Vooruitgang in die stryd teen vigs
Vooruitgang in die stryd teen vigs
“Nog nooit tevore in die mensegeskiedenis is soveel in so ’n kort tydjie oor so ’n ingewikkelde siekte geleer nie”, skryf dr. Gerald J. Stine in sy boek AIDS Update 2003. Hy meen dat “die geskiedenis van MIV/vigs van merkwaardige wetenskaplike prestasies getuig”. Wat is bereik?
MODERNE mediese kennis en kundigheid het navorsers in staat gestel om kombinasies van geneesmiddels te ontwikkel wat nuwe hoop aan MIV-besmette mense bied. Daarbenewens het opvoedkundige programme oor vigs bevredigende resultate in baie lande gelewer. Maar is die sukses van sulke pogings ’n teken dat die einde van hierdie dodelike epidemie in sig is? Kan huidige wetenskaplike en opvoedkundige pogings die verspreiding van vigs stopsit? Beskou die volgende.
Behandeling met medisyne
“’n Ligpunt in die stryd teen vigs” was die opskrif van die tydskrif Time se nommer van 29 September 1986. Hierdie “ligpunt” het ontstaan as gevolg van uitslae van ’n kliniese proefneming waarin daar gebruik gemaak is van asidotimidien (AZT), ’n antiretrovirale middel, om MIV te behandel. Dit was merkwaardig dat MIV-pasiënte wat AZT geneem het, langer geleef het. Sedertdien het antiretrovirale middels (ARV-middels) die lewens van honderdduisende mense verleng. (Sien die venster “Wat is ARV-middels?” op bladsy 7) Hoe suksesvol was dit tot dusver in die behandeling van MIV-besmetting?
Ondanks die aanvanklike entoesiasme oor die bekendstelling van AZT het die tydskrif Time berig dat vigs-navorsers “oortuig was dat AZT nie die heel beste wapen teen vigs [is] nie”. Hulle was reg. AZT het ’n nadelige uitwerking op sommige pasiënte gehad, en daarom is ander ARV-middels ontwikkel. Later het die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad ’n kombinasie van ARV-middels goedgekeur vir pasiënte wat MIV in ’n gevorderde stadium het. Behandeling met ’n kombinasie van middels, wat behels dat ’n pasiënt drie of meer antiretrovirale middels neem, is geesdriftig deur vigs-werkers verwelkom. Trouens, by ’n internasionale konferensie oor vigs wat in 1996 gehou is, het een dokter selfs aangekondig dat die geneesmiddels mense moontlik heeltemal van MIV kan genees!
Ongelukkig het dit binne ’n jaar duidelik geword dat selfs pasiënte wat streng by die drievoudige behandeling bly, nie van MIV genees is nie.
Nietemin sê ’n verslag deur UNAIDS dat “behandeling met ’n kombinasie van ARV-middels mense wat MIV-positief is, in staat stel om langer, gesonder en produktiewer lewens te lei”. Byvoorbeeld, in die Verenigde State en Europa het die gebruik van ARV-middels vigs-sterfgevalle met meer as 70 persent verminder. Daarbenewens het etlike studies getoon dat sekere ARV-behandelings die gevaar grootliks kan verminder dat ’n besmette swanger vrou MIV aan haar kind oordra.Nogtans is daar miljoene MIV-pasiënte wat nie toegang tot ARV-middels het nie. Waarom nie?
“’n Siekte van armoede”
ARV-behandeling is baie algemeen in hoë-inkomstelande. Maar die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat dat ARV-behandeling in party ontwikkelende lande net vir 5 persent van diegene wat dit nodig het, beskikbaar is. Verteenwoordigers van die Verenigde Nasies het hierdie wanbalans selfs beskryf as “’n ernstige onreg” en “’n verskriklike skande vir die moderne wêreld”.
Ongelyke toegang tot behandeling kan ook onder burgers van dieselfde land voorkom. The Globe and Mail berig dat 1 uit 3 Kanadese wat aan vigs sterf, nooit met ARV-middels behandel is nie. Hoewel die middels verniet in Kanada beskikbaar is, word sekere groepe oor die hoof gesien. “Diegene wat nie behoorlike behandeling kry nie”, sê die Globe, “is dié wat dit die nodigste het: inboorlinge, vroue en die armes.” The Guardian haal ’n MIV-positiewe moeder in Afrika aan wat sê: “Ek verstaan dit nie. Waarom kan hierdie wit mans wat seks met mans het, bly lewe en ek moet sterf?” Die antwoord op haar vraag kan gevind word in die ekonomiese aspekte van die vervaardiging en verspreiding van geneesmiddels.
