Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het alle paaie na Rome gelei?

Het alle paaie na Rome gelei?

Het alle paaie na Rome gelei?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN OOSTENRYK

DIE paaie van die Romeinse Ryk het dit maklik gemaak om van die hoofstad na die verafgeleë provinsies te reis. Dit het die digte woude van Gallië met Griekse stede en die Eufraatrivier met die Engelse Kanaal verbind. Bowenal het dit feitlik elke deel van die ryk binne die bereik van die legioene geplaas wat die gesag van Rome laat geld het. Hierdie geplaveide hoofpaaie het talle vertakkings gehad wat na die Romeinse provinsies gelei het. Dit is waar die spreuk “Alle paaie lei na Rome” vandaan kom.

Paaie van meer as 80 000 kilometer het die Romeinse Ryk deurkruis. Hoe kan iemand dit vandag bestudeer en die impak verstaan wat dit op daardie antieke wêreld gehad het? Een manier is om die 13de-eeuse Peutinger-kaart te ondersoek.

Geskiedkundiges meen dat die Peutinger-kaart ’n afskrif is van ’n kaart wat oorspronklik geteken is toe Romeinse leërmagte nog daardie welbekende paaie gebruik het. In 1508 het Konrad Peutinger, die stadsklerk van Augsburg in die suide van Duitsland, hierdie handgemaakte kaart in die hande gekry, en dit is waar dit sy naam gekry het. Vandag kan dit in die Oostenrykse Nasionale Biblioteek in Wene onder die Latynse naam Tabula Peutingeriana gevind word.

Die Romeinse wêreld in ’n boekrol

In moderne klaskamers bestudeer leerlinge dikwels kaarte wat feitlik vierkantig is en teen ’n muur hang. Die Peutinger-kaart is egter ’n boekrol wat 34 sentimeter wyd en amper 7 meter lank is wanneer dit oopgerol is. Dit het oorspronklik uit 12 afsonderlike velle perkament bestaan wat aan mekaar vasgeplak is. Elf daarvan bestaan vandag nog. Hierdie kaart toon hoe die Romeinse Ryk in sy glorietyd gelyk het, toe dit van Brittanje af tot in Indië gestrek het. Al weet jy hoe daardie gebied op moderne kaarte lyk, sal jy dalk deurmekaar raak as jy die eerste keer na die Peutinger-kaart kyk. Waarom?

Die Peutinger-kaart is nie vir moderne aardrykskundiges geteken nie, maar vir eertydse reisigers. ’n Opgerolde kaart was makliker om te hanteer wanneer ’n mens gereis het. Maar om die nodige besonderhede op ’n boekrol in te pas, moes die kartograaf die noord-suid-dimensies van die ryk verklein en die wydte van oos na wes grootliks verleng. Dit het ’n verwronge kaart tot gevolg gehad wat maklik oopgemaak, na gekyk, opgerol en gedra kon word. ’n Reisiger kon vinnig sien wat die beste roete van een plek na ’n ander is. Dit was vir reisigers belangriker as die vorm van Italië, die grootte van die Swart See of die werklike rigting waarin hulle gereis het. a

Verskillende kleure onderskei die topografiese kenmerke op die Peutinger-kaart. Berge is bruin, riviere is groen en paaie is met rooi lyne aangedui. Die kaart gee die name van honderde dorpe aan en dui hulle ligging met huise, ommuurde binnepleine en torings aan. Hierdie simbole toon blykbaar watter fasiliteite by elke plek beskikbaar was. Die kaart dui ook afstande tussen dorpe, handelsposte en rusplekke aan.

Verskeie Bybelse plekke en gebeurtenisse is op die Peutinger-kaart aangeteken. Twee beskrywings in Latyn is in die omgewing van die berg Sinai geskryf. Een byskrif sê: “Die woestyn waar die kinders van Israel 40 jaar lank onder Moses se leiding geswerf het” (Josua 5:6). Die ander byskrif sê: “Dit is waar hulle die Wet op die berg Sinai ontvang het.”—Levitikus 27:34.

Jerusalem word aangedui deur ’n byskrif wat ’n ander naam vir die stad insluit—Aelia Capitolina—afgelei van die naam van Publius Aelius Hadrianus, beter bekend as net Hadrianus. In die tweede eeu G.J. het hierdie Romeinse keiser die stad na homself vernoem. Die Latynse naam vir die Olyfberg verskyn ook op die kaart.—Lukas 21:37.

Het alle paaie na Rome gelei?

Party paaie het na Aquileia gelei, ’n stad wat in die noordooste van Italië geleë was. Op die kaart het Aquileia sterk mure en wagtorings. Aangesien dit belangrike kruispaaie beheer het en ’n uitstekende hawe gehad het, was Aquileia een van die belangrikste stede in die Romeinse Ryk.

Die Via Egnatia het regoor die Balkanskiereiland geloop van die Adriatiese kus af tot by Konstantinopel, wat nou as Istanboel bekend staan. Die Peutinger-kaart dui die ligging van hierdie stad aan met die simbool van ’n godin wat op ’n troon sit maar gereed is vir oorlog. Verskeie paaie het na Siriese Antiogië gelei, wat nou die Turkse stad Antakya is. Naas Rome en Aleksandrië was Antiogië die derde grootste stad van die Romeinse Ryk. Hier word ’n sittende godin met ’n stralekrans uitgebeeld.

Op die Peutinger-kaart is daar 12 paaie wat in Rome ingaan. Een hiervan is die Via Appia, of Appiese Weg. Die boek Handelinge dui aan dat die apostel Paulus op sy eerste reis na Rome met hierdie pad langs gereis het. Terwyl Paulus op pad was soontoe, het ’n groep Christene van Rome af met die Via Appia gekom en hom by die Drie Herberge ontmoet, wat ook op die kaart verskyn.—Handelinge 28:15.

Watter simbool gebruik die Peutinger-kaart om Rome te verteenwoordig? Dit beeld die stad uit as ’n magtige keiserin in ’n pers mantel wat op ’n troon sit. Die aardbol en die septer in haar hande verteenwoordig wêreldheerskappy wat vanuit die hoofstad van die ryk uitgeoefen is.

Is dit akkuraat om te sê dat al hierdie paaie na Rome gelei het? Ja, wanneer ’n mens die uitgebreide netwerk van toevoerpaaie in ag neem wat van die hoofpaaie vertak het. Die Peutinger-kaart toon hoe die ryk se hoofpaaie die omvang van sy mag vergroot het, wat Rome in staat gestel het om die provinsies amper 500 jaar lank te oorheers. Vandag kan ’n mens nog steeds op daardie paaie deur die Romeinse Ryk reis—dit wil sê op die “wiele” van jou verbeelding en met die Peutinger-kaart as jou gids.

[Voetnoot]

a Dit is vandag nog die geval met reisigers. Moderne moltreinkaarte is dikwels verwronge, maar terselfdertyd maklik om te gebruik.

[Kaart op bladsy 13-15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

’n Ongewone padkaart—die Peutinger-kaart

SPANJE

MAROKKO

BRITTANJE

FRANKRYK

DUITSLAND

OOSTENRYK

Aquileia

Rome

Vergrote deel op bladsy 15

ITALIË

AFRIKA

GRIEKELAND

Istanboel

EGIPTE

TURKYE

Berg Sinai

Jerusalem

SIRIË

Antakya

Kaspiese See

IRAN

INDIË

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Deel van die Peutinger-kaart wat Rome en die omliggende gebiede uitbeeld

Rome

Aquileia

Istanboel

Jerusalem

Antakya