Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie vriende—Slegte vriende

Goeie vriende—Slegte vriende

Goeie vriende—Slegte vriende

’N JONG vrou, wat ons Sarah sal noem, was hoogs ontsteld. ’n Man wat sy as haar vriend beskou het, was toe al die tyd ’n moordenaar. ‘As iemand wat ek vertrou het, so iets kon doen, hoe kan ek enigiemand vertrou?’ wou sy weet. Die persoon met wie Sarah gepraat het, het haar gevra of sy geweet het wat die man se waardes is. Sy het geantwoord: “Wat bedoel jy?” Sarah het nie eers geweet wat met “waardes” bedoel word nie. Wat van jou? Weet jy wat jou vriende se waardes is?

Die antwoord op hierdie vraag kan letterlik die lewe of die dood beteken, soos Sarah se ondervinding toon. ’n Bybelspreuk stel dit so: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Maar, soos Sarah, kies baie mense vriende bloot op grond daarvan of hulle uit die staanspoor met die persoon oor die weg kom of nie. Dit is net natuurlik dat ons by mense wil wees wat ons goed laat voel. Maar as dit die enigste maatstaf is vir ons keuse en ons nie juis aandag skenk aan iemand se ware innerlike eienskappe nie, kan ons diep teleurgestel word. Hoe kan jy vasstel of iemand volgens goeie waardes lewe?

Die belangrikheid van hoë sedelike waardes

Ons moet allereers self goeie waardes hê. Ons moet weet wat reg en verkeerd is, wat goed en sleg is, en te alle tye streng by hoë sedelike beginsels bly. ’n Ander Bybelspreuk sê: “Deur yster word yster geslyp. So slyp een man die aangesig van ’n ander” (Spreuke 27:17). Wanneer twee mense sedelike krag wat so sterk soos yster is, in ’n vriendskap inbring, kan hulle mekaar help om te groei, en dit sal hulle vriendskapsband sterker maak.

Pacôme, van Frankryk, sê: “Vir my is ’n ware vriend iemand wat na my luister en mooi met my praat, maar wat my ook kan reghelp wanneer ek iets dwaas aanvang.” Ja, ons beste vriende—of hulle nou jonk of oud is—is dié wat ons help om op die regte pad te bly en ons reghelp voordat ons onverstandige dinge doen. Die Bybel sê: “Getrou is die wonde van ’n vriend” (Spreuke 27:6, King James Version). Om ons sedelik en geestelik te versterk, moet ons met mense assosieer wat lief is vir God en sy beginsels. “Toe daar niemand by die skool was wat dieselfde Christelike waardes en oortuigings as ek gehad het nie”, vertel Céline, van Frankryk, “het ek geleer hoe belangrik dit is om ware vriende in die Christengemeente te hê. Hulle het my baie gehelp om my ewewig te behou.”

Som potensiële vriende op

As jy graag vriende wil maak met iemand wat jy ontmoet het, kan jy jou afvra: ‘Wie is sy of haar vriende?’ Die soort hegte vriende wat iemand het, sê baie oor die persoon self. En wat dink ryp en gerespekteerde mense in die gemeenskap van hom of haar? Verder is dit verstandig om nie net te let op hoe potensiële vriende óns behandel nie, maar ook hoe hulle ander behandel, veral diegene uit wie hulle nie juis voordeel kan trek nie. Tensy iemand te alle tye en teenoor alle mense goeie eienskappe—soos eerlikheid, onkreukbaarheid, geduld en bedagsaamheid—openbaar, watter versekering is daar dat hy jou altyd goed sal behandel?

Om iemand se ware karakter te leer ken, verg geduld en vaardigheid sowel as tyd sodat jy die persoon in die werklike lewe kan waarneem. Die Bybel sê: “Raad in die hart van ’n man is soos diep waters, maar die man met onderskeidingsvermoë sal dit uitskep” (Spreuke 20:5). Ons moet met potensiële vriende oor ernstige onderwerpe gesels—wat hulle ware persoonlikheid, beweegredes en, ja, waardes aan die lig bring. Watter soort mense is hulle? Is hulle vriendelik of kil? Oor die algemeen positief en opgeruimd of negatief en sinies? Onselfsugtig of selfsugtig? Betroubaar of dislojaal? As iemand krities oor ander is, wat sal hom daarvan weerhou om agter jou rug negatiewe dinge van jou te sê? “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond”, het Jesus gesê (Matteus 12:34). Wanneer dit gebeur, moet ons luister.

Die belangrikste dinge om in gemeen te hê

Party dink dat hulle vriende van presies dieselfde dinge as hulle moet hou. ’n Klein seuntjie het gesê: “Ek sal nooit vriende kan wees met iemand wat nie van kaaskoek hou nie.” Vriende moet weliswaar genoeg in gemeen hê sodat hulle mekaar kan verstaan, en dit is baie belangrik dat hulle dieselfde basiese sedelike en geestelike waardes het. Maar hulle hoef nie identies te wees wat hulle persoonlikheid en agtergrond betref nie. Trouens, ’n verskil in lewenservaring kan ’n vriendskap verryk en kan wedersydse voordele inhou.

