Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Om saam te bly—Is dit ’n goeie grondslag vir die huwelik?

Om saam te bly—Is dit ’n goeie grondslag vir die huwelik?

Om saam te bly—Is dit ’n goeie grondslag vir die huwelik?

TWEE mense van die teenoorgestelde geslag wat saambly sonder om getroud te wees, “het in nywerheidsgemeenskappe regoor die wêreld ’n algemene verskynsel geword”, sê die Journal of Marriage and Family. En “ongeveer die helfte van die paartjies wat saambly, sien dit as ’n manier om voor die huwelik vas te stel hoe verenigbaar hulle is”. Hierdie reëling behoort dus “te voorkom dat onverenigbare paartjies trou en huwelike wat hieruit voortspruit, stabieler te maak”, sê die Journal.

“Die bewyse toon egter dat die teenoorgestelde waar is”, sê die Journal voorts. “Diegene wat saamgebly het voordat hulle getrou het, ondervind minder huweliksbevrediging, bring minder tyd deur om dinge saam te doen, het hewiger meningsverskille, ontvang minder ondersteuning van hulle maat, het minder sukses om probleme op te los [en] daar is meer gevalle van huweliksprobleme onder hulle . . . Daarbenewens het paartjies wat voor die huwelik saambly, ’n groter kans dat hulle huwelik in ’n egskeiding sal eindig in vergelyking met paartjies wat trou sonder om eers saam te bly.”

Wat uit ’n menslike oogpunt miskien verstandig lyk, is dalk in werklikheid baie onverstandig, soos hierdie studie toon. Hierdie feit beklemtoon hoe waar die woorde in Jeremia 10:23 is: “Dit behoort nie aan die mens . . . om sy voetstappe te rig nie.” Hoeveel verstandiger is dit tog om ons tot God se Woord, die Bybel, te wend, wat uitstekende raad oor die huwelik bevat! (2 Timoteus 3:16). Die Bybel sê byvoorbeeld aangaande die huweliksverhouding: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.”—Genesis 2:24; Matteus 19:5.

As ons op hierdie voorskrif van God ag slaan, eerder as om gebrekkige en dikwels wisselvallige menslike redenasies te volg, verbeter dit grootliks die vooruitsigte op ’n waarlik gelukkige en blywende huwelik.—Spreuke 3:5, 6.