Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Internet—Hoe om die gevare te vermy

Die Internet—Hoe om die gevare te vermy

Die Bybel se beskouing

Die Internet—Hoe om die gevare te vermy

IN ’N afgeleë dorp in Indië kyk ’n boer wat die prys van sojabone in Chicago, VSA, is sodat hy kan bepaal wanneer die beste tyd sal wees om sy oes te verkoop. Terselfdertyd glimlag ’n pensioenaris terwyl sy ’n e-posboodskap van haar kleinseun lees, kyk ’n reisiger na die weervoorspelling vir sy bestemming en vind ’n moeder nuttige inligting vir haar kind se huiswerk—alles deur middel van die Internet. Met ongeveer 600 miljoen Internetgebruikers regoor die wêreld het die Internetrevolusie die manier waarop die wêreld kommunikeer en sake doen, heeltemal verander.

Veral die jonger geslag, wat soms die kubergeslag genoem word, het die Internet verwelkom. Studente gebruik dit al hoe meer in die plek van die biblioteek as die hoofbron van nuus en navorsing. “Kortom, hierdie studente gebruik feitlik net die Internet om hulle navorsing te doen”, het Deanna L. Tillisch gesê, wat aan die hoof gestaan het van ’n studie waarby senior universiteitstudente in die Verenigde State betrokke was. Ja, die Internet is ’n nuttige hulpmiddel in ons moderne samelewing.

Hoe kragtiger ’n stuk gereedskap is, hoe gevaarliker is dit gewoonlik. ’n Petrolaangedrewe kettingsaag kan baie meer as ’n handsaag verrig; dit moet egter versigtig gebruik word. Die Internet is eweneens uiters kragtig en nuttig, maar ons moet versigtig wees wanneer ons dit gebruik, aangesien dit ook ernstige gevare inhou. Besorgdheid oor hierdie gevare het meer as 40 lidlande van die Europese Raad beweeg om ’n internasionale verdrag op te stel wat daarop gemik is om die samelewing teen kubermisdaad te beskerm.

Waarom is mense so besorg? Wat is van die gevare waaroor veral Christene besorg is? Moet jy die Internet as gevolg daarvan vermy? Watter riglyne voorsien die Bybel?

Wees versigtig

Eeue gelede het die Bybel gewaarsku teen bose mense wat beskryf word as “meester[s] in bose idees” wat “beplan om kwaad te doen” (Spreuke 24:8). Die profeet Jeremia het hulle as “goddeloses” beskryf wie se “huise vol bedrog” is. Soos voëlvangers stel hulle “’n verderflike valstrik” om mense te vang en ‘rykdom te verwerf’ (Jeremia 5:26, 27). Tegnologie het hedendaagse “goddeloses” van misleidende valstrikke voorsien wat heeltemal anders is as die eertydse valstrikke. Kom ons kyk na sommige van hierdie bose planne wat vir Christene ernstige gevaar inhou.

Internetpornografie is ’n bedryf met ’n omset van 15 miljard rand per jaar. Die aantal pornografiese webblaaie het oor die afgelope vyf jaar teen die verstommende tempo van byna 1 800 persent toegeneem. Volgens skatting is daar nou meer as 260 miljoen van hierdie webblaaie, en dit bly teen ’n ongeëwenaarde tempo toeneem. “Pornografie word so algemeen op die Internet dat dit nou moeilik is om ongewenste blootstelling te vermy, en dit maak verslawing aan kuberseks waarskynliker”, het dr. Kimberly S. Young, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Internetverslawing, gesê.

Die Bybel sê: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word” (Jakobus 1:14). Pornografie-smouse beskou enigiemand met ’n rekenaar as ’n moontlike slagoffer en gebruik verskillende metodes om elkeen se “eie begeerte”, dit wil sê “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë”, uit te buit (1 Johannes 2:16). Hulle doel is om niksvermoedende Internetgebruikers te verlok en te “probeer verlei”.—Spreuke 1:10.

Soos goddeloses in Bybeltye is pornografie-smouse dikwels bedrieglik. Volgens skatting word sowat tweemiljard pornografiese e-posboodskappe daagliks gestuur as deel van ’n aggressiewe poging om nuwe klante te lok. Die ongevraagde e-posboodskappe het dikwels onderwerpreëls wat dit onskadelik laat lyk. Maar as jy dit oopmaak, kan dit die een onsedelike beeld na die ander laat verskyn wat moeilik is om stop te sit. Versoeke om van die adreslys afgehaal te word, kan tot ’n vloed van verdere ongevraagde pornografiese boodskappe lei.

