Die Atlantiese salm—’n “Koning” in die moeilikheid
Die Atlantiese salm—’n “Koning” in die moeilikheid
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND
SALMS is bekend vir hulle vermoë om teen watervalle op te spring terwyl hulle stroomop swem om eiers te gaan lê. Volgens een storie het ’n visserman gesien hoe “’n groot aantal salm nie daarin kon slaag om teen die [waterval] op te kom” waar hy visgevang het nie. Party het selfs op die rivieroewer aan die voet van die waterval beland. Hy het vuur gemaak op ’n rots naby die voet van die waterval en ’n braaipan daarop gesit. “Ná hulle mislukte poging”, word daar gesê, “het party van die ongelukkige salms in die braaipan beland.” Hierdie visserman kon dus later spog dat ‘die salm in sy land so oorvloedig is dat hulle uit hulle eie in die braaipan spring sonder dat ’n visserman hulle hoef te vang’.
Hierdie storie is moontlik ’n oordrywing. Maar salms spring wel teen watervalle op. ’n Verslag wat deur die Ierse Agentskap vir Salmnavorsing uitgereik is, het egter getoon dat daar “in onlangse jare ’n dramatiese afname was in die aantal visse in die natuur wat stroomop swem om eiers te lê”. Volgens ’n opname het daar in een jaar net 3 persent (ongeveer 1 300) van die byna 44 000 jong salms wat gemerk en vrygelaat is, teruggekeer.
Wat was die rede vir hierdie tragiese afname in die getalle van die “koning van die visse”, die Atlantiese salm? Sal hulle ooit weer so oorvloedig wees soos tevore? As ons die interessante en ongewone lewensiklus van hierdie pragtige vis verstaan, sal dit ons help om te sien wat die oorsake en moontlike oplossings vir die probleem is.
Vroeë lewe
Vir ’n salm begin die lewe tussen November en Februarie in die gruisbedding van ’n varswaterstroom. Die mannetjie weer indringers af terwyl die wyfie ’n paar klein holtes van tot 30 sentimeter diep grawe. Tesame lê en bevrug hulle etlike duisende eiers in elke holte. Die wyfie beskerm dan die eiers deur hulle met gruis toe te maak.
In Maart of April broei ’n vissie met ’n eienaardige voorkoms uit. Dit word ’n alevin genoem en is maar omtrent drie sentimeter lank en het ’n onsierlike dooiersak onderaan sy lyf. Die vissie bly aanvanklik onder die gruis waar hy nie gesien kan word nie, terwyl hy van sy draagbare kosvoorraad lewe. Ná vier of vyf weke, wanneer die dooiersak geabsorbeer is, wikkel die kleinvissie hom onder die klippe uit in die hoofstroom in. Hy is omtrent vyf sentimeter lank en lyk nou soos ’n regte vis. Hy het net twee doelwitte. Eerstens om ’n nuwe voedselbron te vind—klein insekte en plankton—en tweedens om ’n veilige blyplek te vind. Op hierdie stadium gaan meer as 90 persent van die salmkleinvissies dood omdat hulle nie kos of ruimte het nie, of omdat hulle deur roofvyande
soos forelle, visvangers, reiers en otters geëet word.“Ná ’n jaar of wat”, sê Michael, wat salm en ander vis al ’n geruime tyd bestudeer, “word die salm ongeveer agt of tien sentimeter lank. Dit word nou ’n paar genoem en het kenmerkende donker kolle aan elke kant van sy liggaam. Wanneer hy ’n lengte van omtrent 15 sentimeter bereik, verdwyn die donker kolle en word sy hele liggaam ’n blink silwer. Nou vind daar sekere merkwaardige en komplekse veranderinge plaas wat die salm van die meeste ander visse onderskei.”
