Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek mislukking verwerk?

Hoe kan ek mislukking verwerk?

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek mislukking verwerk?

“Ek het nou net my rapport gekry, en ek het weer dieselfde vier vakke gedruip. Ek het probeer, maar ek het al weer gedruip.”—Lauren, 15 jaar oud.

“Dit is regtig moeilik om mislukking te verwerk. Jy kan maklik negatief raak.”—Jessica, 19 jaar oud.

MISLUKKING. Dalk hou jy nie eers daarvan om aan dié woord te dink nie. Maar van tyd tot tyd kom ons almal daarvoor te staan. Of jy nou ’n skooltoets druip, jouself in die verleentheid stel, iemand teleurstel vir wie jy omgee of ’n sedelike misstap begaan, mislukking kan verwoestend wees.

Alle mense maak natuurlik foute. “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”, sê die Bybel (Romeine 3:23). Maar party van ons vind dit moeilik om voort te gaan nadat ons ’n fout gemaak het. ’n Jong man met die naam Jason stel dit so: “Ek is vreeslik krities oor alles wat ek doen. Wanneer ek ’n fout maak, lag mense dalk—maar gewoonlik vergeet hulle daarvan. Ek vergeet nie, en ek bly dink oor my fout.”

Om oor jou foute na te dink, is nie noodwendig ’n slegte ding nie—veral nie as dit jou aanspoor om te probeer verbeter nie. Maar langdurige en volgehoue selfkritiek is skadelik en teenproduktief. Spreuke 12:25 sê: “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig.”

Beskou ’n man in die Bybel met die naam Epafroditus. Hy is na Rome gestuur om die apostel Paulus persoonlik by te staan. Maar Epafroditus het siek geword en kon nie hierdie toewysing uitvoer nie. Trouens, op die ou end moes Paulus hóm versorg! Paulus het gereël om Epafroditus huis toe te stuur, en hy het die plaaslike gemeente in kennis gestel dat hierdie getroue man ook terneergedruk geword het. Die rede? “Julle [het] gehoor . . . dat hy siek geword het”, het Paulus verduidelik (Filippense 2:25, 26). Toe Epafroditus besef het dat ander weet dat hy siek is en nie sy verpligtinge kan nakom nie, het hy moontlik gevoel dat hy ’n mislukking is. Geen wonder dat hy terneergedruk geword het nie!

Is daar enige manier om die pyn te vermy wat deur mislukking veroorsaak word?

Ken jou perke

Een manier om die moontlikheid van mislukking te verminder, is om vir jou verstandige, beskeie doelwitte te stel. “Wysheid is by die beskeidenes”, sê die Bybel (Spreuke 11:2; 16:18). En ’n beskeie persoon is bewus van sy of haar beperkings. Dit is goed as jy soms vir jou uitdagings stel om jou vaardighede en vermoëns te verbeter. Maar wees realisties. Jy is miskien nou eenmaal nie goed in wiskunde nie of het nie die grasie en koördinasie van ’n topatleet nie. ’n Jong man met die naam Michael erken: “Ek weet ek is nie goed in sport nie. Wanneer ek dus aan sport deelneem, verwag ek nie om te wen nie.” Hy verduidelik: “Jy moet vir jou doelwitte stel wat jy kan bereik.”

Beskou die gesindheid van 14-jarige Yvonne, wat aan spina bifida en serebrale gestremdheid ly. “Ek kan nie loop of dans of hardloop soos ander nie”, sê Yvonne. “Dit frustreer my dat ek nie kan doen wat ander doen nie. Die meeste mense verstaan regtig nie. Maar ek kan dit verwerk.” Haar raad? “Moenie ophou probeer nie. Hou net aan. As jy misluk of sleg vaar, moenie tou opgooi nie. Hou net aan om jou bes te doen.”

Terselfdertyd moet jy jou nie pynig deur onredelike vergelykings met ander te maak nie. Andrew, ’n 15-jarige, sê: “Ek probeer om my nie met ander te vergelyk nie omdat ons almal verskillende sterk punte en vermoëns het.” Andrew se opmerkings is in ooreenstemming met die Bybel se woorde in Galasiërs 6:4: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”

Ander se hoë verwagtinge

Maar partykeer word daar hoë verwagtinge van jou gekoester—deur ouers, onderwysers of ander. En jy besef dat jy hulle eenvoudig nie tevrede kan stel nie, al probeer jy hoe hard. Boonop spreek sulke mense hulle teleurstelling dalk in woorde uit wat jou irriteer of miskien selfs verpletter (Job 19:2). Jy besef waarskynlik dat jou ouers en ander jou nie opsetlik probeer seermaak nie. Soos Jessica sê: “Baie keer besef hulle nie eers watter uitwerking hulle op jou het nie. Somtyds is dit net ’n misverstand.”

Maar sien hulle dalk iets wat jy nie sien nie? Dit kan byvoorbeeld wel so wees dat jy jou onderskat. Dit sal verstandig wees as jy hulle aansporings nie ignoreer nie maar eerder ‘na dissipline luister’ (Spreuke 8:33). Michael verduidelik: “Dit is vir jou eie beswil. Hulle wil hê dat jy beter moet doen, jouself moet verbeter. Beskou dit as ’n uitdaging.”

