Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Visvang op die ys—Waarom so gewild?

Visvang op die ys—Waarom so gewild?

Visvang op die ys—Waarom so gewild?

Deur Ontwaak!-medewerker in Finland

DIE pragtige, spierwit winterdae van die Noorde bied baie geleenthede vir buitemuurse aktiwiteite. Om die skitterende wit landskap en koue vars lug te geniet, gaan stap, ski of skaats mense, of gaan ry hulle op ’n toboggan. Dan is daar diegene wat graag op die ys visvang. Ek wonder al lank: ‘Waarom geniet mense dit so om op die ys vis te vang?’ Daarom het ek my vriend Martti, ’n ervare ysvisserman, gevra om my saam te neem om op die ys te gaan visvang.

Dit is douvoordag wanneer ek Martti voor sy huis ontmoet. Hy het reeds al die toerusting ingepak: visstokke, lokaas, voustoele en die belangrikste stuk gereedskap—’n groot ysboor om gate in die ys mee te maak. Al wat ek moes saambring, is geskikte klere. ’n Mens moet warm genoeg aantrek. ’n Ysvisserman sit vir lang tye, en op die oop seë en mere kan die wind ysig wees. Martti gaan byna altyd see toe om vis te vang, want hy woon nie ver daarvandaan nie. As hy in die binneland gewoon het, sou hy waarskynlik op ’n meer of ’n rivier visgevang het.

Wanneer ons by die kus kom en tot op die ys loop, wonder ek: ‘Is dit veilig om so op die seeys te loop?’ Hierdie keer is dit heel veilig. Danksy die ysige weer in die vroeë winter, is die ys baie dik. Nietemin moet ’n mens altyd versigtig wees wanneer jy op die ys is. Selfs gedurende kwaai winters kan die ys plek-plek dun wees. Dit is belangrik om bewus te wees van die toestand van die ys en van die gevare wat dit inhou om op die ys vis te vang, asook om behoorlik toegerus te wees. Nadat ons ’n entjie gestap het, begin Martti ’n gat in die ys boor. Die ysboor sny deur die ys soos ’n mes deur botter, en in ’n ommesientjie het hy die gat, wat 70 sentimeter diep is, gemaak. Martti gebruik ’n skuimspaan om ys en sneeumodder uit die gat te skep. Dan gaan sit hy op sy voustoel, kry sy lyn reg en gooi die hoek in die gat.

Hoewel dit redelik maklik is om op die ys vis te vang—boor net ’n gat in die ys en begin visvang—verloop die proses gladder as ’n mens ’n bietjie praktiese kennis het. Dit is byvoorbeeld noodsaaklik om die regte plek te kies. Omdat visse in die winter minder energie gebruik om kos te soek, is dit belangrik om te weet waar die visse bymekaarkom. Martti het by ’n vorige geleentheid besluit waar ons vandag sou kom visvang. As ons na onbekende waters gegaan het, sou hy die kaart waarskynlik noukeurig bestudeer het en vooraf besluit het waar om na vis te soek. ’n Ysvisserman leer ook om die weer dop te hou en te sien watter uitwerking dit op die beweging van die vis het. Hy kan na vis soek deur op verskillende plekke gate in die ys te boor. ’n Visserman kan op een dag tientalle gate boor.

Vandag lyk dit of die vis wegkruip of nie honger is nie. Maar dit pla ons nie. Ek het immers uitgevind waarom visvang op die ys so gewild is. Dit gaan nie soseer oor die vis wat gevang word nie, maar om buite te wees en die natuur te geniet. Martti som dit so op: “Veral vir stadsbewoners is dit soos ’n vakansie. Jy vergeet van al jou ander bekommernisse.”

[Prent op bladsy 27]

Besig om deur die ys te boor

[Prent op bladsy 27]

Ysboor