In die Verenigde State en Europa is die gemiddelde koste van drievoudige ARV-behandeling tussen R63 000 en R94 000 per jaar. Hoewel generiese ekwivalente van hierdie medisynekombinasies nou in sommige ontwikkelende lande teen R1 900 of minder per jaar beskikbaar is, is dit nog steeds ver buite die bereik van baie wat MIV het en in gebiede woon waar ARV-middels die nodigste is. Dr. Stine som die situasie so op: “Vigs is ’n siekte van armoede.”
Die farmaseutiese bedryf
Om generiese ekwivalente van gepatenteerde geneesmiddels te ontwikkel en teen verlaagde pryse te verkoop, was nie maklik nie. Streng patentwette in baie lande verbied die ongemagtigde reprodusering van geneesmiddels met handelsname. “Dit is ’n handelsoorlog”, sê die hoof van een groot farmaseutiese maatskappy. Om generiese geneesmiddels te vervaardig en dit dan teen ’n wins aan ontwikkelende lande te verkoop, sê hy, “is nie regverdig teenoor die mense wat daardie geneesmiddels uitgevind het nie”. Farmaseutiese vervaardigers van handelsnaamprodukte voer ook aan dat krimpende winste tot minder fondse vir mediese navorsing-en-ontwikkelingsprogramme kan lei. Ander is bekommerd dat goedkoop ARV-middels wat vir ontwikkelende lande bedoel is, in werklikheid in ontwikkelde lande op die swartmark kan beland.
Voorstanders van goedkoper ARV-geneesmiddels meen dat nuwe geneesmiddels vervaardig kan word teen tussen 5 en 10 persent van
wat dit volgens die farmaseutiese bedryf kos. Hulle sê ook dat navorsing en ontwikkeling deur private farmaseutiese maatskappye gewoonlik siektes ignoreer wat armer lande teister. Daniel Berman, koördineerder van die projek Toegang tot Noodsaaklike Medisyne, sê dus: “Wat nuwe geneesmiddels betref, moet daar ’n internasionaal-ondersteunde, afdwingbare stelsel wees wat pryse afbring na vlakke wat vir mense in ontwikkelende lande bekostigbaar is.”Om in hierdie wêreldwye behoefte aan ARV-behandeling te voorsien, het die WGO met die sogenoemde drie-teen-vyf-plan vorendag gekom om ARV-middels teen die einde van 2005 aan driemiljoen mense te voorsien wat met MIV/vigs lewe. “Die drie-teen-vyf-doelwit moenie nog ’n onverwesenlike VN-doelwit word nie”, het Nathan Ford van Médecins Sans Frontières gewaarsku. “Dit is slegs die helfte van die mense met MIV/vigs wat volgens skatting vandag behandeling nodig het, en hierdie getal sal [teen 2005] baie groter wees.”
Ander struikelblokke
Selfs as genoeg ARV-middels aan ontwikkelende lande voorsien sou word, sal ander struikelblokke oorbrug moet word. Party geneesmiddels moet met voedsel en skoon water geneem word, maar in sommige lande kan honderdduisende mense net elke tweede dag eet. ARV-middels (dikwels 20 of meer pille per dag) moet elke dag op ’n sekere tyd geneem word, maar baie pasiënte besit nie ’n horlosie nie. Kombinasies van geneesmiddels moet volgens ’n pasiënt se toestand aangepas word. Maar in baie lande is daar ’n ernstige tekort aan dokters. Om ARV-behandeling aan ontwikkelende lande te voorsien, sal beslis ’n moeilike uitdaging wees.
Selfs vir pasiënte in ontwikkelde lande is behandeling met ’n kombinasie van geneesmiddels ’n uitdaging. Navorsing toon dat dit onrusbarend algemeen is dat pasiënte nie al hulle voorgeskrewe medisyne op vasgestelde tye neem nie. Dit kan daartoe lei dat die virus teen geneesmiddels bestand word. Hierdie soorte MIV wat teen geneesmiddels bestand is, kan aan ander oorgedra word.
