Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om die trauma van ’n terreuraanval die hoof te bied

Hoe om die trauma van ’n terreuraanval die hoof te bied

Hoe om die trauma van ’n terreuraanval die hoof te bied

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

OP 11 Maart 2004 is die stad Madrid, Spanje, geskud deur die slag van tien bomme wat by drie verskillende treinstasies ontplof het. ’n Gelyktydige aanval op vier passasierstreine het sowat 190 mense se lewens geëis en 1 800 gewond.

Aangesien die bomme in die oggend gedurende spitstyd ontplof het, was al die treine stampvol en was die verwoesting verskriklik. “Die ontploffing was so groot dat ek gesien het hoe ’n hele spoorwa ’n meter hoog in die lug in spring”, het Aroa, ’n ooggetuie, gesê. “Toe ek uit die spoorwa klim, het dit soos ’n oorlogsone om my gelyk. Dit was skrikwekkend om so ’n bloedbad in die werklike lewe te sien.” Dieselfde grusame gebeure het op vier verskillende treine en in tien verskillende spoorwaens plaasgevind. Terroriste het rugsakke vol plofstof op die treine gelos en dit toe met selfone laat ontplof.

Party van die passasiers kan gelukkig nie die verskriklike gebeurtenisse wat hulle deurgemaak het, onthou nie. Maar honderde van hulle, soos Aroa, moet met die fisiese sowel as die emosionele letsels saamleef. “Die ontploffing het my gehoor erg beskadig”, sê Aroa, “maar die verskriklike beelde wat by my spook, het ’n baie groter uitwerking op my.

“Gelukkig het ek, as een van Jehovah se Getuies, baie emosionele ondersteuning ontvang”, het Aroa bygevoeg. “Telefoonoproepe en boodskappe van oor die hele wêreld het my herinner dat ons waarlik ’n wêreldwye broederskap is. Daarbenewens help die Bybel ons om te verstaan waarom hierdie gruweldade gepleeg word. Ek het aan sommige van my kollegas verduidelik dat die Skrif voorspel het dat mense ‘in die laaste dae’ wreedaardig en sonder natuurlike geneentheid sou wees. Ek het ook gevind dat my voltydse bediening van onskatbare waarde is en help om die pyn te verlig.”—2 Timoteus 3:1-3.

Pedro was een van baie passasiers wat ernstige beserings opgedoen het. Hy het minder as vier meter van die bom af gestaan wat in sy spoorwa ontplof het. Die ontploffing het hom teen die grond gegooi, wat kopbeserings en ernstige asemhalingsprobleme veroorsaak het. Ná vyf dae in die waakeenheid het hy begin herstel. ’n Groot aantal mede-Getuies het hom kom besoek en hom opgebeur, en dit het ook die verpleegsters verbaas. “Ek het in die afgelope 26 jaar nog nooit gesien dat iemand soveel besoeke en geskenke ontvang nie!” het een verpleegster gesê. Aan die ander kant het Pedro net lof vir die hospitaalpersoneel gehad. “Hulle was wonderlik”, het hy gesê. “Hulle het baie tot my herstel bygedra.”

Baie van die slagoffers was immigrante wat onlangs na Spanje verhuis het. Manuel, ’n Kubaan, is deur die eerste ontploffing by die Atocha-stasie beseer en toe deur die tweede ontploffing bewusteloos gelaat. “Die paniekbevange mense het my vertrap terwyl ek uitgestrek op die perron gelê het”, het hy verduidelik. “Toe ek weer bykom, het ek twee gebreekte ribbes en ’n beenbesering gehad, en ek was heeltemal doof in die een oor.

“Die nooddienste—polisie, ambulanse en brandweermanne—was binne minute op die toneel, en hulle het ons die beste hulp moontlik gegee”, het Manuel bygevoeg. “Hulle het presies geweet wat om te doen, en hulle bekwaamheid en professionele optrede het gehelp om die paniek te verminder. Hulle het nie net seker gemaak dat ek die nodige mediese hulp kry nie, maar het hulle ook vriendelik oor my ontferm.”

