Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Die Groot Muur van China verbrokkel

“Twee derdes van die Groot Muur van China is al deur toeriste, ontwikkelaars en erosie vernietig”, berig die Londense koerant The Guardian. “Die wêrelderfenis-terrein is besig om uitmekaar te val. . . . Volgens berig is dele daarvan deur vandale vernietig, vol graffiti en afgebreek om in varkhokke en steenkoolmyne gebruik te word.” Die Wêreldmonumentefonds, wat die muur as “een van die grootste kulturele erfenisse op aarde” beskryf, het dit onlangs op sy lys van die wêreld se mees bedreigde boukundige terreine geplaas. Selfs diegene wat veronderstel is om die muur te beskerm, het tot sy agteruitgang bygedra. In een geval het “bewaringsbeamptes wat nie oor die nodige fondse beskik nie en swak opgelei is”, ’n ontwikkelaar blykbaar toestemming gegee om ’n 14 meter lange stuk van die muur af te breek wat 600 jaar oud is. Omdat die muur so ontsaglik lank is—oorspronklik sowat 6 400 kilometer—is dit feitlik onmoontlik om dit behoorlik in stand te hou.

Uitheemse verstekelinge

“Ballaswater, wat gebruik word om skepe balans en stabiliteit te gee, bevat duisende mariene spesies wat nuwe omgewings kan indring wanneer dit in hawens uitgepomp word”, waarsku die Wêreld-natuurfonds (WWF), ’n omgewingsgroep. Die uitheemse spesies, van jellievisse tot alge, “kan net soveel skade aanrig as oliestortings” en kan ekosisteme verwoes, sê ’n verslag deur Reuters. “Spesies wat die reis oorleef, kan in nuwe habitats floreer omdat daar nie roofvyande en parasiete is nie.” Voorbeelde hiervan is die sebramossel wat van Europa afkomstig is en die waterweë van die Groot Mere-streek in Noord-Amerika ingedring het, Asiatiese seewier wat in Australië beland het en jellievisse van Noord-Amerika wat na die Swart See geneem is. Wêreldwyd word ’n geskatte tienmiljard ton ballaswater elke jaar uitgepomp. “Uitvoerbare ekonomiese oplossings om ballaswater te behandel, bestaan nog nie”, het Andreas Tveteraas, ’n woordvoerder vir die WWF, gesê.

Internetselfmoorde

Egskeiding, werkloosheid asook dwelm- en alkoholmisbruik word nog steeds as die hooffaktore aangegee wat bydra tot ’n “groot toename in selfmoorde onder jong mans” in Engeland en Wallis, berig ’n artikel in The Times van Londen. Maar Internetkletskamers waar jongmense ontmoet en selfmoorde reël, veroorsaak toenemende kommer. “Die internet lok diegene wat die meeste tot selfmoord geneig is: jong mans. Vyf-en-sewentig persent van selfmoorde word deur mans gepleeg, en 80 persent van hulle is tussen die ouderdomme van 15 en 24”, sê die koerant. Daar is moontlik duisende webwerwe oor selfmoord op die Internet. “Die meeste mense wat selfmoordwebwerwe besoek, voel dat niemand hulle liefhet nie, en het blykbaar reeds selfmoord oorweeg of probeer pleeg, en daar is baie raad oor hoe om seker te maak dat niemand jou ompraat nie”, voeg die artikel by. Party webwerwe moedig die potensiële selfmoordslagoffer aan om voort te gaan en nie van plan te verander nie.

Briewe vir God

Elke jaar “lewer [Israel se posdiens] honderde briewe af wat aan God geaddresseer is”, berig The Economist. “Briewe kom van alle uithoeke van die aarde, die hele jaar deur, maar God se penvriende is op hulle ywerigste voor godsdienstige vakansiedae soos Kersfees of Jom Kippoer.” Die briewe bevat lof, klagtes of versoeke—dikwels om vergifnis of hulp. Wat word met die briewe gedoen? “Briewe wat die afsender se adres op het, word teruggestuur”, sê The Economist. “Die res word by die Westelike Muur (“Klaagmuur”) in Jerusalem afgelewer, per adres die hoofrabbi, en word dan in die krake van die heilige muur gesit. As dit lyk of die skrywer nie Joods is nie, word sy brief na die departement van godsdienssake aangestuur.” Maar “briewe aan God word slegs een of twee keer per jaar afgelewer”, sê die artikel. Israel se telekommunikasie-maatskappy “het [nou] ’n toegewyde fakslyn na God en het so pas ’n e-posadres geopen vir diegene wat hulle kommunikasie met die hemel wil bespoedig”.

