Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mooi en lekker!

Mooi en lekker!

Mooi en lekker!

WANNEER jy in ’n blomtuin instap, word jou sintuie onmiddellik beloon. Die kleure van die blomme, hulle vorms en delikate ontwerpe is ’n lus vir die oog. Jy ruik hulle. Jy voel die verskillende teksture van die blomme. Maar wat van jou smaaksin? Kan ’n mens ook genot put uit die smaak van blomme? In party lande geniet mense al eeue lank die smaak van eetbare blomme. As een van die volgende in jou blom- of groentetuin groei, sal jy ook dalk die ondervinding geniet. a

Die romantiese roos

Regoor die wêreld is die roos (genus Rosa) waarskynlik die bekendste en gesogste blom. Buiten die hoofsoorte is daar duisende gekweekte hibrides. Aangesien die smaak van die blom deur faktore soos die grond en temperatuur beïnvloed word, is dit raadsaam om eers die blomme van rose of enige ander blomplante te proe voordat jy besluit om dit as voedsel te gebruik. Die onderste deel van die blom sal waarskynlik effens bitter wees. Indien wel, sny daardie deel af, of as jy die hele blom bedien, eet slegs die buitenste blomblare.

Die aantal geregte waarin rose gebruik kan word, is amper eindeloos. Probeer dit in slaaie, miskien saam met liggegeurde kaas en gekapte neute. Gebruik fyngebreekte blomme van ’n rooi roos as ’n ekstra bestanddeel in jou geliefkoosde sous om dit ’n bietjie meer geur en kleur te gee. Of jy kan jou spaghetti ’n bietjie opkikker met roosblomme wat in repies gesny is. Rose sal ook die smaak van roomys en jou gunstelingkoeldrank verbeter.

Die pampoenblom

Verslae oor die gebruik van die pampoenblom (Cucurbita pepo) as voedsel in die Amerikas dateer uit die 16de eeu, en dit lyk of Indiane slegs manlike blomme (dié wat aan lang, dun stele groei) geëet het sodat die vroulike blomme (dié met ’n piepklein pampoentjie agteraan die blom) kon voortplant. Verwyder die buitenste stekelrige blare voordat jy die blomme kook. Stuifmeeldrade kan verwyder word of aan die blom gelos word. In voorgeregte en sop is die sagte geur van pampoenblomme heerlik saam met olyfolie, jong mielies en die pampoen self. As jy ’n sterker geur wil hê, kan jy die blomme met ’n bietjie uie, knoffel, kruie en speserye van jou keuse smoor. Jy kan die blomme ook met ’n mengsel van kaas, uie en kruie vul. Maak dan die punte toe en doop die blomme in ’n eiermengsel van geklopte eierwit waarby eiergeel gevoeg is. Rol laastens die blomme in broodkrummels, diepbraai dit en geniet die unieke geur daarvan!

Die kleurvolle gesiggie

Die blomme van die tweekleurige en driekleurige gesiggies (Viola wittrockiana) het kenmerkende donker kolle, wat hulle ’n ongewone voorkoms gee. Volgens die Encyclopædia Britannica is die gesiggie vermoedelik afkomstig van die wilde driekleurige viooltjie (Viola tricolor), wat pers, wit en geel is. Hierdie veldblom is ook eetbaar, maar volgens die boek Edible Flowers—From Garden to Palate kan dit “in groot hoeveelhede giftig wees”. Dit doen wonders aan die geur en voorkoms van groente- en vrugteslaaie. Gebruik die hele blom, voeg dit by net voordat jy die slaai bedien en nadat jy enige slaaisous daaroor gegooi het. Jy kan dit ook op jou gunstelingsop bedien.

’n Derde eetbare blom van die genus Viola is die viooltjie (Viola odorata), wat baie lekker is in nageregte en koeldranke. (Sien die venster “Soet blomme vir koeldranke”.) Geen ander blom van die genus Viola word as eetbaar beskou nie.

Die pragtige daglelie

Die lang, dun, welige blare aan die basis van die daglelie (genus Hemerocallis) is kenmerkend van hierdie plant. Sy blom, wat nie baie lank hou nie, moenie met blomme van dieselfde familie, Liliaceae, verwar word nie. Daglelies, wat wissel van geel tot rooi, word al lank in die kombuis gebruik. ’n Mens kan hierdie blom as ’n groente voorsit as dit effens gaargemaak word. Nog ’n moontlikheid is om die blomblare met bestanddele van jou keuse te meng, ’n ligte deeg daarvan te maak en dit dan te braai. Versier dit met ’n hele blom.

Ander eetbare blomme

Die jukkablom (genus Yucca), wat veral in droë of halfdroë klimate groei, is ryk aan vitamiene en kalsium. Eet slegs die blomblare; jy sal dit dalk effens moet kook om van enige bitterheid ontslae te raak. Suurlemoenbloeisels (Citrus limon), lemoenbloeisels (Citrus sinensis) en die kruisementblom (genus Mentha) is heerlik in koeldranke, slaaie en nageregte. b

Blomme is ongetwyfeld ’n gawe aan ons sintuie en dra grootliks by tot ons genot in die lewe. Dit is waarlik nog ’n rede om ons liefdevolle Skepper te dank.

[Voetnote]

a Die botaniese name word vir presiese identifikasie ingesluit.

b Dit is nie die enigste eetbare blomme nie, maar doen deeglik navorsing oor die eetbaarheid van enige ander blomme voordat jy dit eet.

[Venster/Prente op bladsy 24]

SOET BLOMME VIR KOELDRANKE

Sit ’n blomblaar of ’n klein blommetjie in elke hokkie van jou ysbakkie voordat jy gebottelde of gefiltreerde water daarin gooi. Sit dit in die vrieskas. Gebruik hierdie ysblokkies in jou gunstelingkoeldrank.

[Erkenning]

Aangepas uit El Cultivo de Hierbas (Kruiekultuur).

[Venster/Prente op bladsy 24]

VERSUIKERDE BLOMME

Neem geklopte eierwit en verf ’n dun lagie op elke skoon, droë blomblaar met ’n fyn verfkwassie. Maak seker dat jy al die blomblare heeltemal daarmee bedek. Sprinkel fyn strooisuiker versigtig met ’n sif oor die blomme. Skud die oortollige suiker af en laat die blomme ’n paar uur lank droog word.

[Erkenning]

Aangepas uit Cook’s Thesaurus.

[Venster op bladsy 24]

BELANGRIKE WAARSKUWINGS

Party blomme is giftig. Maak heeltemal seker dat ’n blom eetbaar is voordat jy dit gebruik. Moet dit nie eet as jy onseker is nie.

Moenie blomme eet wat met plaagdoders of enige ander chemiese stowwe bespuit is nie. (Dit geld dikwels vir blomme wat by bloemiste, tuinsentrums en party kwekerye gekoop is.) Eet slegs blomme wat organies en ver van paaie af gekweek is.

Mense wat asma het of ’n allergie het wat deur plante veroorsaak word, moenie blomme eet nie.

Soos met vrugte en groente, moet blomme gewas en ontsmet word, veral as dit rou geëet gaan word.

[Prent op bladsy 23]

Roos

[Prent op bladsy 23]

Pampoenblom

[Prent op bladsy 23]

Gesiggie

[Prent op bladsy 23]

Daglelie

[Prente op bladsy 24]

Suurlemoenbloeisels