Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Genesing vir vigs—Dringend nodig!

Genesing vir vigs—Dringend nodig!

Genesing vir vigs—Dringend nodig!

By die Sentrale Mark in Lilongwe, Malawi, verkoop Grace duur skoene. Sy lyk gelukkig en gesond. Haar vrolike glimlag verberg egter ’n tragiese verhaal.

In 1993 was Grace en haar man verheug oor die geboorte van hulle dogter, Tiyajane. Aanvanklik het Tiyajane gesond gelyk. Maar kort voor lank het sy opgehou om gewig op te tel en die een infeksie na die ander opgedoen. Op driejarige ouderdom het Tiyajane aan vigs (verworwe immuniteitsgebreksindroom) gesterf.

’n Paar jaar later het Grace se man ook begin siek word. Op ’n dag het hy inmekaargesak en is hy hospitaal toe geneem. Die dokters kon hom nie red nie. Grace se man, met wie sy agt jaar getroud was, het aan vigs-verwante komplikasies gesterf.

Grace woon nou alleen in ’n eenvertrekhuisie in die buitewyke van Lilongwe. Sy is net 30 jaar oud, en ’n mens sou verwag dat Grace van vooraf sal begin. Sy verduidelik egter: “Ek het MIV, en daarom sal ek nie weer trou of kinders hê nie.” a

ONGELUKKIG is sulke ondervindinge geensins uniek in Malawi nie, waar 15 persent van die bevolking volgens skatting met MIV besmet is. Volgens die koerant Globe and Mail het een plattelandse hospitaal “50 persent meer pasiënte as wat dit kan behartig, en die inrigting het meer as 50 persent van sy mediese personeel [weens vigs] verloor”. MIV-besmetting in ander Afrikalande suid van die Sahara is selfs algemener. In 2002 het die Verenigde Nasies se Gesamentlike MIV/vigs-program (UNAIDS) gesê: “Die gemiddelde lewensverwagting in Afrika suid van die Sahara is op die oomblik 47 jaar. Sonder vigs sou dit 62 jaar gewees het.”

Die MIV/vigs-plaag is egter pandemies en strek baie verder as die vasteland van Afrika. UNAIDS skat dat omtrent viermiljoen volwassenes in Indië met MIV besmet is en voeg by: “Te oordeel aan die aantal mense wat op die oomblik met MIV besmet is, sal die siekte hierdie dekade waarskynlik die grootste doodsoorsaak onder volwassenes wees.” Die epidemie versprei die vinnigste in die Gemenebes van Onafhanklike State, ’n federasie wat die meeste van die republieke van die voormalige Sowjetunie insluit. Een verslag sê dat daar in Oesbekistan “in 2002 alleen meer MIV-gevalle gerapporteer is as in die hele vorige dekade”. In die Verenigde State is MIV-besmetting steeds ’n vername doodsoorsaak onder Amerikaners tussen die ouderdomme van 25 en 44.

In 1986 het Ontwaak! vir die eerste keer ’n reeks artikels oor vigs gepubliseer. Daardie jaar het dr. H. Mahler, die destydse direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie, gewaarsku dat ongeveer tienmiljoen mense moontlik alreeds met MIV besmet is. Byna twee dekades later het die aantal MIV-gevalle wêreldwyd tot sowat 42 miljoen vermeerder; dit neem dus tien keer vinniger toe as die bevolking! Deskundiges is van mening dat die toekoms net so somber lyk. “In die 45 lande wat die ergste geraak word”, sê UNAIDS, “word daar geraam dat 68 miljoen mense tussen 2000 en 2020 ’n ontydige dood as gevolg van vigs sal sterf.”

Met so ’n kommerwekkende besmettingsyfer was genesing vir vigs nog nooit so dringend nie. Mediese navorsers het hulle dus onvermoeid ingespan om MIV te beveg. Watter vooruitgang is in die stryd teen hierdie dodelike plaag gemaak? Is dit redelik om te hoop dat daar ’n einde aan vigs sal wees?

[Voetnoot]

a MIV, of die menslike immuniteitsgebrekvirus, word oor die algemeen aanvaar as die virus wat vigs veroorsaak.

[Lokteks op bladsy 4]

Wêreldwyd het sowat 42 miljoen mense MIV/vigs; 2,5 miljoen van hulle is kinders

[Prent op bladsy 4]

INDIË—Vrywillige gesondheidswerkers kry vigs-opleiding

[Erkenning]

© Peter Barker/Panos Pictures

[Prent op bladsy 4]

BRASILIË—’n Maatskaplike werker troos ’n vrou wat vigs het

[Erkenning]

© Sean Sprague/Panos Pictures

[Prent op bladsy 4]

THAILAND—’n Vrywillige werker sien om na ’n kind wat met MIV gebore is

[Erkenning]

© Ian Teh/Panos Pictures