Dr. Stine wys op nog ’n uitdaging waarvoor MIV-pasiënte te staan kom. “Die paradoks van MIV-behandeling”, sê hy, “is dat die geneesmiddels ’n mens soms erger laat voel as die siekte, veral wanneer daar met behandeling begin word voordat die simptome verskyn.” MIV-pasiënte wat ARV-middels gebruik, ondervind gewoonlik newe-effekte soos suikersiekte, die herverspreiding van vet, hoë cholesterol en verlaagde beendigtheid. Sommige newe-effekte is lewensgevaarlik.
Pogings om dit te voorkom
Hoe suksesvol was pogings om die verspreiding van vigs te vertraag en hoërisikogedrag te verander? Gedurende die 1990’s het grootskaalse opvoedkundige vigs-veldtogte in Uganda die voorkomssyfer van MIV in hierdie land verminder van omtrent 14 persent tot omtrent 8 persent in 2000. So ook het Senegal se pogings om sy burgers oor die gevaar van MIV-besmetting in te lig, hierdie land gehelp om ’n MIV-voorkomssyfer van minder as 1 persent onder die volwasse bevolking te handhaaf. Sulke resultate is aanmoedigend.
Vigs-opvoeding in ander lande was egter nie so suksesvol nie. ’n Opname in 2002 onder 11 000 jong Kanadese het getoon dat die helfte van die leerlinge in hulle eerste jaar van hoërskool geglo het dat vigs genees kan word. Volgens ’n Britse studie wat dieselfde jaar gedoen is, het 42 persent van seuns tussen die ouderdomme van 10 en 11 nog nooit van MIV of vigs gehoor nie. Maar selfs jongmense wat bewus is van MIV en vigs en die feit dat dit nie genees kan word nie, het oorgerus geraak. “Vir baie jongmense”, sê een dokter, “het MIV net een van baie probleme in hulle lewe geword, soos of hulle genoeg te ete gaan kry, by wie hulle gaan woon en of hulle die geleentheid sal kry om skool te gaan.”
’n Mens kan dus verstaan waarom die WGO sê dat “die doeltreffendste benadering om die epidemie te beveg, waarskynlik is om op jongmense te fokus, veral in lande met ’n hoë voorkomssyfer”. Hoe kan jongmense gehelp word om te reageer op die waarskuwings wat hulle oor vigs ontvang het? En is dit realisties om ’n genesing te wagte te wees?
[Lokteks op bladsy 6]
Verlede jaar het 2 persent van diegene in Afrika wat ARV-middels nodig het, dit ontvang, in vergelyking met 84 persent in die Amerikas
[Venster/Prente op bladsy 7]
Wat is ARV-middels? a
By ’n gesonde persoon stimuleer of aktiveer helper-T-selle die immuunstelsel om infeksies te bestry. MIV val veral hierdie helper-T-selle aan. Dit gebruik die T-selle vir replisering, en sodoende verswak en vernietig dit helper-T-selle totdat die immuunstelsel ernstig afgetakel is. Antiretrovirale middels (ARV-middels) belemmer hierdie repliseringsproses.
Tans word hoofsaaklik vier soorte ARV-middels toegedien. Nukleosied-analoë en nienukleosied-analoë verhoed dat MIV hom op iemand se DNS repliseer. Protease-inhibeermiddels keer dat ’n spesifieke protease-ensiem wat in besmette selle voorkom, die virus herbou en meer MIV voortbring. Die doel van fusie-inhibeerders is om te keer dat selle deur MIV binnegedring word. Deur MIV-replisering te onderdruk, kan ARV-middels keer dat MIV-besmetting so vinnig ontwikkel in vigs, die gevorderdste kliniese stadium van MIV.
[Voetnoot]
a Antiretrovirale behandeling word nie voorgeskryf vir almal wat MIV het nie. Diegene wat MIV het of vermoed dat hulle dit het, moet ’n professionele gesondheidswerker raadpleeg voordat hulle met enige mediese behandelingsprogram begin. Ontwaak! staan nie enige spesifieke benadering voor nie.