Maar sê nou dit voel vir jou asof die eise wat ouers en ander aan jou stel, eenvoudig onredelik is—dat jy ongetwyfeld gaan misluk? Dan sal dit verstandig wees om met hulle te praat—op ’n eerbiedige maar openhartige manier—en vir hulle te sê hoe jy voel. Saam sal julle dalk meer realistiese doelwitte kan stel.

“Mislukkings” in jou geestelike lewe

Onder Jehovah se Getuies kom jongmense voor die uitdaging te staan om hulle toewysing as ’n bedienaar van God uit te voer (2 Timoteus 4:5). As jy ’n jong Christen is, voel jy dalk soms onbekwaam. Miskien voel jy dat jy nie juis baie goeie antwoorde by die vergaderinge gee nie. Of miskien vind jy dit moeilik om die Bybel se boodskap aan ander te verduidelik. Jessica het byvoorbeeld die Bybel met ’n ander tienderjarige meisie gestudeer. Haar Bybelstudent het ’n ruk lank goeie vordering gemaak. Maar skielik het die meisie besluit dat sy God nie meer wou dien nie. Jessica sê: “Ek het soos ’n mislukking gevoel.”

Hoe het Jessica daardie gevoelens verwerk? Eerstens moes sy besef dat haar student nie vir haar verwerp het nie, maar vir God. Dit het haar ook gehelp om te peins oor die Bybelse voorbeeld van Petrus, ’n godvrugtige man wat ’n aantal tekortkominge gehad het. Sy verduidelik: “Die Bybel toon dat Petrus sy swakhede te bowe gekom het en dat Jehovah hom op baie maniere gebruik het om Koninkryksbelange te bevorder” (Lukas 22:31-34, 60-62). As jy wel jou vermoë as ’n onderrigter moet verbeter, kan jy jou gerus daarop toelê (1 Timoteus 4:13). Maak gebruik van die hulp van diegene in die gemeente wat geestelik ryp is en jou kan onderrig en leer.

Maar miskien is dit die deur-tot-deur-bediening wat vir jou ’n groot uitdaging is. Jason erken: “Elke deur wat toegaan, voel vir my soos ’n klein mislukking.” Hoe verwerk hy dit? “Ek moet onthou dat ek nie werklik misluk het nie.” Ja, hy het daarin geslaag om te doen wat God hom beveel het om te doen—om te preek! En al is dit nie aangenaam wanneer mense nie luister nie, sal nie almal die Bybel se boodskap verwerp nie. “Wanneer ek iemand vind wat luister”, sê Jason, “dan weet ek dat dit alles die moeite werd is.”

Ernstige foute

Sê nou jy begaan ’n ernstige fout—of pleeg selfs ’n ernstige sonde? Ana, wat 19 jaar oud is, het so ’n fout begaan. a Sy erken: “Ek het die gemeente, my gesin en veral Jehovah God teleurgestel.” Om te herstel, moet jy berou toon en die hulp van geestelike ouer manne in die gemeente soek (Jakobus 5:14-16). Ana onthou een ouer man se bemoedigende woorde aan haar: “Hy het gesê dat Jehovah, ten spyte van al die negatiewe dinge wat koning Dawid gedoen het, nog steeds bereid was om hom te vergewe, en Dawid het herstel. Dit het my gehelp” (2 Samuel 12:9, 13; Psalm 32:5). Jy moet ook doen wat jy kan om jou geestelik op te bou. “Ek lees die boek Psalms oor en oor,” sê Ana, “en ek het ’n boek waarin ek bemoedigende tekste neerskryf.” Mettertyd kan jy selfs van ’n ernstige sonde herstel. Spreuke 24:16 sê: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan.”

Moenie tou opgooi nie

Natuurlik kan selfs betreklike klein mislukkings nog steeds seermaak. Wat kan jou help om nie tou op te gooi nie? Eerstens moet jy jou foute op ’n realistiese wyse beskou. Michael sê: “Moenie dink dat jy net een groot mislukking is nie; probeer eerder vasstel waarin jy misluk het en wat dit veroorsaak het. Op hierdie manier kan jy volgende keer beter doen.”

Vermy dit ook om jouself te ernstig op te neem. Daar is “’n tyd om te lag”—en dit kan beteken dat jy ook vir jouself moet lag! (Prediker 3:4). Wanneer jy mismoedig voel, kan jy dink aan iets waarin jy goed is, soos ’n stokperdjie of ’n sportsoort. “Om ryk te wees in goeie werke”—soos om jou geloof aan ander bekend te maak—kan jou help om positiewer oor jouself te voel.—1 Timoteus 6:18.

Laastens moet jy onthou: “Jehovah is barmhartig en genadig . . . Hy sal nie vir altyd verwyt nie” (Psalm 103:8, 9). Jessica sê: “Ek voel hoe nader ek aan Jehovah God kom, hoe meer vertroue kan ek hê dat hy my sal ondersteun en help met enigiets wat ek moet deurmaak.” Ja, dit ís vertroostend om te weet dat jou hemelse Vader jou ten spyte van jou tekortkominge waardeer.

[Voetnoot]

a Haar naam is verander.

[Prent op bladsy 20]

Wanneer jy oorweldig voel deur die eise wat aan jou gestel word, moet jy op ’n eerbiedige manier sê hoe jy voel

[Prent op bladsy 21]

As jy jou toelê op dinge waarin jy goed is, kan dit jou help om jou gevoelens van mislukking uit die weg te ruim