Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons begeerte na vriendskap kan bevredig word

Ons begeerte na vriendskap kan bevredig word

Ons begeerte na vriendskap kan bevredig word

“EENSAAMHEID is nie ’n siekte nie”, sê die boek In Search of Intimacy. “Eensaamheid is ’n gesonde begeerte . . . , ’n natuurlike teken dat ons ’n gebrek aan kameraadskap het.” Net soos ons beweeg word om voedsame kos in te neem wanneer ons honger is, moet gevoelens van eensaamheid ons beweeg om goeie vriende te soek.

Maar soos Yaël, ’n jong vrou in Frankryk, sê, “vermy party alle kontak met ander mense”. Maar as ons ons afsonder, om watter rede ook al, los dit nie die probleem op nie en laat dit ons net nog eensamer voel. ’n Bybelspreuk sê: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek” (Spreuke 18:1). Ons moet dus eers besef dat ons ’n behoefte aan vriendskap het en ons dan voorneem om iets daaromtrent te doen.

Praktiese stappe om vriendskappe aan te knoop

Moenie vir jouself jammer voel of diegene beny wat blykbaar meer of beter vriendskappe het nie; ontwikkel eerder ’n positiewe gesindheid, soos Manuela, van Italië, gedoen het. Sy sê: “Ek het veral in my tienerjare gevoel dat ander my oor die hoof sien. Om dit te oorkom, het ek mense wat goeie vriende het, noukeurig waargeneem. Toe het ek probeer om hulle goeie eienskappe aan te kweek sodat ek ’n aangenamer mens sou wees.”

Een praktiese stap is om jouself fisies en in ander opsigte te versorg. ’n Gesonde dieet, voldoende rus en genoeg oefening help jou om goed te lyk en te voel. As jy netjies, skoon en goed versorg is, is dit nie net aangenamer om in jou geselskap te wees nie, maar dit gee jou ook ’n gesonde mate van selfrespek. Moet egter nie die fout maak om te besorg oor jou voorkoms te raak nie. “Modieuse klere help jou geensins om ware vriende te maak nie”, sê Gaëlle, van Frankryk. “Dit is die innerlike mens waarna goeie mense kyk.”

Dit is immers ons diepste gedagtes en gevoelens wat bepaal waaroor ons praat en selfs hoe ons lyk. Het jy ’n positiewe uitkyk op die lewe? Dit sal jou help om ’n gelukkige gesigsuitdrukking te hê. ’n Opregte glimlag is die aantreklikste ding wat jy kan dra en volgens Roger E. Axtell, ’n kenner op die gebied van liggaamstaal, “is dit absoluut universeel” en “word dit selde verkeerd verstaan”. a Voeg daarby ’n goeie sin vir humor, en mense sal van nature tot jou aangetrokke voel.

Onthou, hierdie goeie eienskappe kom van binne. Vul jou verstand en hart dus met heilsame, positiewe gedagtes en gevoelens. Lees oor interessante en betekenisvolle onderwerpe—aktuele gebeure, verskillende kulture, natuurverskynsels. Luister na opbouende musiek. Maar moenie net toelaat dat die TV, rolprente en romans jou verstand en hart met fantasieë vul nie. Die verhoudings wat gewoonlik op die skerm uitgebeeld word, is nie die werklikheid en ook nie ware vriendskappe nie, maar die vrug van iemand se verbeelding.

Wees openhartig!

Zuleica, wat in Italië woon, vertel: “Toe ek jonger was, was ek skaam, en dit was vir my moeilik om vriende te maak. Maar ek het geweet dat ’n mens die inisiatief moet neem, dat jy ander moet leer ken en hulle moet toelaat om jou te leer ken as jy vriende wil hê.” Ja, as ’n mens ware vriende wil hê, moet jy openhartig teenoor ander wees—hulle toelaat om jou ware persoonlikheid te leer ken. Sulke kommunikasie en openhartigheid is baie belangriker vir ware vriendskap as om aantreklik te wees en ’n charismatiese persoonlikheid te hê. “Mense met hegte en blywende vriendskappe is dalk teruggetrokke, uitgaande, jonk, oud, vervelig, intelligent, onaantreklik, mooi; maar die een karaktertrek wat hulle altyd in gemeen het, is openhartigheid”, sê die berader dr. Alan Loy McGinnis. “Hulle word gekenmerk deur ’n eerlikheid wat ander in staat stel om te sien wat in hulle hart is.”

Dit beteken nie dat jy jou hart op jou mou moet dra of jou intiemste geheime vir mense moet vertel by wie jy nie op jou gemak voel nie. Maar dit beteken wel dat jy op selektiewe en progressiewe wyse aan ander moet openbaar wat jy werklik dink en voel. Michela, van Italië, sê: “My probleem was aanvanklik dat ek my gevoelens verberg het. Ek moes veranderinge aanbring en meer aan my gevoelens probeer uiting gee, sodat my vriende kon verstaan hoe ek voel en nader aan my kon kom.”

