Nairobi—’n “Plek van koel water”
Nairobi—’n “Plek van koel water”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
“’n Onherbergsame, moerasagtige landskap, windverwaaid, heeltemal verlate, die tuiste van duisende wilde diere van alle soorte. Die enigste bewys dat daar soms mense in die gebied was, is die spoor van die ou karavaanroete wat om die moerasagtige vlakte loop.”—THE GENESIS OF KENYA COLONY.
HIERDIE woorde beskryf die Nairobi van bietjie meer as ’n eeu gelede, waar leeus, renosters, luiperds, kameelperde, dodelike slange en baie ander soorte wilde diere hulle tuiste gemaak het. Die dapper Masai het hulle geliefde beeste gebring na die vars waters van ’n stroom wat hier vloei, ’n welkome gesig vir die nomadestamme. Trouens, die Masai het die rivier Uaso Nairobi genoem, wat “Koue water” beteken, en die gebied Enkarre Nairobi, wat “Plek van koel water” beteken—en sodoende die naam voorsien vir die gebied wat Kenia se geskiedenis heeltemal sou verander.
a Teen die middel van 1899 is die 530 kilometer lange spoorlyn aangelê, wat van die kusstad Mombasa af tot by Nairobi gestrek het. Die konstruksiewerkers was teen hierdie tyd ontsenu deur voorvalle met die berugte “mensvreters van Tsavo”, twee leeus wat baie van die mans se medewerkers doodgemaak het; die span moes ook op die onbegaanbare terrein van die Groot Skeurvallei werk. Omdat die treinspoor verder in die binneland moes indring, is Mombasa, wat die hoofdepot was, nie meer as ’n geskikte plek daarvoor beskou nie. Daar is eerder besluit dat Nairobi, ten spyte van sy onherbergsame voorkoms, die beste plek is waar die werkers kon rus en waar ’n binnelandse depot vir boumateriaal opgerig kon word. Dit het ’n belangrike rol gespeel in die feit dat Nairobi later Kenia se hoofstad geword het.
’n Belangrike gebeurtenis in die ontwikkeling van Nairobi was die bou van die Keniaanse spoorlyn, wat vroeër as die ‘Gekke spoorlyn’ bekend gestaan het.Vroeg in die 20ste eeu is Nairobi as die administratiewe sentrum gekies vir die nuutgestigte Oos-Afrikaanse Protektoraat, soos Kenia destyds bekend gestaan het. Vooruitbeplanning sou die ontluikende stad tot voordeel gestrek het. Maar daar het eerder ’n mengelmoes pondokke om die treinstasie verrys. Die pondokke is van hout, sinkplate en ander plaaslike materiale gemaak en het Nairobi meer na ’n krotbuurt as ’n toekomstige internasionale sentrum laat lyk. Die paar geboue wat aan die begin van die 20ste eeu in Nairobi was, is beslis nie ontwerp met die oog op hierdie moontlikheid nie. Daar was ook nog steeds die immerteenwoordige bedreiging van die wilde diere in daardie gebied.
Die nuwe nedersetting is kort voor lank deur siektes geteister. ’n Plaag wat uitgebreek het, was die eerste werklike toets vir die nuwe administrateurs. Hoe kon hierdie probleem vinnig opgelos word? Om te keer dat die plaag versprei, is die besmette dele van die dorp afgebrand! Gedurende die volgende vyftig jaar het Nairobi stadig maar seker sy onooglike verlede afgeskud en opgang gemaak sodat dit die kommersiële en sosiale middelpunt van Oos-Afrika geword het.