Twee tydlose voorbeelde van vriendskappe in die Bybel—dié van Jonatan en Dawid en van Rut en Naomi—is gebaseer op ’n gemeenskaplike toewyding aan God en sy beginsels. a Dit is betekenisvol dat albei hierdie vriendskappe gesmee is ten spyte van groot verskille in ouderdom en agtergrond. Dit leer ons dus iets anders omtrent vriendskap: Jonk en oud kan mekaar as vriende baie bied.

Vind baat by ouderdomsverskille

Dit kan wedersyds verrykend wees om vriende te hê wat ouer en jonger as ons is. Let op wat die volgende jongmense na aanleiding van hulle persoonlike ondervinding gesê het.

Manuela (Italië): “Ek het ’n tydjie gelede met ’n volwasse egpaar vriende gemaak. Ek het openhartig met hulle gepraat, en wat my bly gemaak het, is dat hulle ook openhartig met my was. Hulle het my nie onderskat net omdat ek jonk is nie. Dit het gemaak dat ek nader aan hulle gekom het. Dit help baie om hulle as vriende te hê wanneer ek probleme ondervind. As ek my probleme met my portuurs bespreek, gee my vriendinne my nie altyd goed deurdagte raad nie. Maar my ouer vriende het ondervinding, onderskeidingsvermoë en ’n gebalanseerdheid wat ons as jongmense nog nie het nie. Met hulle hulp maak ek beter besluite.”

Zuleica (Italië): “By gesellighede sluit ons nie net jongmense in nie, maar ook ’n paar wat ouer as ons is. Ek het al opgelet dat wanneer ouer en jonger persone bymekaarkom, ons almal aan die einde van die aand werklik bemoedig voel. Ons geniet dit omdat niemand presies dieselfde uitkyk het nie.”

As jy ouer is, kan jy ook belangstelling in jonger mense toon. Soos uit die vorige kommentare gesien kan word, is daar talle jonges wat julle ervaring grootliks waardeer en julle geselskap geniet. Amelia, ’n weduwee in haar tagtigerjare, sê: “Ek neem die inisiatief om in voeling te bly met die jonges. Hulle energie en lewenslus beur my op!” Die goeie uitwerking van sulke wedersydse bemoediging kan verreikend wees. Talle gelukkige jong volwassenes skryf hulle sukses in ’n groot mate toe aan die feit dat hulle vriende in hulle jeug gehad het wat ten minste ’n bietjie ouer as hulle was, vir hulle ’n goeie voorbeeld gestel het en hulle goeie raad gegee het.

Verbeter jou vriendskappe

Jy hoef nie noodwendig nuwe vriende te maak om goeie vriendskappe te hê nie. As jy reeds goeie metgeselle het, kan jy gerus probeer om jou vriendskap met hulle te verbeter. Ou vriende is ’n baie kosbare skat, en ons moet hulle so behandel. Moet nooit hulle lojaliteit as vanselfsprekend aanneem nie.

Onthou bowenal dat ’n mens ware geluk—en ware vriendskap—vind wanneer jy van jouself, jou tyd en jou middele gee. Die belonings is dubbel en dwars die moeite en opofferinge werd. As jy egter net aan jouself dink wanneer jy vriende kies, sal jy nooit sukses behaal nie. Wanneer jy potensiële vriende oorweeg, moet jy dus nie net na diegene kyk waarna jy opsien of uit wie jy voordeel kan trek nie. Toon belangstelling in diegene wat dalk deur ander oor die hoof gesien word of wat sukkel om self vriende te maak. Gaëlle, van Frankryk, sê: “Wanneer ons ’n groep bymekaarkry om iets te doen en van jongmense weet wat eensaam is, nooi ons hulle saam. Ons sê: ‘Jy wil tog nie alleen by die huis sit nie. Jy kan saam met ons kom. Ons kan mekaar beter leer ken.’”—Lukas 14:12-14.

Daarenteen moet ons, wanneer goeie mense hulle vriendskap aanbied, nie haastig wees om dit van die hand te wys nie. Elisa, van Italië, sê: “Dalk voel jy ’n bietjie gegrief omdat jy meen dat jy in die verlede oor die hoof gesien is. Jy kan begin dink: ‘Vriendskap is in elk geval nie vir my so belangrik nie.’ Daarom kruip jy in jou dop, jy begin eensaam voel en jy dink net aan jouself. Pleks dat jy vriende soek, bou jy ’n muur.” Moenie dat ongegronde vrese of selfsugtige belange keer dat jy nuwe vriende maak nie, maar wees eerder openhartig. Ons het rede om innig dankbaar te wees wanneer mense genoeg vir ons omgee om ons vriende te wil wees.

