Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Woede lei tot hartprobleme

“Mans wat geneig is om woedeuitbarstings te hê of om humeurig te wees, loop ’n groter gevaar om ’n ongereelde hartritme te ontwikkel wat atriale fibrillasie genoem word”, berig die Daily News van New York. Navorsers het gevind dat mans wat sê dat hulle opvlieënd of kort van draad is of teen ander uitvaar wanneer hulle gefrustreerd is of kwaad word wanneer hulle gekritiseer word, se kanse om ’n ongereelde hartritme te ontwikkel 30 persent groter is. Die hoof van die studie, Elaine Eaker, sê: “Baie mense dink dat jy die negatiewe gevolge van woede op jou gesondheid kan teëwerk deur uiting daaraan te gee eerder as om dit in te hou. . . . Maar dit is beslis nie die geval met die mans in hierdie studie nie—hulle het nie net ’n groter risiko geloop om atriale fibrillasie te ontwikkel nie, maar ook om weens enige ander oorsaak te sterf.”

Die huwelik en egskeiding in Brittanje

In Brittanje “sê ’n derde van ongetroudes dat dit ‘uiters onwaarskynlik’ is dat hulle sal trou”, berig Londen se Daily Telegraph. Jenny Catlin, ’n ontleder vir die Mintel- Internasionale Groep, sê: “Dit toon duidelik hoe mense se gesindhede teenoor die huwelik verander het.” Sy voeg by: “Dit is nou baie meer aanvaarbaar om saam te bly en kinders te hê sonder om ooit te trou.” Vir diegene wat graag wil trou, maak die stygende koste—nou gemiddeld R174 500—die opsie om oorsee te trou baie gewilder. Meer as 10 persent van Britse paartjies trou eerder nou in eksotiese plekke. Met minder gaste en goedkoper spyseniering kan dit omtrent ’n derde kos van wat dit by die huis sou gekos het. Hoewel daar minder troues is, het die egskeidingsyfer die hoogte ingeskiet. “Daar is nou vyf keer meer geskeide bejaardes as 30 jaar gelede, en daar word gevrees dat die syfer sal aanhou toeneem”, sê die Telegraph.

Kindermolestering in Mexiko

Volgens Mexikostad se Departement van Justisie “is 1 uit elke 8 meisies en 1 uit elke 10 seuns in Mexikostad slagoffers van seksuele molestering”, berig die koerant El Universal. Die Departement van Justisie versprei pamflette wat ouers waarsku teen seksuele molestering en voorstel wat ouers moet doen wanneer hulle kind wel gemolesteer is. Dit sluit die volgende in: (1) Glo en ondersteun jou kind wanneer hy of sy sê dat hy of sy seksueel gemolesteer is. (2) Verduidelik aan die kind dat hy of sy nie verantwoordelik is vir wat gebeur het nie. (3) Sê vir die kind dat wat gebeur het, onwettig is en dat dit by die polisie aangemeld moet word sodat dit nie weer sal gebeur nie.

Die verwydering van tatoeëermerke

“Party opnames toon dat 80 tot 90 persent van mense wat tatoeëermerke het, dit op die een of ander stadium in hulle lewe wil laat verwyder”, sê die Vancouver Sun van Kanada. “Omdat daar ’n toename is in die aantal tatoeëermerke wat mense kry, is daar ’n ooreenstemmende toename in die aantal mense wat dit wil laat verwyder”, sê een dermatoloog. ’n Tipiese voorbeeld is dié van Dan, ’n 27-jarige man, wat ’n heldergroen embleem van sy arm laat verwyder het. Hy sê: “Dit verteenwoordig net nie meer wie ek is nie.” Maar selfs met moderne laserbehandeling kan die verwydering van tatoeëermerke pynlik, duur en tydsaam wees. “Dit kan tot $1,400 [R6 450] kos om selfs net ’n klein tatoeëermerk te laat verwyder”, sê die koerant. Dit voeg by: “Moderner, veelkleurige tatoeëermerke is amper onmoontlik om te verwyder, veral as hulle groot is.”

Dodelike brandstof

“Rook van binnenshuise kookvure eis elke 20 sekondes ’n lewe in die ontwikkelende wêreld”, berig die tydskrif Down to Earth van Nieu-Delhi, Indië. “Die syfer is baie hoër as die aantal mense wat aan malaria sterf en dieselfde as die sterftesyfer weens onveilige water en ’n gebrek aan sanitasie.” Die gebruik van steenkool en biomassabrandstof, tesame met swak geventileerde vertrekke, stel huisgesinne dikwels bloot aan besoedelstowwe wat 100 keer hoër as die aanbevole vlakke is. Hierdie besoedelstowwe is ook al verbind met longkanker, asma, tering en chroniese brongitis. Deskundiges van die Ontwikkelingsgroep vir Intermediêre Tegnologie, ’n navorsingsorganisasie, sê dat mense wat te arm is om skoner brandstof te bekostig, tog hulle blootstelling aan gevaarlike dampe met tot 80 persent kan verminder deur goed ontwerpte kaggelstowe of kookkappe te gebruik. Elke jaar sterf 1,6 miljoen mense weens binnenshuise besoedeling, waarvan byna ’n miljoen kinders is.

Werkende seniors

’n Groeiende aantal Kanadese oor 65—die algemene aftreeouderdom in Kanada—bly in die arbeidsmag, berig The Globe and Mail. Die aantal senior burgers het oor vyf jaar met 11 persent toegeneem, maar die aantal werkende seniors het met byna 20 persent toegeneem. Waarom stel soveel van hulle hulle aftrede uit? “Mense is vandag gesonder”, sê Doreen Duchesne, ’n ontleder van Statistics Canada. “Hulle lewe langer.” Finansiële behoeftes en verveeldheid word ook as redes vir die tendens aangegee. Volgens die verslag hou 6 persent van mense oor 80 aan om te werk; boerdery is die algemeenste bedrywigheid onder seniors, gevolg deur kantoorwerk en werk as verkoopspersone.

Europa in ’n rookwolk

Die aantal rokers in die Europese Unie maak nou 40 persent van die bevolking uit, berig die Spaanse koerant El País. Die Europese land met die hoogste persentasie rokers is Griekeland, waar 44 persent van die bevolking rook. Griekeland produseer jaarliks 40 000 ton tabak, wat dit ook die grootste tabakproduseerder in Europa maak. Portugal, met ’n syfer van net meer as 29 persent, is een van die Europese lande met die laagste persentasie rokers, insluitende geleentheidsrokers. En tog is tabakpryse in Portugal die laagste in die Europese Unie. ’n Moontlike rede vir hierdie lae persentasie rokers is dat daar sedert 1982 in Portugal ’n verbod geplaas is op tabakadvertensies sowel as om in openbare plekke te rook.

Die mees vertaalde boek

Die Bybel is nog steeds die mees vertaalde boek in die wêreld. Dit is in sy geheel of gedeeltelik vertaal in 2 355 van die nagenoeg 6 500 tale wat gepraat word. Die Bybel is nou beskikbaar in 665 tale van Afrika, gevolg deur 585 van Asië, 414 van Oseanië, 404 van Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande, 209 van Europa en 75 van Noord-Amerika. Die United Bible Societies help tans met Bybelvertalingsprojekte in ongeveer 600 tale.