Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons het almal vriende nodig

Ons het almal vriende nodig

Ons het almal vriende nodig

“’n Vriend is iemand met wie jy openhartig oor enigiets kan gesels, iemand wat jy enige tyd van die dag kan bel.”—Yaël, Frankryk

“’n Vriend verstaan wanneer jy ontsteld is en deel in jou gevoelens.”—Gaëlle, Frankryk

“DAAR is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer” (Spreuke 18:24). Sedert daardie woorde sowat 3 000 jaar gelede in die Bybel opgeteken is, het die menslike natuur nie verander nie. Vriendskap is nog net so belangrik vir die mensegees as wat voedsel en water vir die menseliggaam is. Maar vir baie is dit moeilik om hierdie basiese behoefte aan vriendskap te bevredig. Eensaamheid is iets algemeens. “Ons hoef nie ver te soek om van die oorsake te vind nie”, sê Carin Rubenstein en Phillip Shaver in hulle boek In Search of Intimacy. Hulle meld faktore soos “wydverspreide mobiliteit”—dat mense dikwels verhuis—“onpersoonlike, misdaadgeteisterde stede” en “die feit dat die televisie en video’s ’n plaasvervanger geword het vir persoonlike interaksie in die gemeenskap”.

Die moderne lewe neem ook feitlik al ons tyd en energie in beslag. “Die hedendaagse stadsbewoner kom in ’n week met meer mense in aanraking as waarmee die sewentiende-eeuse dorpenaar in ’n jaar of selfs ’n leeftyd in aanraking gekom het”, skryf Letty Pogrebin in haar boek Among Friends. Omdat ’n mens moontlik honderde kennisse het, kan dit moeilik wees om jou aandag lank genoeg op individue te vestig om hegte vriendskappe te smee en te onderhou.

Selfs in plekke waar die lewenstempo nie lank gelede nie minder gejaagd was, is maatskaplike toestande vinnig besig om te verander. “Ons was altyd baie, baie na aan ons vriende”, sê Ulla, wat in Oos-Europa woon. “Maar nou verdiep baie hulle hulle in hulle werk of in persoonlike belange. Almal is heeltyd besig, en ons kan sien hoe ons ou vriendskappe stadig verbrokkel.” Omdat ons lewe so gejaagd is, kan vriendskap ’n minder belangrike plek begin inneem.

Maar ons behoefte aan vriendskap bly intens. Veral jongmense het ’n behoefte daaraan. Dit is soos Yaël, wat hierbo aangehaal is, verduidelik: “Wanneer jy jonk is, is dit belangrik om te voel dat jy aanvaar word en inpas, om na aan iemand te voel.” Of ons nou jonk of oud is, ons almal het gelukkige en sinvolle vriendskappe nodig. En ten spyte van die uitdagings is daar baie wat ons kan doen om ware vriende te maak en te behou. Die volgende artikels sal dit bespreek.