Hoe die moderne stad ontwikkel het
Nairobi lê op ’n hoogte van ongeveer 1 680 meter en het dus ’n indrukwekkende uitsig oor die omliggende gebied. Op helder dae kan ’n mens twee belangrike Afrikalandmerke maklik sien. Na die noorde lê die berg Kenia, wat met ’n hoogte van 5 199 meter die hoogste berg in die land en die tweede hoogste berg in Afrika is. Verder suid, op die grens tussen Kenia en Tanzanië, is die berg Kilimandjaro, wat met ’n hoogte van 5 895 meter die hoogste berg in Afrika is. Die feit dat Kilimandjaro, wat na aan die ewenaar lê, altyd sneeu en ys op sy piek gehad het, het Europese aardrykskundiges en ontdekkingsreisigers 150 jaar gelede verbaas.
Met ’n geskiedenis wat oor meer as 50 jaar
strek, het die stad Nairobi ’n totale gedaanteverandering ondergaan. Die groei daarvan kan in die immerveranderende silhoeët van die stad gesien word. Vandag se hoë en indrukwekkende geboue van glas en staal wat in die tropiese sonsondergang skitter, is iets om te aanskou. Iemand wat Nairobi se sentrale sakegebied besoek, sal dit waarskynlik moeilik vind om te glo dat die einste grond waarop hy loop, skaars honderd jaar gelede ’n houplek vir wilde diere was—’n gevaarlike plek vir mense.Dit het mettertyd verander. Eksotiese plante, onder meer pragtige bougainvilleas, bloeiende jakarandabome, vinnig groeiende bloekombome en wattelbome, is ingevoer. Sodoende is stowwerige paaie mettertyd in boomryke lanings verander, wat nog steeds gedurende warm seisoene skadu aan voetgangers voorsien. ’n Boomtuin naby die middestad bevat minstens 270 soorte bome. Ons kan verstaan waarom ’n ander skrywer gesê het dat Nairobi “lyk asof dit in die middel van ’n natuurlike woud gebou is”. Die geil plantegroei het baie gehelp om Nairobi se aangename temperature te reguleer—warm dae en koel nagte.
’n Smeltkroes van kulture
Soos ’n groot magneet, het Nairobi ’n wye spektrum mense gelok. Daar woon nou meer as tweemiljoen mense in die stad. Die voltooiing van die spoorlyn het vir mense ’n goeie rede gegee om hulle in die gebied te vestig. Indiërs wat met die bou van die spoorlyn gehelp het, het gebly en besighede begin wat floreer het en na die res van die land uitgebrei het. Ander besigheidsmense het hulle voorbeeld gevolg en uit Australië, Kanada en talle Afrikalande hierheen getrek.
Nairobi is ’n smeltkroes van kulture. In die strate sal ’n mens moontlik ’n Indiese vrou in ’n vloeiende sari op pad na ’n winkelsentrum teëkom, asook ’n Pakistanse ingenieur wat haastig op pad is na ’n bouterrein, ’n onberispelik geklede lugwaardin van Nederland wat haar by een van die hotelle inteken, of ’n Japannese sakeman wat hom na ’n belangrike sakevergadering haas, waarskynlik by Nairobi se florerende effektebeurs. Daarbenewens kan ’n mens plaaslike inwoners
vind waar hulle by bushaltes wag, by stalletjies, opelugmarkte en winkels sake bedryf en in kantore of by die talle industrieë in Nairobi werk.Snaaks genoeg kan min van die Keniane wat in die stad woon, ware “Nairobiërs” genoem word. Die meeste van hulle het van ander dele van die land gekom, op soek na “groener weivelde”. Oor die algemeen is die inwoners van Nairobi vriendelik en hartlik. Dalk is dit hierdie gasvryheid wat daartoe gelei het dat die stad as ’n gasheerstad vir internasionale en streekorganisasies gebruik word. Die wêreldhoofkwartier van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram is in Nairobi.
Wat lok besoekers?