Seerowery neem toe

Volgens die ICC- Internasionale Maritieme Buro “was daar verlede jaar wêreldwyd meer en gewelddadiger aanvalle deur seerowers, met altesaam 445 gevalle wat aangemeld is in vergelyking met 370 in 2002 . . . Die getal aanvalle waartydens vuurwapens gebruik is, het van 68 in 2002 tot 100 toegeneem, en die getal gyselaars wat aangehou is, het amper verdubbel tot 359 seevaarders. In 311 gevalle het die seerowers aan boord van die skepe gegaan en altesaam 19 skepe is geskaak.” Een-en-sewentig bemanningslede en passasiers is as vermis aangegee, terwyl 21 seevaarders vermoor is—11 meer as die vorige jaar. Indonesië se gebiedswaters, waar 121 aanvalle plaasgevind het, het weer eens die meeste gevalle van seerowery gehad, gevolg deur Bangladesj met 58 gevalle en Nigerië met 39. “Al die skakings wat aangemeld is, is in twee hoofkategorieë verdeel”, sê die buro. Dit is “militaristiese operasies deur militante groepe wat bemanningslede vir ’n losprys aangehou het om geld vir hulle saak te kry en aanvalle op maklike teikens soos sleepbote en vragskuite”.

Studies oor seksuele molestering deur priesters

“Volgens twee langverwagte studies was daar ’n epidemie van kindermolestering in die [Amerikaanse] Rooms-Katolieke Kerk waarby ten minste 4 persent van priesters oor ’n tydperk van 52 jaar betrokke was, en dit het ’n hoogtepunt bereik met die groep wat in 1970 tot priesters georden is, waarvan een uit elke 10 priesters uiteindelik van molestering aangekla is”, berig The New York Times. “Van 1950 tot 2002 is daar na bewering 10 667 kinders deur 4 392 priesters gemolesteer, maar die studies waarsku dat selfs hierdie syfers ’n onderskatting is” omdat baie sake nie aangemeld is nie. Een studie, wat by die John Jay-kollege vir Strafregspleging in New York gedoen is, het aan die lig gebring dat “priesters van molestering aangekla is in meer as 95 persent van die bisdomme en ongeveer 60 persent van die geestelike ordes”. Die ander studie, deur ’n Katolieke nasionale ondersoekraad, het na ’n kultuur in Katolieke kweekskole verwys wat “sedelike laksheid verdra”.

Matige oefening aanbeveel

“Matige oefening, soos om 20 kilometer per week te stap, kan mense wat nie op ’n dieet is nie, help om gewigstoename te voorkom en kan gewigsverlies bevorder”, berig FDA Consumer. ’n Agt maande lange studie waarby “182 onaktiewe oorgewig mans en vroue tussen die ouderdomme van 40 en 65 jaar” betrokke was, het bevestig “dat daar ’n duidelike verband is tussen die hoeveelheid fisiese aktiwiteit waaraan ’n mens deelneem en die hoeveelheid gewig wat jy verloor”. Die deelnemers is in vier groepe verdeel en het hulle gewone dieet gevolg. Drie van die groepe het aan verskillende hoeveelhede oefening deelgeneem. Die vierde, ’n kontrolegroep, het nie geoefen nie. “Die kontrolegroep het tydens die studie gewig opgetel”, sê die artikel. “In vergelyking met die kontrolegroep was die groepe wat geoefen het, se middellyf- en heupmates aansienlik kleiner.” Volgens die bevindinge kan gewig dikwels beheer word deur matige oefening te doen, soos om elke dag ’n halfuur lank te stap.