig begin verloor. Ek het ook drie keer per week op ’n trapmeul begin oefen. Ek het op ’n dieet gegaan, wat beteken het dat ek kleiner porsies moes eet en ’n tweede bord kos moes vermy. Ek het nou in net meer as ’n jaar [20 kilogram] verloor, en ek moet nog [20 kilogram] verloor. Dit is ’n stadige proses, maar ek weet ek kan dit regkry.”

Ontwaak!: “Watter ander motivering het jy gehad om gewig te verloor?”

Mike: “Dit is nie lekker om na kwetsende of onvriendelike aanmerkings oor jou voorkoms te luister nie. Mense is geneig om te dink dat jy net lui is. Hulle besef nie dat vetsug verskeie oorsake kan hê nie. Ek dink dat my probleem gedeeltelik toegeskryf kan word aan oorgeërfde faktore, aangesien die meeste van my familie gewigsprobleme het.

“Maar ek besef dat ek aktief moet bly en my dieet streng moet beheer om gewig te verloor.”

Ontwaak! het ook ’n onderhoud met die 38-jarige Wayne van Oregon gevoer. Toe hy 31 was, het hy 112 kilogram geweeg.

Wayne: “Ek het ’n onaktiewe werk gehad en nie geoefen nie. Toe ek dokter toe is, was ek geskok om uit te vind dat ek hoë bloeddruk het en die gevaar loop om hartprobleme op te doen. Hy het my na ’n dieetkundige verwys. Sy het my op ’n streng oefenprogram gesit en vir my ’n dieet met vasgestelde porsies uitgewerk. Ek het elke dag vyf kilometer gestap, en ek het elke oggend vroeg opgestaan om te oefen. Ek moes nuwe eet- en drinkgewoontes aanleer. Ek het gemorskos uitgesny, minder brood geëet en koeldrank gedrink en dit vervang met meer vrugte en groente. Nou weeg ek net [80 kilogram]!”

Ontwaak!: “Watter voordele het jy opgemerk?”

Wayne: “Ek voel gesonder en geniet weer die lewe. Voorheen het dit gevoel asof ek nie werklik lewe nie, asof ek besig was om te stagneer. ’n Ander voordeel is dat ek nie meer medisyne vir hoë bloeddruk hoef te gebruik nie. En ek kan mense in die oë kyk, want dit voel nie of hulle my veroordeel weens my gewig nie.”

Charles (nie sy regte naam nie) is 1,96 meter lank. Die swaarste wat hy nog geweeg het, was 168 kilogram.

Charles: “Ek het ernstige gesondheidsprobleme gehad, en dit het erger begin word. Ek kon nie trappe klim nie. Ek het nie die nodige energie gehad om my werk te doen nie. My werk vereis nie baie fisiese aktiwiteit nie en dit behels navorsing en verantwoordelikheid. Ek het geweet dat ek iets omtrent my gewig moes doen, veral nadat ek by my dokter was. Hy het my gewaarsku dat ek ’n beroerte gaan kry. Ek het al gesien wat dit aan ’n mens doen. Dit het my daarvan oortuig dat ek iets moes doen. My dokter het voorgeskryf dat ek onder toesig op ’n trapmeul oefen, en ek is ’n streng dieet gegee om te volg. Nou, ná ongeveer ’n jaar, weeg ek [136 kilogram], maar ek weet dat ek nog gewig moet verloor. Die voordele wat ek reeds gesien het, oortuig my dat dit die opoffering en die moeite werd is. Ek kan nou trappe klim, en ek het meer energie.”

Marta, wat oorspronklik van El Salvador kom, het 83 kilogram geweeg. Dit het haar, vir haar lengte van 1,65 meter, in die vetsugkategorie geplaas.

Marta: “Ek het na ’n dokter toe gegaan, en hy het my sterk aangeraai om gewig te begin verloor. Ek het sy professionele mening gerespekteer. Hy het my na ’n dieetkundige verwys om raad te kry. Die dieetkundige het die besonderhede van die program wat ek sou volg, aan my verduidelik. Sy het my gewys hoe om my porsies te beperk en minder te eet. Aanvanklik moes ek haar elke week besoek sodat sy kon sien hoe ek vaar, en later het ek dit elke maand gedoen. Die dokter sowel as die dieetkundige het my geprys omdat ek so goed gedoen het. Uiteindelik het ek [12 kilogram] verloor, en ek hou my gewig nou op [68 kilogram].”

Ontwaak!: “Wat van oefening en medikasie?”

Marta: “Ek het nie ’n cholesterolprobleem gehad nie, en ek het nie medisyne nodig gehad nie. Ek het wel begin om elke dag meer dikwels flink te stap.”

Ontwaak!: “Wat het jy gedoen wanneer jy vriende besoek het en hulle druk op jou geplaas het om meer as jou gewone porsies te eet?”

Marta: “Ek het net vir hulle gesê: ‘My dokter wil hê dat ek hierdie dieet volg vir my gesondheid’, en dan het hulle gewoonlik nie daarop aangedring nie.”

Wat kan jy dus daaromtrent doen as jy oorgewig is of aan vetsug ly? Die ou gesegde geld: “Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.” Het jy die motivering en die wilskrag om iets daaromtrent te doen? Wat is jou opsies as jy ’n kind of volwassene is wat oorgewig is? Verloor gewig of verloor moontlik jare van jou lewe. Begin ’n aktiewe lewenswyse volg, en wees bly oor wat jy bereik het—selfs oor klein dingetjies, soos kleiner klere!

[Voetnoot]

a Vir verdere inligting oor slaapapnee, sien die Ontwaak! van 8 Februarie 2004, bladsye 10-12.

[Venster op bladsy 11]

Is vetuitsuiging die oplossing vir jou?

Wat is vetuitsuiging? Een woordeboek definieer dit soos volg: “Dit is gewoonlik ’n kosmetiese operasie waartydens oortollige vetweefsel deur middel van uitsuiging verwyder word van ’n spesifieke liggaamsdeel, soos die dye of die maag” (American Heritage Dictionary). Maar beteken dit dat dit ’n oplossing is vir vetsug?

Die boek Mayo Clinic on Healthy Weight sê dat vetuitsuiging kosmetiese chirurgie is. Dit is nie ’n program vir gewigsverlies nie. Vetselle word uit die liggaam gesuig deur middel van ’n dun buis wat onder die vel ingesteek word. Etlike kilogramme kan in een sessie verwyder word. Maar “die operasie is nie ’n behandeling vir vetsug nie”. Is dit veilig? “Mense met sekere gewigsverwante mediese toestande, insluitende suiker- en hartsiekte, loop groter gevaar om komplikasies as gevolg van vetuitsuiging te hê.”