Kenia is ’n land met ’n oorvloed en ’n groot verskeidenheid wilde diere. Al die nasionale parke en wildreservate lok jaarliks duisende besoekers. Nairobi is die basis waarvandaan baie toere gereël word. Maar Nairobi is ook ’n toeristebestemming in eie reg. Baie min stede in die wêreld het diere wat op hulle drumpel woon. Die Nairobi- Nasionale Park, wat minder as tien kilometer van die middestad af is, is ’n toevlugsoord vir besoekers. b Hier kom ’n mens self Nairobi se vorige inwoners teë. Net ’n heining skei die diere van die mensebevolking. Tot onlangs nog, in September 2002, is ’n volwasse luiperdmannetjie, wat uit ’n nabygeleë woud gekom het, in die sitkamer van ’n Nairobi-woning gevang!
Die Nairobi-museum is ’n paar minute se stap van die middestad af. Honderde besoekers kom daagliks hierheen om oor Kenia se ryk geskiedenis te leer. In die museum is daar ’n slangpark wat baie soorte reptiele aanhou. Dit lyk nie of die krokodil hom veel steur aan ’n besoeker wat na hom staar nie. ’n Skilpad daar naby lyk ook salig onbewus van die besige wêreld om hom. Die vernaamste inwoners hier is natuurlik die seilende soort—kobras, luislange en adders. Met sulke diere om jou moet jy beslis let op die teken: “Oortreders sal vergif word”!
Verskillende waters
Hoewel die rivier waaraan Nairobi sy naam te danke het, nog steeds vloei, word sy water deur nywerheids- en huishoudelike uitvloeisel besoedel, soos in so baie ander ontwikkelende stede. Maar deur die jare heen is Nairobi se inwoners voorsien van “water” wat van ’n hoër bron af kom. Dit is die Bybelboodskap van die lewe wat Jehovah se Getuies aan ander leer.—Johannes 4:14.
In 1931, lank voor Nairobi so groot was, het Gray en Frank Smith, twee broers van Suid-Afrika, Kenia besoek om Bybelwaarhede te versprei. Hulle het van Mombasa af dieselfde roete as die spoorlyn gevolg en baie gevare getrotseer—soms het hulle selfs naby wilde diere geslaap. In Nairobi het hulle 600 boekies en ander Bybellektuur versprei. Vandag is daar om en by 5 000 Getuies in die 61 gemeentes in Nairobi. Deur middel van gemeentelike vergaderinge, kring-, streek- en internasionale byeenkomste, is Nairobi se inwoners nou bekend met die bedrywighede van Jehovah se Getuies. Baie het hulle Bybelboodskap van hoop met blydskap aangeneem.
’n Helderder toekoms
“Nywerheidstede het dikwels ’n tekort aan voldoende behuising . . . In baie gevalle besoedel fabrieke die lug en water”, sê die Encyclopædia Britannica. Nairobi is geen uitsondering nie. En aangesien mense daagliks van die platteland af verhuis, kan hierdie probleme selfs vererger. Die aanhoudende aanslae teen Nairobi kan die glans van hierdie juweel maklik laat verdof.
Gelukkig is die tyd egter op hande wanneer alle mense onder God se Koninkryk die lewe ten volle sal geniet—’n lewe wat nie bederf sal word deur die probleme wat stadslewe vandag so moeilik maak nie.—2 Petrus 3:13.
[Voetnote]
a Vir ’n volledige beskrywing van hoe die spoorlyn gebou is, sien die artikel “Oos-Afrika se ‘Gekke spoorlyn’” in die Ontwaak! van 22 September 1998, bladsye 21-4.
b Sien die Ontwaak! van 8 Junie 2003, bladsye 24-7.
[Kaart op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Nairobi
[Prent op bladsy 18]
Die berg Kilimandjaro
[Prent op bladsy 18]
Die berg Kenia
[Erkenning]
Duncan Willetts, Camerapix
[Prent op bladsy 18]
Opelugmark
[Prent op bladsy 19]
Frank en Gray Smith in 1931
[Foto-erkenning op bladsy 17]
© Crispin Hughes/Panos Pictures