Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Voorspelling van huweliksgeluk

’n Navorsingspan in Seattle, Washington, VSA, het video-opnames van honderde egpare gemaak terwyl hulle sensitiewe sake, soos geld en seks, bespreek het. Hulle het toe formules uitgewerk om huweliksgeluk te voorspel deur faktore in ag te neem soos “egpare se algemene uitkyk op die lewe, oorreedbaarheid en die mate waarin hulle toelaat dat hulle deur hulle [maat] se komplimente of kwetsende aanmerkings geraak word”, berig Science News. Vier jaar later is die voorspellings bewaarheid in die geval van 94 persent van die egpare met wie ’n onderhoud gevoer is. Watter faktore het huweliksgeluk beïnvloed? “In suksesvolle huwelike was daar vyf keer meer positiewe interaksies, soos om gedurende die opgeneemde onderhoude te lag en grappies te maak, as negatiewe interaksies,” sê die artikel. “Die sekerste aanduiding dat ’n egpaar sou skei, was wanneer die een persoon die ander veragtelik aangekyk het terwyl hy gepraat het.” Een navorser het gesê: “Veragting vernietig liefde soos swaelsuur metaal vernietig.” Die span gebruik hulle bevindings om ongelukkige huwelike te red, waarvan twee derdes ná ’n paar dae van berading verbeter het.

Slim voëls

In ’n onlangse studie “is uitgevind dat voëls ernstig meeding met sjimpansees en dolfyne om die titel van die intelligentste niemenslike dier”, berig The Sunday Times van Londen. ’n Span by die Universiteit van Cambridge het ’n gat in die kant van ’n deursigtige buis gemaak, die buis in ’n horisontale posisie gemonteer sodat die gat ondertoe wys en bo-oor die punt van ’n ander buis lê en toe kos langs die gat geplaas. Primate het die kos probeer uitstoot en dit verloor toe dit deur die gat geval het. Maar spegvinke het ’n stokkie gebruik om die kos uit te kry. Vroeër het navorsers by die Universiteit van Oxford gesien hoe Betty, ’n wipsnawelkraai, hake van dun draad maak en die vorm van die haak aanpas sodat sy dit vir ’n sekere taak kon gebruik—iets wat primate sover bekend nog nooit gedoen het nie. Sulke bevindings “is in stryd met die opvatting wat al jare lank algemeen aanvaar word” dat slegs primate in staat is om werktuie te gebruik, sê die Times.

TV en babas se verstandelike ontwikkeling

Dokters by Japan se Kinderartsvereniging sê dat daar ’n groter moontlikheid is dat kinders wat baie TV kyk, dit moeilik sal vind om te kommunikeer, berig die Mainichi Daily News. Die probleme wat hulle ondervind, is onder meer ’n belemmerde vermoë om woorde te onthou, oogkontak met hulle ouers te behou en interpersoonlike verhoudings aan te knoop. “Kinders se gesonde verstandelike ontwikkeling word belemmer wanneer hulle minder tyd het om met hulle ouers en buite te speel”, het Hiromi Oetsoemi, ’n lid van die vereniging, gesê. Die Vereniging beveel aan dat “ouers TV-stelle afskakel gedurende maaltye en terwyl babas geborsvoed word, en dat TV’s, video’s en rekenaars nie in kinders se kamers gesit word nie”, sê die verslag; dit het bygevoeg dat kommunikasie verbeter het “nadat ouers dokters se raad gevolg het en hulle kinders verbied het om TV en video’s te kyk”.

“Ondergrondse” biblioteek

In ’n poging om leesgierigheid te bevorder, is ’n boekleenprogram in Mexikostad se moltreinstelsel van stapel gestuur. By die stasies kan ’n passasier ’n grootdrukboek leen wat ’n versameling van Mexikaanse literatuur bevat, dit tydens sy reis lees en ingee wanneer hy sy bestemming bereik. “Tot dusver was dit ’n groot sukses”, het Aarón López Bravo, hoof van die program, gesê. “Mense kan nou onproduktiewe tyd gebruik om te leer en ’n aangename tyd te hê.” Gedurende die eerste maand is meer as 130 000 boeke by stalletjies uitgegee wat met hierdie doel opgerig is, sê die internasionale weergawe van The Miami Herald. Die program is by 21 stasies op slegs een lyn begin, maar die organiseerders hoop om dit tot die hele moltreinstelsel uit te brei, wat elke dag byna vyfmiljoen passasiers vervoer.

Natuurlike geboorte in Brittanje

“Natuurlike geboorte word vir die eerste keer in Brittanje in die minderheid van bevallings gekies, wat ’n belangrike tendens is in die geskiedenis van geneeskunde”, berig The Independent van Londen. Syfers wat vir 2001-2002 deur Brittanje se Departement van Gesondheid bekend gemaak is, toon dat slegs 45 persent van moeders hulle babas sonder die een of ander soort mediese ingryping gehad het. Keisersneë het van 9 persent in 1980 tot 22,3 persent in 2001-2002 toegeneem. In een kraamafdeling het hierdie syfer 56 persent bereik. “Vroue dring al hoe sterker daarop aan dat hulle ’n keisersnee wil hê”, sê Peter Bowen Simpkins van Brittanje se Koninklike Kollege vir Verloskundiges. “Beroepsvroue . . . wil op ’n sekere dag inkom om hulle baba te hê. . . . Keisersneë word as veiliger beskou. Maar in werklikheid is die siektesyfer beslis hoër onder vroue wat ’n keisersnee gehad het.” Navorsers waarsku ook dat moeders wat ’n keisersnee met hulle eerste baba het, dit moeiliker vind om weer swanger te raak en ’n skraler kans het om ’n natuurlike geboorte met hulle tweede baba te hê.

Diëte en gewigstoename onder adolessente

“Adolessente wat op dieet gaan om gewig te verloor, kan in werklikheid gewig optel, wat tot vetsug kan lei”, sê die tydskrif U.S.News & World Report. ’n Drie jaar lange studie waarby 15 000 kinders tussen die ouderdomme van 9 en 14 betrokke was, het getoon dat “seuns sowel as meisies wat op dieet was, meer gewig opgetel het as dié wat nie op dieet was nie, en hulle liggaamsmassaindeks—’n maatstaf van vetsug—het toegeneem”. Die navorsers meen dat “diëte daartoe kan lei dat hulle hulle aan kos vergryp”, sê die verslag. “Die moontlikheid is 12 keer groter dat [meisies wat dikwels op dieet gaan], sal erken dat hulle hulle aan kos vergryp as dié wat dit nie doen nie.”

’n Tekort aan priesters

“Meer as die helfte van Spanje se kweekskole loop gevaar om gesluit te word” omdat daar te min aansoeke vir die Katolieke priesterskap is, berig die Spaanse koerant ABC. Gedurende die afgelope jaar “het 14 kweekskole geen nuwe kandidate ingeneem nie, terwyl 18 ander slegs een nuwe kandidaat gehad het”. Waarom is daar so ’n tekort? Andrés García de la Cuerda, rektor van ’n kweekskool in Madrid, het die “sterk en progressiewe sekularisasie” van Europa as ’n rede aangegee, wat “geloof en Christelikheid ondermyn”. García de la Cuerda het ook gesê dat “die maatskaplike milieu nie gunstig is vir die [Katolieke] Kerk en wat dit verteenwoordig nie”.