Michael gaan voort: “Tussen Mei en Junie reageer die vis, wat nou ’n smolt genoem word, op die een of ander interne sein en sluit hy by duisende ander aan wat in ’n uittog stroomaf na die riviermonding beweeg.” Maar ’n varswatervis kan sekerlik nie in die see lewe nie, of hoe? Op daardie vraag antwoord Michael: “Dit kan gewoonlik nie, maar komplekse veranderinge vind rondom die kieue plaas, wat dit in staat stel om die soute uit die seewater te filtreer. Wanneer al die veranderinge plaasgevind het, vertrek die smolt, wat klein genoeg is om in die palm van jou hand te pas, op ’n indrukwekkende reis.”
Lewe in die see
Waarom verlaat so ’n klein vissie sy bekende rivier? Waarheen gaan hy? Die jong salm moet sy voedingsgebied bereik sodat hy heeltemal volgroeid kan word. As hy vyande soos kormorante, robbe, dolfyne en selfs moordvisse vermy, sal hy daar aankom en van sekere groot soöplankton en sand-ale sowel as harings, lodde en ander visse lewe. Binne ’n jaar sal sy gewig vyftienvoudig toeneem—van ’n paar honderd gram tot byna drie kilogram. As hy vyf jaar lank in die oseaan bly, kan hy ’n gewig van
18 kilogram of meer bereik. Party is al gevind wat meer as 45 kilogram geweeg het!Die presiese ligging van die voedingsgebied was onbekend tot in die 1950’s, toe kommersiële vissermanne groot getalle salm naby die kus van Groenland begin vang het. ’n Ander groot voedingsgebied is later rondom die Faroëreilande, noord van Skotland, gevind. Ander voedingsgebiede is sedertdien gevind. Daar word selfs berig dat salm voedsel onder die Arktiese ys vind! Toe hierdie voedingsgebiede ontdek is, het die moeilikheid vir die Atlantiese salm werklik begin. Ontsaglike visserye is in Groenland en die Faroëreilande gebou. Duisende tonne vis is deur kommersiële vissermanne gevang, en skielik het die getalle van dié wat na die varswaterriviere terugkeer om te broei, drasties afgeneem. Regerings het die erns van hierdie probleem besef en het verskeie beperkings op vissermanne geplaas asook kwotas vasgestel. Dit het gehelp om die salm te beskerm terwyl hulle in die see is.
Die terugkeer van die see af
Uiteindelik keer die volwasse salm terug na die rivier waar hy uitgebroei het en vind hy vir hom ’n maat, en die siklus begin weer. “Wat werklik verbasend is”, verduidelik Michael, “is dat hierdie merkwaardige vis sy pad vind deur duisende kilometers van ’n oseaan wat hy nog nooit gesien het nie! Wetenskaplikes weet nog steeds nie hoe hy dit doen nie. Party sê dat salms navigeer deur gebruik te maak van aardmagnetisme, seestrome of selfs die sterre. Daar word gemeen dat die salm, sodra hy terug is in die riviermonding, sy tuisrivier aan die ‘reuk’ of chemiese samestelling daarvan herken.”
“Hulle pas weer by varswaterlewe aan”, sê Michael, “en gaan die rivier binne. Hierdie padvindinstink is so sterk dat hierdie salms, wat nou baie groter en sterker is, koppig sal worstel om elke versperring te bowe te kom, al is dit ook watervalle of stroomversnellings.”
Die terugkerende salm kom voor nog moeilikhede te staan wanneer hulle damme, hidroëlektriese skemas of ander mensgemaakte hindernisse teëkom wat feitlik onmoontlik is om oor te kom. Wat gebeur dan? “Baie bewaringsgesindes verskaf ’n alternatiewe roete”, sê Deirdre, ’n salmnavorser. “’n Makliker roete word gebou wat die groot versperring uitsny. Ons noem dit ’n visleer of ’n vistrap. Dit stel die salm in staat om met veiligheid na hoër waters te spring op sy reis na die broeiplek.”