’n Voëlvanger sit sade versigtig op ’n paadjie. ’n Niksvermoedende voël pik een smaaklike saad na die ander op, totdat die valstrik oor hom toeklap. Net so begin party mense uit nuuskierigheid na seksueel prikkelende beelde kyk. Hulle hoop dat niemand hulle dophou nie. Sommige gaan al hoe meer dikwels terug om na hierdie prikkelende en kragtige beelde te kyk omdat hulle dit stimulerend vind. Skaamte en skuldgevoelens teister hulle dalk. Wat eens skokkend was, word mettertyd alledaags. Vir diegene wat geneig is om na pornografie te kyk, is die Internet soos kunsmis wat begeertes vinnig laat groei en tot sondige dade laat oorgaan (Jakobus 1:15). Uiteindelik kan sulke persone “’n ‘donker kant’ ontwikkel wat gegrond is op antisosiale wellus en wat van die meeste waardes ontbloot is”, berig dr. Victor Cline, ’n kliniese sielkundige wat al honderde pasiënte behandel het wat in hierdie strik gevang is.

Die gevare van kletskamers

Internetkletskamers kan baie tyd in beslag neem en word al hoe meer met die verbrokkeling van verhoudings verbind. ’n Man het sy frustrasie uitgespreek oor die hoeveelheid tyd wat sy vrou op die Internet deurbring en het geskryf: “Wanneer sy van die werk af kom, skakel sy die rekenaar aan en bring sy vyf of meer uur op die Internet deur. Ons huwelik ly daaronder.” Ja, tyd wat op die Internet bestee word, is tyd wat nie saam met jou huweliksmaat en gesin bestee word nie.

Angela Sibson, die bestuurshoof van die huweliksvoorligtingsdiens Relate, sê dat die Internet “’n deurgang is tot ander verhoudings. Hierdie verhoudings kan ’n kragtige uitwerking op mense hê en bestaande verhoudings laat verbrokkel.” ’n Vriendelike gesprek wat in ’n kletskamer begin, kan gou in iets ernstigers ontaard. Mense wat “listig van hart” is en daarop uit is om onsedelike geslagsomgang te hê, gebruik ’n “gladde tong” om vir moontlike slagoffers te sê wat hulle wil hoor (Spreuke 6:24; 7:10). Nicola, ’n 26-jarige slagoffer van die Verenigde Koninkryk, verduidelik: “Hy het my met liefdesbetuigings gebombardeer. Hy het aanhou sê hoe wonderlik ek is, en ek het dit geglo.” Dr. Al Cooper, redakteur van Sex and the Internet: A Guidebook for Clinicians, sê dat ons “mense [moet] waarsku teen hierdie gevaarlike gebruik, wat met ’n flankeerdery op die Internet begin en alte dikwels op ’n egskeiding uitloop”.

Kinders kan selfs makliker deur “rekenaarseksoortreders” uitgebuit en leed aangedoen word. Pedofiele maak onervare kinders hulle teiken deur van “verdraaide woorde” en “slinkse lippe” gebruik te maak (Spreuke 4:24; 7:7). Hulle wen eers die kind se vertroue deur vriendelik te wees en hom baie aandag en liefde te gee sodat hy spesiaal voel. Hulle weet blykbaar presies waarin die kind belangstel, insluitende sy gunstelingmusiek en stokperdjies. Geringe probleme by die huis word beklemtoon met die doel om ’n wig tussen die kind en sy gesin in te dryf. Om hulle verdorwe begeertes te bevredig, stuur party seksjagters selfs vir hulle slagoffer ’n kaartjie om na die ander kant van die land te reis. Die gevolge is skrikwekkend.

Bybelbeginsels kan jou beskerm

Nadat hulle die gevare opgeweeg het, het party mense besluit dat dit vir hulle beter is om die Internet glad nie te gebruik nie. Maar daar moet erken word dat net ’n klein persentasie van die webwerwe op die Internet gevaar inhou en dat die meeste gebruikers nie ernstige probleme ondervind het nie.

Gelukkig voorsien die Skrif riglyne om ons teen gevaar te “beveilig”. Ons word aangemoedig om kennis, wysheid en denkvermoë te verkry. Hierdie eienskappe sal ‘oor ons wag hou’ om ‘ons van die slegte weg te verlos’ (Spreuke 2:10-12). “Maar wysheid—waar kom dit vandaan?” het God se eertydse kneg Job gevra. Wat is die antwoord? “Die vrees van Jehovah—dit is wysheid.”—Job 28:20, 28.

“Die vrees van Jehovah”, wat “beteken om te haat wat sleg is”, is die grondslag waarop goddelike eienskappe aangekweek word (Spreuke 1:7; 8:13; 9:10). Liefde en ontsag vir God, tesame met ’n gesonde respek vir sy krag en gesag, beweeg ons om die slegte dinge wat hy haat, ook te haat en te vermy. Helder denkvermoë en goddelike kennis help ons om gevare te herken wat ons verstand en hart kan besoedel en ons geestelikheid kan ondermyn. Gevolglik verafsku ons selfsugtige en hebsugtige gesindhede wat ons gesin kan verwoes en ons verhouding met Jehovah kan vernietig.

As jy die Internet gebruik, moet jy dus van die gevare bewus wees. Wees vasbeslote om God se gebooie te gehoorsaam, en moenie met vuur speel nie (1 Kronieke 28:7). Dan sal jy, wanneer jy voor die gevare van die Internet te staan kom, verstandig wees en daarvan vlug.—1 Korintiërs 6:18.

