Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die mens se strewe om die wind te benut

Die mens se strewe om die wind te benut

Die mens se strewe om die wind te benut

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

WAARAAN dink jy wanneer jy na die windmeul op die volgende bladsy kyk? Herinner dit jou aan ’n Nederlandse landskap? Of laat dit jou dink aan Don Quixote, ’n fiktiewe Spaanse edelman wat hom verbeel het dat windmeule gevaarlike reuse is? Miskien laat die foto jou aan ’n gerestoureerde windmeul dink wat nou ’n plaaslike landmerk is.

Hoewel windmeule nog steeds op die platteland in baie wêrelddele te sien is, lyk dit dalk net na pragtige herinneringe aan ’n vergange tyd. Maar windmeule was eeue lank aan die voorpunt van die tegnologie. En onlangs het windmeule, ná dekades van verwaarlosing, ’n herlewing geniet wat mense in alle wêrelddele tot voordeel strek. Lees gerus verder oor die geskiedenis van die windmeul en hoe dit aangepas is vir veranderlike winde en veranderende behoeftes.

Die maalproses makliker gemaak

Dit het alles begin met die basiese behoefte aan brood. Om meel vir brood te verkry, het eertydse volke, soos die Israeliete, eetbare graankorrels met behulp van “handmeule” gemaal (Numeri 11:7, 8). Dit was harde werk om te maal deur ’n swaar klip bo-op ’n ander met die hand te draai. Mettertyd het swaarder meulstene “wat deur ’n esel” of ’n ander trekdier gedraai is, gewild geword (Matteus 18:6). Maar selfs meule wat deur diere gedraai is, het tekortkominge gehad.

Die mens het reeds geleer hoe om die krag van water deur middel van die waterwiel en die krag van wind deur middel van die seilboot te benut. Dit was moontlik gedurende die sewende eeu G.J. êrens in die dorre steppe van Asië of die Midde-Ooste toe die twee beginsels gekombineer is en die wind gebruik is om ’n meulsteen te draai. Die windaangedrewe seile van hierdie nuwe uitvinding het ’n vertikale as gedraai wat aan ’n meulsteen gekoppel was. a Hierdie soort primitiewe windmeul is gebruik om koring of gars te maal sowel as om ondergrondse water op te pomp. Hoe waar is dit tog dat vindingrykheid deur behoeftes gestimuleer word!

Nuwe ontwerpe om die wind te vang

Die vroeë meule, waarvan die wieke om ’n vertikale as gedraai het, was nie baie doeltreffend nie. Maar hulle is baie doeltreffender gemaak toe daar ontdek is dat meer krag opgewek kan word wanneer die wieke, of vlerke, gekoppel is aan ’n horisontale as wat by ’n toring uitsteek. Om die meulsteen onder in die meul te draai, is die rotasie van die horisontale as deur middel van ’n aantal ratte na ’n vertikale as oorgedra. Met hierdie aanpassing kon windmeule die wind se energie beter benut. Hierdie nuwe meule het genoeg krag gehad om swaar masjinerie, soos sirkelsae, aan te dryf.

Maar ongeag die taak wat gedoen moes word, windmeule het ’n konstante bron van energie nodig gehad. En wind het die lastige gewoonte om dikwels van rigting te verander. Hoe kon die windmeul se wieke op die wind gerig bly? ’n Vroeë oplossing was die uitvinding van die draaimeul, of standermeul. Die meul het om ’n spil, of stander, gedraai, wat dit moontlik gemaak het om die hele meul, met wieke en al, direk in die wind te draai.

Aangesien hierdie draaimeule natuurlik beperk was wat hulle grootte betref, het meulbouers besluit om ’n meul met ’n onbeweeglike romp en ’n draaibare dak te bou. By hierdie windmeule steek die hoofas by die dak uit sodat die dak en die wieke na die wind kan draai ongeag uit watter rigting dit waai. Hoe kon ’n meulenaar ’n dak tesame met die as, wieke en ’n remstelsel draai? Kyk weer na die foto op bladsy 23 van ’n windmeul in Cartagena, Spanje. Jy sal ’n balk aan die agterkant van die windmeul sien wat van die dak af na die grond toe loop. Dit lyk dalk soos ’n stut, maar dit is eintlik ’n hefboom. Hierdie balk kan deur ’n mens of ’n dier gestoot of getrek word, wat dan die dak draai totdat die meul se vlerke na die wind gerig is.

