Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Paradys herwin van die woestyn

’n Paradys herwin van die woestyn

’n Paradys herwin van die woestyn

Deur Ontwaak!-medewerker in Litaue

IN DIE laaste helfte van die 18de eeu het die inwoners van ’n vissersdorpie besef dat hulle tuiste verdoem was. Jare lank het ’n reusagtige sandduin al hoe nader aan hulle dorpie gekruip. Hulle het tevergeefs die duin probeer wegkeer deur ’n driehoekige houtversperring te bou. Teen 1797 het die duin hulle dorpie heeltemal begrawe.

Dit was net een episode in ’n 80 jaar lange drama waartydens duine meer as tien dorpies verswelg het en die Koerlandse landtong, ’n 100 kilometer lange landstrook langs die Baltiese kus van wat nou Rusland en Litaue is, in ’n woestyn verander het. Die verhaal van die oorsake van daardie verwoesting en die herstelling van die streek—wat nou ’n groot toeriste-aantreklikheid is—is fassinerend.

’n Slagoffer van wanbestuur en verowering

Die sand van die Koerlandse landtong is eeue lank met welige plantegroei bedek. In die woud was daar meer as genoeg wild vir die plaaslike mense om te jag. Teen die vroeë 18de eeu het die gebied belangriker geword, aangesien dit deel was van die posroete tussen Wes-Europa en die Russiese Ryk. Toe die bevolking tydens ’n tydperk van vrede toegeneem het, het troppe vee die delikate groen deklaag oorbewei, en mense het te veel hout uit die woude gekap. Die plaaslike inwoners het glad nie besef hoe kwesbaar die plantbedekking was waarvan hulle afhanklik was nie.

Die woud het ’n doodslag ontvang toe ’n Russiese leërmag in 1757 die land ingeval het en die bome afgekap het om honderde vlotgaande bote te bou vir die beleëring van Königsberg (Kaliningrad), ’n belangrike stad in Pruise. Gedurende latere dekades het die wind sandduine gevorm en die ramp veroorsaak wat vroeër gemeld is.

Kon so ’n verwoeste landskap herstel word? Georg David Kuwert, ’n vasberade poswerker, en sy vader, Gottlieb, was onder diegene wat geglo het dat dit moontlik is. In 1825 het hulle begin om die landtong te herbebos. Dit was ’n lang, uitputtende stryd. Honderde mense het meer as ’n eeu lank geswoeg aan die projek. Eers moes die grond met ’n spesiale soort gras wat van sanderige grond hou en diep wortels het, gestabiliseer word. Toe het hulle duisende hektaar met verskillende soorte geharde denne- en berkebome beplant. Uiteindelik is die stryd gewen. Sowat 70 persent van die droë land is nou herbebos. Hoe lyk die landtong vandag?

’n Paradys vir toeriste

Vandag besoek tot 8 000 toeriste per dag die Koerlandse landtong, en dit is glad nie verbasend nie, want die landtong het soveel om te bied. Of jy nou voetslaan, fietsry of in ’n motor ry, die natuurskoon verander voortdurend. Amerikaanse eland, reebok, vosse en wildevarke leef in die woude. Sowat honderd verskillende voëlsoorte maak hier nes, en tot ’n miljoen voëls migreer elke jaar deur die landtong. Daar is 900 plantsoorte, en daar is nog baie duine, hoewel dit nou net 12 persent van die landoppervlak beslaan.

Party van die sandduine is 50 meter hoog. Dit is ’n onvergeetlike ondervinding om niks behalwe die sand en blou lug om jou te sien nie. Terwyl jy klim, sien jy dat die wind sommige duine die klassieke paraboliese vorm laat aanneem het. Wanneer jy by die skerp kruin kom waar die sand aan die kant van die duin afgly en die duin ’n stap verder op sy reis neem, kom jy op ’n asemrowende toneel af. Jy sien hoe die dun landstrook waarop jy staan tot in die verte strek, met dorpies, woude en ligtorings. Aan die een kant rol die golwe van die Baltiese See af in; aan die ander kant is die kalmer waters van die Koerlandse strandmeer.

Besoekers vind die vars seelug verfrissend. Talle geniet seilplankry en seiljagvaart; ander wandel rustig deur een van die outydse dorpies. Die gras- of teeldakhuise met hulle helder kleure bewaar die atmosfeer van rustiger tye van lank gelede. Die skerp reuk van vis wat gedroog word en die nette wat uitgelê is om droog te word, herinner vakansiegangers daaraan dat visvangs nog altyd die belangrikste bedrywigheid op die landtong was. Windwysers is algemeen, aangesien die windrigting baie belangrik is vir vissermanne. Die wysers het nogal ’n kunsvorm hier geword, en dit is interessant om meer daaroor uit te vind. Windwysers is op die mas van elke seilboot aangebring, en dit het sy dorp van oorsprong geïdentifiseer. Nog iets wat baie interessant is, is die stukke amber wat soms op die strand uitspoel. Veral op bewolkte dae besoek toeriste museums waar amberjuweliersware vertoon word. In sommige stukke kan versteende plante en insekte gesien word.

Dit is dus geen wonder dat Litaue se verteenwoordiger in die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur die Koerlandse landtong as ’n paradys beskryf het nie. Dit is ’n paradys wat herwin is van grond wat deur wanbestuur en oorlog verderf is. Wêreldwyd is daar natuurlik baie ander plekke wat nog steeds verderf word. Maar die Bybel verseker ons dat ons hele planeet binnekort onder God se Koninkryk in ’n pragtige paradys omskep sal word waarin opregte mense vir ewig kan woon.—Jesaja 65:17, 21-25; 2 Petrus 3:13, 14.

[Kaarte op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BALTIESE SEE

LITAUE

KOERLANDSE LANDTONG

Koerlandse strandmeer

RUSLAND

Kaliningrad

[Prente op bladsy 16, 17]

Talle voëls, plante en duine word in die Koerlandse landtong aangetref

[Erkennings]

Onderste drie inlasfoto’s: Gedimino Graz̆ulevic̆iaus nuotrauka

Voël en gras: Gedimino Graz̆ulevic̆iaus nuotrauka; agtergrond: UAB „Laiko spalvos“

FOTO: A. VARANKA

[Prente op bladsy 18]

Wildevarke

Knobbelswane

Amber

[Erkenning]

Boonste drie foto’s: Gedimino Graz̆ulevic̆iaus nuotrauka

[Prent op bladsy 18]

Die Koerlandse landtong lok elke dag duisende toeriste