Posttraumatiese skok

Soos Aroa, het Manuel ernstige emosionele letsels opgedoen. “Toe ek onlangs op ’n trein geklim het, het ek ’n paniekaanval gekry”, het hy erken. “Ek moes onmiddellik afklim. En ek word nog steeds agterdogtig wanneer ek openbare vervoer gebruik en iemand sien wat ’n rugsak of iets soortgelyks dra. Maar ek het baie meer hulp as ander ontvang, selfs al het ek geen familie in Spanje nie. Letterlik honderde Getuies het my gebel, en ’n Getuie-gesin het my genooi om ’n paar dae by hulle te kom bly sodat ek nie eensaam sou voel nie. Hierdie waardevolle ondersteuning van ons wêreldwye broederskap het my gehelp om te kalmeer.”

Sergio, ’n passasier wat nie fisies beseer is nie, ly nog elke dag weens die tonele wat hy oral om hom gesien het. ’n Bom het in die treinwa voor hom ontplof en nog een in die treinwa net agter hom. Soos Manuel, is hy dankbaar vir die ondersteuning van sy familie en mede-Getuies. “Hulle het my nie net geliefd laat voel nie, maar my ook daaraan herinner dat ek aan ’n verenigde broederskap behoort wat vir elkeen van sy lede omgee”, het hy gesê. “Ek het dag na dag hierdie ondersteuning gekry, en al die telefoonoproepe het dit vir my moontlik gemaak om my gevoelens uit te druk, iets wat nie altyd vir my maklik is nie.”

Party passasiers op die treine het ander soorte angs ondervind. Diego het, sonder dat hy geweet het, langs een van die vier bomme gesit wat nie ontplof het nie. Hy het ongedeerd van die trein afgeklim. “Maar nou voel ek skuldig dat ek nie diegene wat beseer is, probeer help het nie”, het hy erken. “Ek was deur die paniek meegesleur, tesame met honderde mense wat so vinnig as wat hulle kon by die stasie uitgestorm het.”

Die ontploffing het Ramón, ’n jong man van Brasilië, in so ’n toestand van skok gelaat dat hy skaars kon beweeg. Nietemin het hy twee dae ná die aanval besluit om aan die verkondiging van die Koninkryksboodskap deel te neem. Ramón het ’n Portugese man ontmoet wat gesê het dat hy na die ware godsdiens soek. Ramón het ’n Bybelstudie met die man begin, en hy het onmiddellik die Christelike vergaderinge begin bywoon. “Wanneer jy ander geestelik kan help, voel jy self beter”, het Ramón gesê.

Al die slagoffers sal ongetwyfeld tyd nodig hê om te herstel van die fisiese en emosionele wonde wat hulle opgedoen het. Ons lewe ongelukkig in ’n tyd waarin sinlose geweld op enige plek kan uitbreek. En hoewel geestelike waardes slagoffers kan help om die trauma die hoof te bied, kan net God se Koninkryk hierdie rampe vir goed uit die weg ruim.—Openbaring 21:3, 4.

[Venster/Prente op bladsy 15]

GEESTELIKE KRAG OM TRAUMA DIE HOOF TE BIED

Manuel Suárez

“Terwyl ek nog in skok was en gewag het om hospitaal toe te gaan, het ek die hele tyd gedink aan die woorde in Spreuke 18:10: ‘Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.’ Daardie woorde het my versterk.”

Aroa San Juan

“Wanneer ’n mens so iets deurmaak, besef jy meer as ooit dat ons in die laaste dae lewe en dat ons op geestelike waardes moet fokus. Danksy my voltydse diens is ek stadigaan besig om die trauma te verwerk.”

Fermín Jesús Mozas

“Ten spyte van my kopbeserings was ek nog in staat om sommige van my medepassasiers te help en gerus te stel. Ek dink dat die opstandingshoop wat God ons gegee het, my gehelp het om kalm te bly—’n hoop wat ons op tye soos hierdie versterk.”

Pedro Carrasquilla

“Toe ek in die waakeenheid gelê en hewige borspyn gehad het, het ek keer op keer aan die woorde van 1 Timoteus 6:19 gedink. Dit moedig ons aan om ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar, sodat ons ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry. Hierdie vers het my herinner aan die hoop om in die Paradys te lewe wat God belowe het aan dié wat hom liefhet. Dít is waarvoor ons ons inspan.”

[Prent op bladsy 13]

Bo: Noodwerkers sien om na die beseerdes en sterwendes op die treinspore buite die Atocha-stasie

[Erkenning]

Bo: CORDON PRESS

[Prent op bladsy 13]

Regs: ’n Geïmproviseerde gedenkteken