Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek was ’n Kickapoo- geestelike leier

Ek was ’n Kickapoo- geestelike leier

Ek was ’n Kickapoo- geestelike leier

SOOS VERTEL DEUR BOB LEE WHITE SR.

Ek is in 1935 naby McLoud, Oklahoma, VSA, gebore, in ’n wickiup, ’n klein Indiaanse hut wat bestaan uit ’n raamwerk bedek met ’n mat van boombas en papkuil. My “Kickapoo”- Indiaanse naam is Pay-MEE-Ton-Wah, wat “Water wat verbygaan” beteken. a Ek is aan die geestelike lewe van die Indiane bekend gestel toe ek ’n nog klein seuntjie was. Hoe het dit gebeur?

MY OUPA aan my ma se kant was, soos sy pa, jare lank die geestelike leier van die Water-familiegroep van die Kickapoo-Indianestam in Oklahoma. Toe hy sonder ’n seun sterf, het die 12 familiehoofde, of oudstes, bepaal dat die oudste seun van die oudste dogter van hulle afgestorwe geestelike leier daardie plek moes inneem. Ek was daardie seun.

Hoe ek ’n geestelike leier geword het

Gewoonlik sou ’n nuwe geestelike leier nie daardie amp beklee voordat hy 30 jaar oud was nie, en dan slegs ná ’n vastyd, waartydens hy visioene sou sien of op ’n ander manier verlig sou word sodat hy geestelike seremonies kon waarneem. Vandat ek ’n klein seuntjie was, is ek die tradisionele godsdiens van die Kickapoo-stam geleer. Ek het die godsdienstige klere en die MEE-shon, of heilige bondel, geërf. Dit word ook soms ’n medisynebondel genoem en is ’n versameling godsdiensvoorwerpe wat in dierevelle toegedraai is. Dit is ongeveer 60 sentimeter lank en lyk soos ’n Amerikaanse voetbal of rugbybal. Ek het baie tyd in die allerheiligste deel van hulle geestelike tent deurgebring, waar ek na die openbarings van stamhoofde geluister het. So het ek dan as kind die nuwe geestelike leier van die Kickapoo-stam geword.

Al hierdie opleiding het ’n diep indruk op my jong verstand gemaak. Aangesien nie een van hierdie geheime neergeskryf is nie, is die godsdienstradisies van baie geslagte aan my alleen toevertrou. As dit destyds van die familiehoofde afgehang het, sou ek net daar saam met die stam gebly het en tot vandag toe elke geestelike seremonie waargeneem het.

Ek is egter na ’n skool in Kansas toe. Die oudstes was bekommerd hieroor, omdat hulle bang was dat hulle my aan “die witman se wêreld” sou moes afstaan. Nadat ek skool verlaat het, is ek na Los Angeles, Kalifornië, waar ek weer vir Diane ontmoet het, wat gedurende my kinderjare my meisie was. Haar Indiaanse naam is Tu-NO-Thak-Quah, oftewel Draaiende Beer, van die Beer-familiegroep. Ons ma’s en oupas was al jare lank vriende. Ons is in September 1956 getroud. Diane het ook ’n godsdienstige agtergrond gehad. Haar oupa het die Pejote-godsdiens aan die Kickapoo-stam bekend gestel.—Sien die venster op bladsy 22.

Die Pejote-godsdiens

Die Pejote-godsdiens word vandag onder verskeie Indianestamme gevind. Dit was Quanah Parker (ongeveer 1845-1911), ’n geestelike leier en hoof van die Comanche-Kwahadi-afdeling, wat “’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling en verspreiding van die Pejote-godsdiens in die Indiaanse gebied” (The Encyclopedia of Native American Religions). Hy het die hallusinatoriese eienskappe en vermeende genesingskrag van die pejote-kaktus geesdriftig verkondig, en sodoende mense uit talle Noord-Amerikaanse Indianestamme tot die Pejote-godsdiens bekeer. In die Kickapoo-stam, soos in ander stamme, het die tradisionele godsdiens en die Pejote-godsdiens dus sy aan sy bestaan.

Deur Hollywood bekoor

Terwyl ek in die Los Angeles-omgewing was, het ek aktief betrokke geraak by sosiale klubs en verenigings vir Indiane, en ek het die president van ’n paar van hulle geword. Onder hulle was die Drom en Veer-klub, die Kegelbalvereniging vir Indiane en die Nasionale Atletiekvereniging vir Indiane. Ek was ook op die direksie van die Indianesentrum in Los Angeles.

