Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Europese hof bevestig ’n moeder se regte

Europese hof bevestig ’n moeder se regte

Europese hof bevestig ’n moeder se regte

Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk

OP 16 Desember 2003 het die Europese Hof van Menseregte, in Straatsburg, Frankryk, die Franse howe skuldig bevind aan godsdiensdiskriminasie teen Séraphine Palau-Martínez, een van Jehovah se Getuies.

In 1996 is Séraphine geskei van haar man, wat haar twee jaar vroeër verlaat het. Sy het toesig oor hulle twee kinders gekry. Maar in 1997, toe die kinders al byna drie en ’n half jaar by hulle moeder gebly het, het die vader geweier om hulle terug te besorg nadat hulle by hom gekuier het. Séraphine vertel: “Toe ek die kinders by die skool gaan haal het, het die skoolhoof die polisie ontbied. Ek kon my kinders slegs in die teenwoordigheid van polisiebeamptes sien om te verseker dat ek nie met hulle oor my geloof sou praat nie. Dit was asof ek ’n misdadiger was. Ek is in kennis gestel dat ek die kinders net kon kry as ek ’n verklaring onderteken waarvolgens ek nie met hulle oor God of die Bybel sou praat of hulle na Christelike vergaderinge sou neem nie.”

Séraphine het haar tot die howe gewend. Maar in 1998 het die Appèlhof van Nîmes die vader toesig oor die kinders gegee. Die hof het sy beslissing probeer regverdig met hewige en oordrewe kritiek oor die opvoedkundige beginsels wat Jehovah se Getuies hulle kinders glo leer. “Dit was so ontstellend”, sê Séraphine, “om daarvan beskuldig te word dat ek my kinders leed aandoen, terwyl ek net vir hulle wou gee wat ek gevoel het vir hulle die beste is—’n Christelike opvoeding.”

Toe die Cour de Cassation, die hoogste Franse appèlhof, die uitspraak van die appèlhof onderskryf, het Séraphine besluit om die saak na die Europese Hof van Menseregte te neem. Daar is met ’n meerderheid van ses teen een besluit dat “die Hof heeltemal oortuig is dat die [Franse] appèlhof die ouers nie onpartydig behandel het nie weens die aansoeker se godsdiens. . . . Sulke partydigheid is diskriminerend.” Dit het bepaal dat die beslissing van die Franse hof nie gegrond was op Séraphine se vermoë om na haar kinders te kyk nie—iets wat nooit in twyfel getrek is nie—en ook nie op die naakte feite nie, maar op “veralgemenings oor Jehovah se Getuies”. In die lig van hierdie godsdiensdiskriminasie en die skending van Séraphine se regte, het die Hof beveel dat Frankryk vergoeding en regskoste betaal.

Hierdie uitspraak stem ooreen met ’n beslissing deur die Europese Hof van Menseregte in Junie 1993 in ’n soortgelyke saak waarin die Hof bepaal het dat Oostenryk teen een van Jehovah se Getuies, Ingrid Hoffmann, gediskrimineer het op grond van haar godsdiens. a “Soos in die geval van die Hoffmann-beslissing”, sê die Franse regstydskrif La Semaine juridique, “bevestig hierdie beslissing dat ’n besluit oor ouerlike gesag nooit bloot op grond van godsdiens geneem kan word nie.” Séraphine se regsgeleerde het gesê: “Hierdie uitspraak is baie belangrik, aangesien die presedentereg van die Hof nog altyd die reg van Getuie-ouers om onpartydig geoordeel te word, gehandhaaf het.”

Toe Séraphine, wat nou in Spanje woon, gevra is hoe sy oor die beslissing voel, het sy gesê: “Ek is baie bly en verlig. Dit was uiters traumaties dat my kinders weens my godsdiens van my af weggeneem is en dat ek hulle vyf jaar lank nie gesien het nie, maar Jehovah het my altyd onderskraag. Ek hoop dat hierdie beslissing ander in my situasie sal help.”

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Oktober 1993, bladsy 15, “Jehovah se Getuies wen hofsaak oor kindertoesig”.

[Prent op bladsy 12]

Séraphine