Maar al is jy van nature ’n gesellige persoon, verg dit nog steeds tyd en gedeelde ondervindinge voordat wedersydse vertroue tussen vriende ontwikkel. Intussen moet jy probeer om nie te besorg te wees oor wat ander moontlik van jou dink nie. Elisa, van Italië, vertel: “My probleem was dat ek altyd bang was dat wat ek wou sê, skeef sou uitkom. Toe het ek gedink: ‘As mense werklik my vriende is, sal hulle verstaan.’ As iets skeef uitgekom het, het ek dus net vir myself gelag en almal het saam gelag.”

Ontspan dus! Wees net jouself. Dit help nie om toneel te speel nie. “Niks maak ’n mens aantrekliker as om net jouself te wees en jou so goed moontlik te gedra nie”, het die gesinsvoorligter F. Alexander Magoun geskryf. Mense wat waarlik gelukkig is, hoef nie voor te gee dat hulle gelukkig is of ander te probeer beïndruk nie. Slegs deur opreg te wees, kan ons ware vriendskap geniet. Ons moet ander eweneens toelaat om hulleself te wees. Gelukkige mense aanvaar ander soos hulle is, en klein tekortkominge pla hulle nie. Hulle voel nie dat hulle hulle vriende moet verander om by hulle eie vooropgesette idees te pas nie. Streef daarna om so ’n gelukkige, onkritiese mens te wees.

Om ’n vriend te hê, moet jy ’n vriend wees

Daar is ’n selfs belangriker faktor, trouens, dit is die allerbelangrikste. Byna 2000 jaar gelede het Jesus getoon dat onselfsugtige liefde die sleutel tot sukses in alle menseverhoudings is. Hy het ander geleer: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:31). Hierdie lering het bekend geword as die Gulde Reël. Ja, die enigste manier om ware vriende te hê, is om self ’n onselfsugtige, vrygewige vriend te wees. Met ander woorde, om ’n vriend te hê, moet jy ’n vriend wees. Om te gee, dra meer by tot die sukses van ’n vriendskap as om te ontvang. Ons moet bereid wees om ons vriend se behoeftes bo ons eie voorkeure en gerief te stel.

Manuela, wat vroeër aangehaal is, sê: “Dit is net soos Jesus gesê het; ’n mens is waarlik gelukkig wanneer jy gee. Die persoon wat ontvang, is gelukkig, maar die gewer is selfs gelukkiger. Ons kan gee deur bloot opreg te vra hoe dit met ons vriende gaan, deur hulle probleme te probeer verstaan en deur ons bes vir hulle te doen sonder om te wag dat hulle ons vra.” Toon dus belangstelling in ander, ook in die vriende wat jy reeds het. Versterk jou verhoudings. Moenie vriendskappe opoffer vir minder belangrike en minder bevredigende strewes nie. Vriende verdien tyd en aandag. Ruben, van Italië, sê: “As ons vriende wil vind en behou, moet ons tyd daarvoor maak. In die eerste plek verg dit tyd om ’n goeie luisteraar te wees. Ons kan almal verbeter in die manier waarop ons luister en waarop ons belangstelling toon in wat ander sê deur hulle nie in die rede te val nie.”

Toon respek vir ander

’n Ander sleutelfaktor tot ’n gelukkige, blywende vriendskap is wedersydse respek. Dit sluit in dat ons ander se gevoelens in ag neem. Jy wil hê dat jou vriende taktvol en bedagsaam moet wees wanneer hulle smaak of mening van joune verskil, nie waar nie? Moet jy hulle dan nie dieselfde behandel nie?—Romeine 12:10.

Nog ’n manier waarop ons respek toon, is deur ons vriende nie met aandag te versmoor nie. Ware vriendskap is nie jaloers of besitlik nie. In 1 Korintiërs 13:4 sê die Bybel: “Die liefde is nie jaloers nie.” Waak dus teen die neiging om jou vriende net vir jouself te wil hê. As hulle ander in hulle vertroue neem, moet jy nie gekrenk voel of hulle dalk selfs verwerp nie. Leer dat ons almal ons vriendekring moet uitbrei. Laat jou vriende toe om ook ander vriendskappe te smee.

Neem ook jou vriende se behoefte aan privaatheid in ag. Individue, sowel as egpare, het tyd vir hulleself nodig. Hoewel jy nie moet huiwer om belangstelling in ander te toon nie, moet jy gebalanseerd en bedagsaam wees en nie van jou vriende se gasvryheid misbruik maak nie. Die Bybel vermaan ons: “Sit jou voet selde in die huis van jou medemens, sodat hy nie genoeg van jou kry [nie].”—Spreuke 25:17.