Ander windmeule het ’n toestel wat soos ’n klein skroef, of waaier, lyk en agter die wieke gemonteer is. Hierdie skroef is ontwerp om die wieke outomaties in die regte rigting te laat beweeg. Hoe werk dit? Stel jou voor dat die wieke van die windmeul op die wind gerig is en in volle vaart draai. Skielik verander die wind van rigting, en die wieke draai stadiger. Die skroef, wat teen ’n regte hoek ten opsigte van die wieke gemonteer is, vang nou die wind en begin draai. Hierdie beweging draai ’n stel ratte wat die dak en die wieke outomaties weer op die wind rig elke keer wanneer dit van rigting verander.

Van seile na windborde

Nog ’n faktor wat dit moeilik maak om die krag van die wind te benut, is die voortdurende wisseling van windsterkte. Vroeë windmeule, wat seile soortgelyk aan dié van seilbote gehad het, kon nie maklik by die veranderlike windspoed aanpas nie. As die rem aangedraai is, kon die hitte wat deur die wrywing veroorsaak is, ’n brand begin. En sterk rukwinde kon wieke teen mekaar of teen die meul waai en geweldige skade aanrig. Soms, wanneer die rem geweier het terwyl die meulenaar op ’n vlerk besig was om die seile op te vou, is hy in die lug gegooi!

In 1772 is hierdie probleem opgelos toe ’n Skotse meulbouer die seile met windborde vervang het wat outomaties oop- en toegaan en amper soos skuifblindings lyk. Die boek Windmills verduidelik: “Wanneer die wind sterk waai, is die druk op die windbord sterker as die spanning van die veer en dan gaan die windbord oop, wat die wind deurlaat en die wiek stadiger laat draai. Wanneer die wind bedaar, is die spanning van die veer sterker as die drukking van die wind en dan gaan die windbord toe, wat ’n groter oppervlak bied waarteen die wind kan waai, en sodoende word die spoed van die wiek gehandhaaf.”

Met roterende dakke en selfreëlende wieke het windmeule teen die laat 1800’s hulle hoogtepunt bereik, toe daar geskat is dat Europese meule ongeveer 1 500 megawatt krag opgewek het. b Maar toe het die winde van tegnologiese verandering elektrisiteit, stoomturbines en binnebrandenjins gebring. Windmeule kon nie met die doeltreffendheid en beweeglikheid van die nuwe masjiene meeding nie, en dit het gelyk of die wind vir ewig uit hulle seile geneem is. Toe het ’n onverwagse behoefte ontstaan.

Moderne opvolgers van eertydse windmeule

Weens die brandstofkrisis van die 1970’s is daar na alternatiewe energiebronne begin soek wat nie van fossielbrandstof afhanklik is nie. Ongeveer dieselfde tyd het daar groeiende kommer ontstaan oor die besoedeling van die atmosfeer weens die gebruik van fossielbrandstof. Die soeke na “skoon” energie het begin. Skielik het die windmeul na ’n aantreklike opsie gelyk en windturbines het ’n ontwikkelende tegnologie geword.

Moderne “windmeule” is glad nie so lywig soos hulle voorgangers nie. Dit is omdat die moderne windturbine, anders as die tradisionele windmeul, nie gewoonlik ’n masjien binne-in die meul aandryf nie. Elke turbine sit windenergie in elektriese energie om, wat dikwels tot die plaaslike kragnetwerk toegevoeg word. Teen 1988 het hierdie nuwe “windmeule” 1 500 megawatt in Europa opgewek, net soos hulle voorgangers ’n eeu gelede gedoen het.

Moderne windplase, wat lyk soos groot, rypbedekte bome al langs die kruine van hoë heuwels, het die voorkoms van die platteland begin verander. Miskien lyk hierdie windturbines nie so mooi nie, maar die meeste mense meen dat enige negatiewe visuele impak ’n klein prys is om te betaal vir die tienduisende megawatt skoon krag wat wêreldwyd deur die windturbines opgewek word. Hierdie moderne windmeule lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die wêreldwye poging om kweekhuisgasse te verminder, iets wat almal tot voordeel strek.

Nie die tradisionele windmeul of die moderne windturbine sou egter kon funksioneer as dit nie vir daardie onuitputlike bron van “skoon” energie, die wind, was nie. Hoe dankbaar kan ons tog wees vir “die Skepper van die wind”!—Amos 4:13.

[Voetnote]

a Hierdie primitiewe windmeule is tot die 20ste eeu nog in dele van die Midde-Ooste gebruik.

b Een megawatt is gelyk aan 1 000 000 watt. ’n Gemiddelde gloeilamp gebruik 60 watt.

[Prent op bladsy 23]

Spaanse windmeul met agt wieke; dit word El Molino Zabala genoem

[Prent op bladsy 24, 25]

Moderne windturbines, Cádiz, Spanje

[Prente op bladsy 25]

1. Consuegra, Spanje

2. Majorka, Spanje

3. Aruba, Klein Antille

[Erkennings]

Godo-Foto

Godo-Foto