Ek het in Hollywood-kringe begin beweeg. Van die mense met wie ek kennis gemaak het, was Iron Eyes Cody, wat goed bekend was vir sy televisie-aankondigings oor die ekologie, en Jay Silverheels, wat die rol van die Indiaan genaamd Tonto gespeel het in die TV-reeks The Lone Ranger. Van die bekendste rolprente waarin ek gespeel het, was Westward Ho, the Wagons! met Fess Parker in die hoofrol en Pardners, waarin Dean Martin en Jerry Lewis gespeel het.

Ek en Diane het albei ’n ruk lank by Disneyland gewerk. Ek het die hele dag lank elke uur in ’n toneeltjie van tien minute opgetree. Diane sê met ’n glimlag: “Al wat ek moes doen, was om ’n kostuum aan te trek en tussen die mense rond te loop terwyl ek maak asof ek ’n Indiaan is.”

’n Ander geestelike benadering

In 1962 het een van Jehovah se Getuies met Diane in aanraking gekom en vir haar ’n boekie gegee. Die Getuie het gereeld teruggekom, maar Diane het altyd verskonings gehad. Toe die Getuie haar vra of sy liewer moes ophou om haar te besoek, het Diane gedink: ‘Ja! Ja!’ Maar omdat sy nie onvriendelik wou wees nie, het sy gesê: “O, nee! Nee!” Die besoeke het dus voortgeduur. Sy het my altyd vertel wat sy geleer het. Wanneer sy soms vergeet het om iets te noem, het ek gevra: “Was daardie dame, die Jehovah se Getuie, hier? Wat het sy gesê?”

By een geleentheid het die dame Diane van ’n spesiale toespraak vertel wat by ’n vergadering van Jehovah se Getuies in die Los Angeles-forum gehou sou word. Sy het aangebied om na ons vier kinders te kyk terwyl ons na die toespraak gaan luister. Diane het gedink dat ek nie sou wou gaan nie, en daarom het sy nie eens daarvan melding gemaak nie. Maar nadat die Getuie haar herhaaldelik gevra het, het sy my daarvan vertel. Tot haar verbasing het ek gesê: “Jy bedoel sy sal hier bly, na ons kinders kyk en vir hulle kos gee? Hierdie wit vrou?”

So het dit gekom dat ons in 1969 na ons eerste vergadering toe is. Ek het nie alles verstaan wat van die verhoog af gesê is nie. Wat my egter baie beïndruk het, was die organisasie—dat vrywilligers binne so ’n kort tydjie middagete aan 20 000 mense kon bedien deur middel van hulle kafeteria-reëling. Ek het ook gesien dat daar nie rassevooroordeel is nie—swart mense en wit mense het mekaar broer en suster genoem.

In Augustus 1969 het die Getuies ’n Bybelstudie met my begin hou uit die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. b Ek moet erken dat ek met bedekte beweegredes tot ’n Bybelstudie ingestem het. Ek was lid van ’n aantal Indiane-organisasies, en ek wou in die toekoms ’n politieke loopbaan volg. Ek het gedink dat ek die Bybel moet leer ken omdat die politici dit blykbaar geken en daaruit aangehaal het. Nou besef ek hoe min baie van daardie mans werklik van God se Woord geweet het.

’n Groot verandering in my lewe

Toe ek eers die Bybel begin studeer het, het ek vinnig vordering gemaak. Ek het by al die klubs en verenigings waaraan ek verbonde was, bedank en besef dat ek my bande met my voormalige Indiaanse godsdiens moes verbreek. Ek onthou nog hoe ek gaan sit en my bedankingsbrief geskryf het. Ek het die datum boaan die bladsy geskryf en toe begin met “Geagte”, waarna ek lank gesit en wonder het vir wie ek die brief moes skryf. Ek het uiteindelik besef dat dit aan die tradisionele geestelike leier gerig moes word—aan my! Ek het vinnig uit hierdie penarie gekom deur te skryf “Liewe Ma”. Ek het my ma toe laat weet dat ek voortaan nie meer daardie geloof sal beoefen of as die geestelike leier daarvan sal optree nie.