“Maar dit werk nie altyd nie”, gaan Deirdre voort. “Ek het al gesien hoe party salm die ompad ignoreer. Hulle herken net hulle oorspronklike roete en probeer aanhoudend om oor die nuwe mensgemaakte hindernis te kom. Baie van hulle
gaan dood van uitputting of omdat hulle herhaaldelik teen die versperring stamp.”Salmkwekerye
Salmvleis is voedsaam. Aangesien die Atlantiese salm in die natuur aan die afneem is, is kommersiële salmkwekerye gebou. Die salm word in varswaterhouers op land gehou totdat hulle die smoltstadium bereik. Hulle word dan oorgeplaas na ’n soort hok in die see, waar hulle versorg word totdat hulle volwasse is en gereed is om aan restaurante en koswinkels verkoop te word.
Salm wat op hierdie manier grootgemaak word, is ook in die moeilikheid. Vistelers voer hulle met kunsmatig geproduseerde kos. Dít tesame met die feit dat hulle in hokke aangehou word, maak die salm baie vatbaar vir siektes en parasiete, soos seeluise. Party van die beskermende spuitmiddels wat gebruik word, kan taamlik sterk wees. “Ek het onder party van hierdie viskwekerye geswem”, sê Ernest, ’n duiker, “en dit was baie opvallend dat die seebodem in die omgewing van baie van hierdie gebiede sonder lewe was.”
’n “Koning” in die moeilikheid
Baie wilde salms word met nette naby die kus gevang nog voordat hulle hulle tuisrivier bereik. Die hoë kommersiële waarde van wilde salm spoor party vissermanne aan om hulle onwettig te vang. Die paar salms wat dit regkry om weer by die rivier uit te kom, moet ook verby die wettige hengelaars kom. Om die salmvoorraad te beskerm, is verskeie maatreëls getref, soos om visvang tot spesifieke gebiede in die riviere te beperk, permitte baie duur te maak en ’n beperkte visvangseisoen vas te stel. Nietemin word daar geskat dat 1 uit elke 5 salms gedurende sy terugreis in die rivier gevang sal word.
Boonop kry wilde salm verskillende siektes, en dít het die salmbevolking grootliks verminder. Een van hierdie siektes, wat ulseratiewe velnekrose genoem word, veroorsaak swere op die vel van die vis en uiteindelik sy dood. Nywerheidsbesoedeling en plaagdoders wat in die riviere beland, is nog potensieel dodelike gevare waarmee salm, sowel as alle ander waterdiere, te kampe het.
As gevolg van al hierdie gevaarlike situasies is dit geen wonder dat die “koning van die visse” in die moeilikheid is nie. Ten spyte daarvan dat baie mense hulle bes gedoen het, duur probleme vir die salm voort. Alleenlik wanneer die aarde se Skepper, God die Almagtige, die mens se verderwing van die aarde stopsit, sal die balans van die natuur herstel word.—Jesaja 11:9; 65:25.
[Diagram/Kaart op bladsy 14, 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Atlantiese salms swem van riviere in die Verenigde State, Rusland en Spanje tot by voedingsgebiede by die Faroëreilande en Groenland voordat hulle terugkeer om eiers te lê
[Kaart]
Verenigde State
Groenland
Ysland
Faroëreilande
Rusland
Frankryk
Spanje
[Diagram/Prente op bladsy 15]
’N WONDERLIKE LEWENSIKLUS
Eiers
↓
Eiers met ogies
↓
Alevin
↓
Kleinvissie
↓
Paar
↓
Smolt
↓
Volwassene
↓
Eiers word gelê
[Prente]
Alevin
Paar
[Erkennings]
Lewensiklus: © Atlantic Salmon Federation/J.O. Pennanen; alevin: U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C.; paar: © Manu Esteve 2003
[Prente op bladsy 16, 17]
Die terugkerende salm kan teen hierdie waterval opspring of die makliker roete kies deur met die visleer op te gaan (insetsel regs vergroot)
[Prente op bladsy 16, 17]
Salm word onder meer deur oorbevissing en siektes van kommersiële kwekerye bedreig
[Erkennings]
Foto: Vidar Vassvik
UWPHOTO © Erling Svensen
[Foto-erkenning op bladsy 14]
© Joanna McCarthy/SuperStock