Jy kan ware vriende hê

Dit verg meer as om net te wens, te wag en artikels soos hierdie te lees as jy ware vriende wil hê. Om te leer om vriende te maak, is soos om te leer om fiets te ry. ’n Mens kan nie een van hierdie twee vaardighede leer bloot deur boeke daaroor te lees nie. Jy moet dit self probeer, al val jy ’n paar keer in die proses. Die Bybel toon dat die sterkste verhoudings diep gewortel is in ’n gemeenskaplike vriendskap met God. Maar God kan nie ons pogings seën om vriende te maak as ons nie die pogings aanwend nie. Is jy vasbeslote om ware vriende te hê? Moenie moed opgee nie! Bid vir God se hulp, toon onselfsugtige belangstelling in ander en wees ’n vriend.

[Voetnoot]

a Jy kan in die Bybelboeke Rut, Eerste Samuel en Tweede Samuel van hierdie vriendskappe lees.

[Venster/Prent op bladsy 11]

’n Wenk aan ouers

Soos met soveel ander lesse, begin kinders by die huis leer wat vriendskap is. Die gesinslewe behoort ideaal gesproke in die grootste deel van ’n klein kindjie se behoefte aan menslike kontak te voorsien. Selfs onder hierdie omstandighede word ’n kind se denke, gevoelens en gedrag kragtig beïnvloed deur sy kontak met ander. Neem byvoorbeeld hoe vinnig talle jong kinders van immigrante ’n nuwe taal leer praat slegs deur die kontak wat hulle met ander kinders het.

As ouers het julle die voorreg om julle kinders te help om verstandig te wees wanneer hulle vriende kies. Jong kinders en adolessente is nog nie ten volle toegerus om sulke besluite sonder ouerlike leiding te neem nie. Daar is egter ’n probleem. Talle jongmense voel nader aan ander jongmense as aan hulle ouers of aan enige ander ouer persoon.

Volgens sommige kenners is een van die redes waarom tieners hulle eerder tot hulle portuurs as tot hulle ouers wend, die feit dat baie ouers onseker is oor hulle eie sedelike gesag. Ouers moet hulle godgegewe verantwoordelikheid aanvaar om belangstelling in hulle kinders te toon en betrokke by hulle lewe te bly (Efesiërs 6:1-4). Maar hoe? Die gesinsterapeut dr. Ron Taffel ontmoet baie ouers wat nie weet hoe om hulle adolessentekinders te hanteer nie. Hy skryf dat baie “’n aantal opvoedkundige giere volg wat deur die media gewild gemaak word”, pleks dat hulle werklik hulle rol as ouers teenoor hulle kinders vervul. Waarom wend hulle hulle tot hierdie giere? “Omdat hulle hulle kinders nie goed genoeg ken nie, is ouers nie in voeling met hulle nie.”

Dit hoef nie so te wees nie. Ouers moet besef dat kinders hulle tot hulle vriende sal wend as hulle nie by die huis kry wat hulle nodig het nie. En wat is dit? “Hulle het dit nodig wat jongmense nog altyd nodig gehad het: sorg, waardering, veiligheid, goed gedefinieerde reëls en verwagtinge en ’n gevoel dat hulle êrens behoort”, sê Taffel. “Die tragedie van ons tyd is dat hierdie basiese behoeftes van adolessente in die meeste gevalle nie deur volwassenes bevredig word nie en dat hulle in hulle eie gesin nie waarlik ‘tuis’ voel nie.”

Hoe kan julle julle kinders help wanneer dit by vriendskap kom? Die eerste stap is om na julle eie lewenswyse en vriendskappe te kyk. Is die doelwitte en lewenswyse wat julle en julle vriende nastreef, edel en onselfsugtig? Is dit geestelik en nie materialisties nie? “Julle dade beteken baie meer as julle woorde, en julle kinders sal ongetwyfeld julle, julle vriende en julle vriende se kinders se gesindhede en gedrag naboots”, sê Douglas, ’n Christen- ouer man en vader.

Selfs baie diere beskerm hulle kleintjies instinktief en dikwels verwoed teen ander gevaarlike diere. ’n Kenner van bere vertel: “Berinne is bekend daarvoor dat hulle hulle welpies teen alle moontlike gevare beskerm.” Behoort menseouers enigsins minder te doen? Ruben, van Italië, sê: “My ouers het uit die Skrif met my geredeneer. Hulle het my help besef dat ek liewer sekere assosiasie moet vermy. My eerste reaksie was: ‘Kyk nou net! Ek kan geen vriende hê nie!’ Maar tyd het bewys dat hulle reg was, en danksy hulle geduld is ek beskerm.”

Bring ook julle kinders doelbewus in aanraking met mense wat goeie voorbeelde is en wat hulle sal help om goeie doelwitte vir hulleself te stel. ’n Suksesvolle en gelukkige jong man met die naam Francis vertel: “My ma het opgelet dat ek en my broers ons afsonder, en daarom het sy ons gehelp deur vriende oor te nooi wat baie bedrywig was in die voltydse Christelike bediening. So het ons hulle in ons eie huis leer ken en vriende geword.” As julle sulke pogings aanwend, kan julle kinders se huislike lewe ’n vrugbare bedding word waarin goeie vriendskappe kan ontkiem en groei.

[Prent op bladsy 9]

Let op hoe potensiële vriende hulle gedra

[Prent op bladsy 10]

Onselfsugtige vriendskappe floreer ondanks verskille in ouderdom en agtergrond