Moenie volmaaktheid vereis nie

Wanneer mense mekaar leer ken, word hulle natuurlik meer bewus van mekaar se swakhede sowel as sterk punte. Ons moet nogtans nie toelaat dat dit ons verhinder om vriende te maak nie. “Party mense verwag te veel van potensiële vriende”, sê Pacôme, van Frankryk. “Hulle verwag van hulle om net goeie eienskappe te hê, maar dit is onmoontlik.” Nie een van ons is volmaak nie, en ons het nie die reg om volmaaktheid van ander te vereis nie. Ons hoop dat ons vriende ons ondanks ons onvolmaakthede sal aanvaar en toegewings vir ons sal maak. Moet ons nie ook ons vriende se tekortkominge oor die hoof probeer sien en nie net dink dat hulle sekere tekortkominge het of ons daarop blind staar nie? Die skrywer Dennis Prager herinner ons: “Vriende sonder foute (d.w.s. diegene wat nooit kla nie, altyd liefdevol is, nooit buierig is nie, altyd aandag aan ons skenk en ons nooit teleurstel nie) word troeteldiere genoem.” As ons nie wil hê dat troeteldiere op die ou end ons beste vriende is nie, moet ons op die apostel Petrus se raad ag slaan en toelaat dat ‘liefde ’n menigte sondes bedek’.—1 Petrus 4:8.

Daar is al gesê dat vriendskap ons vreugde verdubbel en ons smart halveer. Maar dit is nie realisties om te verwag dat ons vriende in al ons behoeftes moet voorsien of al ons probleme moet oplos nie. Dit is ’n selfsugtige beskouing van vriendskap.

Lojale vriende deur dik en dun

As ons met iemand vriende gemaak het, moet ons sy of haar vriendskap nooit as vanselfsprekend aanneem nie. Wanneer vriende deur tyd en afstand geskei word, dink hulle aan mekaar en bid hulle vir mekaar. Selfs al sien hulle mekaar selde, is dit maklik vir hulle om hulle vriendskap te hernieu. Veral in moeilike tye of tye van nood is dit baie belangrik om daar te wees vir ons vriende. Oor die algemeen moet ons ons nie van ons vriende onttrek wanneer hulle probleme het nie. Dit is dalk wanneer hulle ons die nodigste het. “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). En wanneer daar ’n misverstand tussen ware vriende is, ruim hulle dit gou uit die weg en vergewe hulle mekaar. Ware vriende keer nie hulle vriende die rug toe net omdat dinge moeilik raak nie.

As jou beweegredes onselfsugtig is en jy ’n positiewe gesindheid teenoor ander het, kan jy vriende maak. Maar die soort vriende wat jy het, is ook belangrik. Hoe kan jy goeie vriende kies? Die volgende artikel sal hierdie vraag bespreek.

[Voetnoot]

a Sien ook die artikel “Glimlag—Dit is goed vir jou!” in die Ontwaak! van 8 Julie 2000.

[Venster/Prente op bladsy 6, 7]

Kan mans en vroue “net vriende” wees?

Kan mans en vroue wat nie met mekaar getroud is nie, net vriende wees? Dit hang af van wat ons met die woord “vriend” bedoel. Jesus het ’n hegte vriendskap gehad met Maria en Marta van Betanië—albei ongetroude vroue (Johannes 11:1, 5). Die apostel Paulus was ’n vriend van Priscilla en haar man, Aquila (Handelinge 18:2, 3). Ons kan seker wees dat hierdie mense hartlike geneentheid vir mekaar gehad het. Terselfdertyd is dit ondenkbaar dat Jesus of Paulus ooit sou toegelaat het dat hierdie verhoudings in ’n romantiese rigting beweeg.

In vandag se samelewing is daar meer as ooit tevore voortdurende interaksie tussen mans en vroue, en dit word al hoe belangriker dat mense van albei geslagte weet hoe om ’n gepaste, vriendskaplike verhouding met mekaar te hê. Egpare vind ook baat by heilsame vriendskappe met ander egpare en met ongetroude mense.

“Dit kan egter baie moeilik wees om tussen romantiese, seksuele en vriendskaplike gevoelens te onderskei”, waarsku die tydskrif Psychology Today. “Die feit dat seksuele aangetrokkenheid skielik en ongevraagd in ’n verhouding tussen mense van die teenoorgestelde geslag kan ontstaan, is ’n immerteenwoordige gevaar. ’n Onskuldige, platoniese drukkie kan in ’n oogwink ’n romantieser betekenis aanneem.”

Dit is veral belangrik dat egpare realisties en prakties moet wees. “Enige vorm van intimiteit met ander mense kan ’n huwelik bedreig”, sê die skrywer Dennis Prager in sy boek Happiness Is a Serious Problem. “Dit is nie net seks wat ’n verhouding intiem maak nie, en jou huweliksmaat het die reg om te verwag dat hy of sy jou enigste ware intieme vriend van die ander geslag is.” Jesus het daarop gewys dat sedelike reinheid ’n saak van die hart is (Matteus 5:28). Wees dus vriendelik teenoor lede van die teenoorgestelde geslag, maar bewaak jou hart en vermy ten alle koste situasies wat tot verkeerde denke, gevoelens of dade kan lei.

[Prente op bladsy 7]

As jy na jou liggaam en verstand omsien, maak dit van jou ’n aantrekliker persoon

[Prent op bladsy 8]

Vriende is openhartig teenoor mekaar