[Venster op bladsy 19]

BLY WEG VAN PORNOGRAFIE!

“Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam.”—Efesiërs 5:3.

“Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug.”—Kolossense 3:5.

“Dít is die wil van God . . . dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, nie in hebsugtige geslagsdrif soos ook dié nasies het wat God nie ken nie.”—1 Tessalonisense 4:3-5.

[Venster/Prente op bladsy 20, 21]

PAS OP VIR INTERNETKLETSKAMERS!

’n Vroulike polisiespeurder wat in Internetmisdaad spesialiseer, het Ontwaak! genooi om te sien hoe gevaarlik Internetkletskamers kan wees. Sy het in ’n kletskamer ingegaan en haar as ’n 14-jarige meisie voorgedoen. Ná net ’n paar sekondes het ’n aantal mense met haar kontak gemaak. Die vreemdelinge het vrae gevra soos: “Waar woon jy?” “Is jy ’n seun of ’n meisie?” “Kan ons gesels?” Verskeie boodskappe was van verdagte seksjagters wat deur die polisie dopgehou is. Dit wys hoe maklik ’n pedofiel in ’n kletskamer saam met jou kind kan kom!

Party ouers dink dat kinders veilig is wanneer hulle kletskamers gebruik omdat hulle gesprekke deur almal in die kletskamer gesien kan word terwyl die bespreking aan die gang is. Maar as ’n mens eers in ’n kletskamer is, kan jy genooi word om ’n private gesprek met net een persoon te hê. Die Verenigde Koninkryk se Internettaakgroep vir Kinderbeskerming het na hierdie gebruik, wat soms fluistering genoem word, verwys en gewaarsku: “Dit is soos om weg te glip van ’n partytjie waar daar baie mense is en in ’n private kamer in te gaan om alleen met ’n vreemdeling te gesels.”

Dit is ook belangrik vir ouers om te verstaan dat die meeste pedofiele nie net met ’n kind wil gesels nie. ’n Verhandeling wat deur die Forum teen Internetmisdaad voorberei is, sê: “Nadat kontak in kletskamers gemaak is, kan dit verder gevoer word deur middel van ander media, soos e-pos en (sellulêre) telefone.” ’n Verslag deur die Amerikaanse Federale Speurdiens sê: “Hoewel dit vir ’n rekenaarseksoortreder opwindend is om op die Internet met ’n kinderslagoffer te gesels, kan dit ’n baie langdradige proses wees. Die meeste van hulle wil oor die telefoon met die kinders gesels. Hulle het dikwels ‘telefoonseks’ met die kinders en wil dikwels ’n ontmoeting reël om geslagsomgang te hê.”

Om dit reg te kry, sal rekenaarseksoortreders hulle telefoonnommer vir die kinders gee. As jou kind hulle bel, sal hy die kind se telefoonnommer deur middel van oproep-identifikasie verkry. Ander seksjagters het tolvrye nommers of sê dat die kind ’n kollekteeroproep moet maak. Party het selfs vir die kind ’n selfoon gestuur. Oortreders stuur dalk ook briewe, foto’s en geskenke.

Dit is nie net kinders wat voor die gevare van kletskamers swig nie. ’n Man wat met vleiende woorde vir vroue vertel het wat hulle wou hoor, het ses vroue in die Verenigde Koninkryk terselfdertyd op hom verlief laat raak. Een van die slagoffers, Cheryl, ’n aantreklike 27-jarige nagraadse student, het gesê: “Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Ons verhouding het so intens geword dat dit my hele lewe oorgeneem het.”

“Vroue is op hulle gemak in die kuberruimte omdat hulle nie volgens hulle voorkoms geoordeel word nie”, het Jenny Madden, die stigter van Vroue in die Kuberruimte, gesê. “Maar hulle maak hulle ook baie vatbaar vir manipulasie, want daar is ’n neiging, veral in kletskamers, om in ’n kort tydjie baie inligting oor jouself te verskaf.”

“Ek hoef net my rekenaar aan te skakel, en ek het duisende vroue om van te kies”, het ’n man gesê wat ondervra is tydens ’n navorsingstudie wat deur Beatriz Avila Mileham vir die Universiteit van Florida gedoen is. Sy het gesê: “Die internet sal binnekort die algemeenste soort ontrouheid word, as dit nie reeds is nie.” “Terapeute oor die hele land sê dat seksuele bedrywighede op die Internet ’n vername oorsaak van huweliksprobleme is”, het dr. Al Cooper, redakteur van die boek Sex and the Internet: A Guidebook for Clinicians, gesê.

In die lig van hierdie ontstellende feite is dit verstandig om voorsorg te tref wanneer ’n mens die Internet gebruik. Praat met jou kinders en leer hulle hoe hulle hulle teen gevaar kan beskerm. As jy behoorlik ingelig is, kan jy die gevare van die Internet vermy.—Prediker 7:12.