Hoe om kinders in die dissipline van God groot te maak
Die Bybel se beskouing
Hoe om kinders in die dissipline van God groot te maak
“Hoe om reëls te maak wat jou kinders nie sal oortree nie”
“Vyf waardes wat jy jou kind moet leer voor hy vyf is”
“Vyf emosionele vaardighede wat elke kind moet hê”
“Vyf tekens dat jy te sag is”
“Kitsdissipline met wonderbaarlike resultate”
AS DIT maklik was om kinders te dissiplineer, sou mense min belangstelling getoon het in tydskrifartikels soos dié wat hierbo genoem word. Die stroom van boeke wat oor kinderopvoeding handel, sou opgedroog het. Maar dit was nog nooit maklik om kinders groot te maak nie. Duisende jare gelede al is daar gesê: “’n Dwase seun bring smart vir sy vader en innige verdriet vir sy moeder.”—Spreuke 17:25, Today’s English Version.
Ten spyte van die oorvloed inligting oor die onderwerp is baie ouers vandag onseker oor hoe om hulle kinders te dissiplineer. Hoe help die Bybel ons?
Wat dissipline werklik beteken
Die Bybel beskryf duidelik wat ouers se rol in verband met dissipline is. Efesiërs 6:4 sê byvoorbeeld: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.” Hierdie teks meld spesifiek dat die vader die een is wat die leiding moet neem om vir sy kinders te sorg. Die moeder sal natuurlik met haar man saamwerk.
Oor hierdie onderwerp sê The Interpreter’s Dictionary of the Bible: “In die Bybel word dissipline aan die een kant met opleiding, onderrigting en kennis verbind en aan die ander kant met vermaning, teregwysing en straf. Die natuurlike toepassing daarvan is op die gebied van kinderopvoeding.” Dissipline sluit dus baie meer in as net teregwysing; dit sluit ook die opvoeding in wat kinders nodig het om te floreer. Maar hoe kan ouers dit vermy om hulle kinders te irriteer?
Betoon empatie
Wat irriteer ’n kind? Stel jou die volgende situasie voor. Jy het ’n werksmaat wat humeurig en ongeduldig is. Niks aangaande jou stel hom tevrede nie. Dit lyk asof hy alles kritiseer wat jy doen of sê. Hy verwerp jou werk dikwels en laat jou voel asof jy as persoon verwerp word. Sal dit jou nie irriteer of ontmoedig nie?
Dieselfde kan met ’n kind gebeur wanneer sy ouers voortdurend met hom foutvind of hom in woede teregwys. Dit is so dat kinders van tyd tot tyd teregwysing nodig het en dat die Bybel ouers die reg gee om dit te voorsien. Maar om ’n kind te irriteer deur hom op ’n hardvogtige, liefdelose wyse te behandel, kan hom emosionele, geestelike en selfs fisiese skade berokken.
Jou kinders verdien jou aandag
Ouers moet tyd maak vir hulle kinders. Aangaande God se voorskrifte sê Deuteronomium 6:7 vir vaders: “Jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.” Kinders word gebore met ’n behoefte aan innige liefde van hulle ouers. Wanneer jy daagliks rustige gesprekke met jou kinders voer, sal dit jou help om hulle gevoelens te verstaan. Dít kan dit makliker maak om hulle hart met Bybelbeginsels te bereik en hulle aan te spoor om ‘die ware God te vrees en sy gebooie te onderhou’ (Prediker 12:13). Dit maak deel uit van godvrugtige dissipline.
As kinderopvoeding met die bou van ’n huis vergelyk word, maak dissipline deel van die bougereedskap uit. As ouers dit behoorlik gebruik, kan hulle gewenste eienskappe in hulle kinders se persoonlikhede bou en hulle toerus vir die beproewinge van die lewe waarvoor hulle te staan sal kom. Spreuke 23:24, 25 beskryf die resultaat: “Die vader van ’n regverdige sal vir seker bly wees; wie vader van ’n wyse word, sal hom ook oor hom verbly. Jou vader en jou moeder sal hulle verbly, en sy wat aan jou geboorte gegee het, sal bly wees.”
[Venster/Prent op bladsy 27]
DIE “VERSTANDSREGULERING VAN JEHOVAH”
Efesiërs 6:4 maak melding van die “verstandsregulering van Jehovah”. Die oorspronklike Griekse woord vir die uitdrukking “verstandsregulering” word in sommige Bybels vertaal met “oplettendheid”, “raad” en “vermaning”. Hierdie woorde toon dat gesinne meer moet doen as om net die Bybel te lees of materiaal in Bybelstudiehulpe te dek. Ouers moet seker maak dat hulle kinders die betekenis van God se Woord, die belangrikheid van gehoorsaamheid, die liefde wat Jehovah vir hulle het en die beskerming wat hy hulle bied, verstaan.
Hoe kan dit gedoen word? Judy, ’n moeder van drie, het dit nodig gevind om meer te doen as om net voortdurend haar kinders aan godvrugtige beginsels te herinner. “Ek het gesien dat hulle nie daarvan hou as ek keer op keer dieselfde dinge op dieselfde manier herhaal nie. Ek het ander maniere begin soek om hulle te leer. Een manier was om artikels in die Ontwaak! te soek wat hierdie punte op ’n nuwe manier bespreek het. Sodoende het ek geleer om my kinders die nodige vermanings te gee sonder om hulle te irriteer.”
Angelo, wie se gesin moeilike tye deurgemaak het, vertel hoe hy sy dogters geleer het om oor God se Woord te peins: “Ons het Bybelverse saam gelees, en dan het ek sekere frases uitgesonder en verduidelik hoe dit op my dogters se omstandighede van toepassing is. Later, toe hulle die Bybel op hulle eie begin lees het, het ek gesien hoe hulle diep ingedagte is, terwyl hulle peins oor wat dit vir hulle beteken.”