Ek en my vrou is albei op 3 Januarie 1970 as Jehovah se Getuies gedoop. In 1973 het ek ’n ouer man in die gemeente geword. Stel jou net voor dat ek, ’n voormalige Kickapoo- geestelike leier, nou die leiding in ons plaaslike gemeente geneem het in ware aanbidding van Jehovah, die Universele Soewerein. In Julie 1974 het ons teruggetrek na McLoud, Oklahoma, sodat ons die Indiane kon help om te leer van die ware hoop vir die ganse mensdom, soos uiteengesit in God se Woord, die Bybel.

Soos ander stamme, het die Kickapoos tabak in hulle aanbidding gebruik. Dit is interessant dat hulle dit nie gerook het nie. Die Kickapoos het tabak as reukwerk op die vuur gesprinkel en geglo dat hulle gebede deur middel van die rook wat gevorm word, na die hemel toe sal opgaan. Die oudste leiers onder die Kickapoos het geglo dat dit sonde is om tabak te rook, dat dit ’n bespotting was om dit met ’n pyp te doen en dat die gebruik van ’n pyp van Europese oorsprong is.

Ek is al gevra of ek enige foto’s het van my in my voormalige godsdiensdrag. In werklikheid is geen foto’s ooit toegelaat nie, uit vrees vir wat daarmee gedoen kon word deur diegene wat towery beoefen. Wanneer my hare gedurende daardie jare gesny is, is dit altyd begrawe, en niemand anders is toegelaat om daaraan te raak nie. Sodoende kon dit nie in towery gebruik word nie, iets wat vir die Indiane ’n baie ernstige saak is.

Nadat ek my aan die Kickapoo-godsdiens onttrek het, het die familiehoofde as geestelike leiers van die stam begin dien. Toe die oorspronklike 12 wat my gekies het, gesterf het, het nuwe familiehoofde hulle plek ingeneem, en mettertyd het hulle veranderinge in die godsdiens aangebring. Op die oomblik is daar net een familiehoof wat nog leef, en hy is al oud. Ek is geensins van plan om dit wat ek as ’n seuntjie geleer is, aan ander oor te dra nie.

Ek probeer nou om God se Woord aan mense van alle nasies en stamme te leer. As ’n voltydse pionierbedienaar het ek die voorreg gehad om mense in baie Indianereservate regoor die Verenigde State omtrent die Bybel te leer. Ek het onder meer die Osage in Oklahoma en die Mohave, Hopi en Navajo in Arizona besoek. Ek vertel graag vir ander Amerikaanse Indiane dat die “Ewige jagvelde”, ’n uitdrukking wat al lank deur ons gebruik word met verwysing na die lewe ná die dood, die aandag vestig op “veld”. Dit gee dus te kenne dat hulle in werklikheid daarna uitsien om eerder hier op die aarde te lewe as in die hemel. Ek sien uit na die opstanding van baie Indiane van vroeëre geslagte sodat ek die geleentheid kan hê om hulle van God se nuwe wêreld te leer.—Johannes 5:28, 29; 2 Petrus 3:13.

[Voetnote]

a Die naam Kickapoo word afgelei van die woord kiikaapoa, “mense wat rondbeweeg”.—Encyclopedia of North American Indians.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 22]

Wat is die Pejote-godsdiens?

Die Pejote-godsdiens staan vandag bekend as die Amerikaanse Indianekerk. Die pejote is ’n klein doringlose kaktus (sien regs) wat hoofsaaklik in die Rio Grande-vallei in Mexiko asook in Texas gevind word. Die Pejote-godsdiens het meer as 200 000 lidmate onder die Noord-Amerikaanse stamme. “[Dit] het sy oorsprong in die prehistoriese Mexiko gehad en bevat vandag elemente van die Christelike godsdiens hoewel dit nog steeds ’n pan-Indiaanse godsdiens is” (A Native American Encyclopedia—History, Culture, and Peoples). Die twee vernaamste seremonies in die Pejote-godsdiens is die Halfmaan en die Grootmaan. Albei bevat “aspekte van die Indiaanse kultuur en die Christelike godsdiens”. Die Pejote-seremonie begin gewoonlik op ’n Saterdag en duur die hele nag, waartydens ’n groep manne in ’n kring in ’n tipi sit. Hulle hallusineer terwyl hulle die bitter knoppies of botsels van die pejote-kaktus eet en gewyde liedere dreunsing op die maat van ’n trom en die ritmiese geratel van ’n kalbas.

[Erkenning]

Courtesy TAMU Cactus Photo Gallery

[Prent op bladsy 21]

Aangetrek soos ’n “Kickapoo”-kryger

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou, Diane, vandag