Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer sal daar nie meer vigs wees nie?

Wanneer sal daar nie meer vigs wees nie?

Wanneer sal daar nie meer vigs wees nie?

Van ’n jong ouderdom af word jongmense met seksuele boodskappe gebombardeer wat promiskuïteit aanmoedig. Binneaarse dwelmgebruik, nog ’n vername manier waarop mense MIV opdoen, is ook baie algemeen. Wanneer jy in ag neem hoe onverantwoordelik mense vandag oor die algemeen optree, wonder jy dalk of daar ooit ’n einde aan vigs sal wees.

GESONDHEIDSDESKUNDIGES sê tereg dat gedragsveranderinge ’n lewensbelangrike strategie in die stryd teen vigs is. “Elke geslag jongmense”, sê ’n verslag wat deur die Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming gepubliseer is, “het deurentyd omvattende gesondheidsinligting en voorkomende maatreëls nodig wat hulle kan help om lewenslange vaardighede te ontwikkel sodat hulle gedragspatrone kan vermy wat tot MIV-besmetting kan lei. Ouers sowel as onderrigters behoort by sulke omvattende programme betrek te word.”

Dit is duidelik dat ouers hulle kinders oor hierdie gevare moet inlig voordat hulle verkeerde inligting by portuurs of ander kry. Dit is nie altyd maklik nie. Maar dit kan jou kind se lewe red. Om kinders oor seks en dwelms in te lig, hoef hulle nie van hulle onskuld te ontneem nie. Dit kan hulle in werklikheid beskerm sodat hulle nie hulle kuisheid verloor nie.

Ouerlike opleiding is noodsaaklik

Onder God se eertydse volk is daar van ouers verwag om hulle kinders in te lig oor geslagsomgang en hoe om hulle gesondheid te beskerm. Interessant genoeg, die wette van die eertydse Israeliete het duidelike sedelike riglyne bevat sowel as gebruike voorgeskryf wat hulle teen besmetting beskerm het (Levitikus 18:22, 23; 19:29; Deuteronomium 23:12, 13). Hoe moes hierdie wette aan die volk geleer word? Jehovah God het vir die Israeliete gesê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees.” Ouers moes eers self verstaan wat die voordele daarvan is om hierdie wette te onderhou en wat die gevolge sou wees as hulle dit nie doen nie. Daarna is hulle beveel: “Jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”—Deuteronomium 6:6, 7.

Een woordeboek definieer “inskerp” as “om te onderrig en in te prent deur gereelde herhaling of vermaning”. Dit sal natuurlik tyd verg. Ouers wat tyd opsysit om hulle seuns en dogters in te lig oor die gevare van dwelmmisbruik en ongeoorloofde seks, het beslis ’n beter kans om te sien dat hulle kinders die gedrag vermy wat daartoe kan lei dat hulle MIV en ander siektes opdoen. a

Vertroosting vir MIV/vigs-lyers

Pogings om MIV/vigs te voorkom, bied dalk nie veel vertroosting vir die miljoene mense wat dit alreeds opgedoen het nie. Behalwe die fisiese uitwerking wat die siekte op hulle het, word hulle dikwels weens hulle toestand gebrandmerk en verwerp. Hoe so? ’n Algemene maar verkeerde opvatting is dat terloopse aanraking MIV kan oordra. ’n Vrees om MIV/vigs op te doen, is verstaanbaar omdat dit oordraagbaar en dodelik is. Sommige mense het toegelaat dat hulle vrees vir die siekte in ’n onredelike vrees ontaard vir die mense wat dit het. Lyers is al mediese behandeling geweier, uit die kerk verban en selfs aangerand.

Sommige mense voer aan dat vigs ’n vloek van God op die goddeloses is. Baie lyers sou weliswaar nie die siekte opgedoen het nie as hulle by Bybelstandaarde ten opsigte van geslagsedelikheid, dwelmmisbruik en bloed gebly het (Handelinge 15:28, 29; 2 Korintiërs 7:1). Maar volgens die Skrif is siekte nie ’n bewys dat God iemand vir ’n spesifieke sonde straf nie. Inteendeel, die Bybel sê: “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13; Johannes 9:1-3). Iemand wat MIV of vigs het omdat hy nie by skriftuurlike standaarde gebly het nie, maar wat sy gedrag verander het, kan daarvan verseker wees dat God hom nie verwerp het nie.

God se empatie en liefde vir diegene wat chronies siek is, is duidelik getoon toe sy Seun, Jesus, na die aarde gekom het. Toe Jesus ’n melaatse gedurende sy reise teëgekom het, is hy “beweeg deur innige jammerte [en] het hy sy hand uitgesteek en hom aangeraak”. Jesus het sy wonderdadige krag uitgeoefen en die melaatse gesond gemaak (Markus 1:40-42). Jesus het nie neergesien op mense wat siek is nie. Die liefde wat hy vir hulle getoon het, was ’n volmaakte weerspieëling van sy hemelse Vader se liefde.—Lukas 10:22.

Genesing vir vigs—Binnekort!

Jesus se wonderbaarlike genesings doen meer as om ons van God se liefde te verseker. Die Bybel sê vir ons dat Jesus Christus nou as ’n hemelse Koning heers (Openbaring 11:15). Sy aardse bediening het getoon dat hy die mag het om enige siekte te genees wat die mensdom teister, en dat hy bereid is om dit te doen. Dit is presies wat hy gaan doen.

Bybelprofesieë verseker ons dat daar binnekort “geen inwoner [sal wees wat] sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Ondanks die feit dat die mensdom daarin misluk het om die verspreiding van vigs te keer of om doeltreffende behandeling aan almal te voorsien, kan ons vol vertroue wees dat vigs uit die weg geruim sal word. “Loof Jehovah, o my siel”, het koning Dawid gesê, “en moenie al sy dade vergeet nie, Hy wat al jou oortredings vergewe, wat al jou kwale genees.”—Psalm 103:2, 3.

Wanneer sal dit gebeur? Wat vereis God van diegene wat sulke seëninge wil geniet? Ons nooi jou om met Jehovah se Getuies in verbinding te tree om meer oor die Bybel se wonderlike belofte te leer.

[Voetnoot]

a Baie ouers het gevind dat die boek Leer by die Groot Onderwyser, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, nuttig is om jong kinders geleidelik oor seks in te lig en hulle basiese sedelike beginsels te leer.

[Lokteks op bladsy 11]

Bybelprofesieë verseker ons dat daar binnekort “geen inwoner [sal wees wat] sal sê: ‘Ek is siek’ nie”

[Prent op bladsy 10]

Om jou kinders oor seks en dwelmmisbruik te leer, kan hulle beskerm

[Prent op bladsy 10]

Jesus se vermoë en bereidwilligheid om die siekes te genees, het getoon wat hy in die toekoms gaan doen