[Prent]
KENIA—’n Dokter lig ’n vigs-pasiënt oor ARV-behandeling in
[Erkenning]
© Sven Torfinn/Panos Pictures
[Prent]
KENIA—’n Vigs-pasiënt ontvang haar ARV-medisyne by die hospitaal
[Erkenning]
© Sven Torfinn/Panos Pictures
[Venster/Prente op bladsy 8]
Vroue en vigs
Vroue maak nou 50 persent van volwassenes uit wat met MIV/vigs lewe
Toe vroue in 1982 met vigs gediagnoseer is, is daar gedink dat hulle deur binneaarse dwelmgebruik besmet is. Weldra is daar besef dat vroue deur normale geslagsomgang besmet kan word en dat veral hulle in groot gevaar verkeer om MIV op te doen. Wêreldwyd maak vroue nou 50 persent van volwassenes uit wat met MIV/vigs lewe. “Vroue en jong meisies, wat sosiaal, kultureel, fisies en ekonomies kwesbaarder is en die grootste deel van die verantwoordelikheid dra om na die siekes en sterwendes om te sien, word die meeste deur die epidemie geraak”, berig UNAIDS.
Waarom is vigs-werkers veral besorg oor die feit dat al hoe meer vroue die siekte opdoen? MIV-besmette vroue ondervind dikwels meer diskriminasie as mans, veral in sommige ontwikkelende lande. As ’n vrou swanger is, word die gesondheid van haar kind in gevaar gestel; as sy alreeds kinders het, word dit ’n uitdaging om na hulle om te sien, veral vir ’n ongetroude moeder. Verder is daar betreklik min inligting oor die unieke kenmerke van MIV-besmette vroue en hulle kliniese versorging.
Sekere kulturele faktore maak die situasie vir vroue baie gevaarlik. In baie lande word daar van vroue verwag om nie seksualiteit te bespreek nie, en hulle loop die gevaar om mishandel te word as hulle weier om geslagsomgang te hê. Die mans het oor die algemeen baie seksmaats en dra onwetend MIV aan hulle oor. Sommige mans in Afrika het geslagsomgang met jonger vroue om MIV te vermy of omdat hulle verkeerdelik glo dat seks met maagde vigs kan genees. Geen wonder nie dat die WGO sê: “Voorkomende maatreëls moet veral mans betrek (maar ook vroue) om aan vroue beskerming te verleen.”
[Prent]
PERU—’n MIV-positiewe moeder met haar MIV-negatiewe dogter
[Erkenning]
© Annie Bungeroth/Panos Pictures
[Prent]
THAILAND—Studente besoek ’n vigs-pasiënt as deel van hulle opleiding
[Erkenning]
© Ian Teh/Panos Pictures
[Prent]
KENIA—’n Vergadering met lede van die organisasie Vroue wat met Vigs Saamleef
[Erkenning]
© Sven Torfinn/Panos Pictures
[Venster/Prent op bladsy 9]
Mites oor vigs
◼ MIV-besmette mense lyk siek. “Dit neem gemiddeld 10 tot 12 jaar vir iemand wat met MIV besmet is, om vigs te ontwikkel”, sê dr. Gerald J. Stine. “Gedurende hierdie tyd sal die MIV-besmette persoon min of geen herkenbare simptome hê nie, maar hy kan ander mense besmet.”
◼ Vigs is ’n homoseksuele siekte. Vigs is aanvanklik, vroeg in die 1980’s, as ’n homoseksuele siekte geïdentifiseer. Vandag is heteroseksuele omgang egter die vernaamste manier waarop MIV in ’n groot deel van die wêreld oorgedra word.
◼ Orale seks is “veilige seks”. Volgens die Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming “het baie studies getoon dat MIV en ander seksueel oordraagbare siektes deur middel van orale seks oorgedra kan word”. Die risiko dat MIV deur orale seks oorgedra sal word, is nie so groot soos in die geval van ander seksuele gebruike nie. Nietemin is die gebruik deesdae so algemeen dat sommige dokters verwag dat dit ’n belangrike manier sal word waarop MIV oorgedra word.
◼ Vigs kan genees word. Hoewel antiretrovirale behandeling by sommige pasiënte kan keer dat MIV so vinnig in vigs ontwikkel, is daar op die oomblik geen entstof of geneesmiddel daarvoor nie.
[Prent]
TSJEGGIESE REPUBLIEK—’n Bloedtoets vir vigs, wat deesdae behandel kan word, maar nie genees kan word nie
[Erkenning]
© Liba Taylor/Panos Pictures
[Prent op bladsy 6]
ZAMBIË—Twee jong MIV-positiewe meisies wag vir hulle medisyne
[Erkenning]
© Pep Bonet/Panos Pictures