Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Versameling as stokperdjie—Balans is nodig

Versameling as stokperdjie—Balans is nodig

Versameling as stokperdjie—Balans is nodig

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

MAAK jy soms goed bymekaar wat jy sê jy dalk “eendag” sal gebruik? Wel, as daardie dag nooit aanbreek nie, sal jy later waarskynlik ontslae raak van goed wat geen praktiese doel dien nie. Maar dit is interessant dat baie mense dit geniet om goed te versamel wat moontlik nooit van enige praktiese waarde sal wees nie. Hierdie mense het versameling hulle stokperdjie gemaak.

Party versamelaars maak voorwerpe bymekaar wat algemeen versamel word, soos klippe, posseëls of ou munte. Ander is geesdriftige versamelaars van poppe, opgestopte diertjies, lepels, medaljes, poskaarte, oudhede, musiekopnames of vakansiegedenkwaardighede. Die moontlikhede is eindeloos! ’n Amerikaanse prokureur het byvoorbeeld ’n versameling van sowat 200 000 spoorspykers! Hy is een van honderde versamelaars wat die platteland fynkam op soek na ou spoorspykers wat ’n datumstempel op die kop het.

Harper’s Magazine sê: “Dit is verbasend om te sien wat mense alles versamel—tande en pruike, kopbene en koekblikke, buskaartjies, hare en waaiers en vlieërs en tange, honde en munte, kieries, kanaries en skoene, . . . knope en beendere, hoedspelde en vervalste handtekeninge en eerste uitgawes en gasmaskers.”

Dan is daar versamelaars wat ’n voorliefde vir iets buitengewoons het. ’n Russiese gravin het byvoorbeeld bedpanne versamel wat aan ryk en beroemde mense behoort het. ’n Japannese vors het ’n versameling van 5 000 honde gehad—wat in ryklik versierde hokke gebly het. Volgens Harper’s Magazine het ’n ryk versamelaar duisende vlooie bymekaargemaak “wat in spiritus bewaar is in afsonderlike flessies waarop die plek van oorsprong en die naam van die gasheer was waarop die vlooi gevind is, hetsy dier of mens”.

Hoewel daar vandag uiterste gevalle is, is die gebruik om goed te versamel niks nuuts nie. Daar is byvoorbeeld baie lank gelede al groot versamelings boeke en manuskripte bymekaargemaak. Die boek Light From the Ancient Past vertel hoe die Assiriese koning Assurbanipal (sewende eeu v.G.J.) sy skrywers oral rondgestuur het om manuskripte van vroeë verslae en geskrifte vir sy koninklike biblioteek in Nineve te versamel. Assurbanipal se paleis waarin hierdie verbasende biblioteek is, is in 1853 opgegrawe.

Die Griekse en Romeinse adel was eweneens bekend daarvoor dat hulle kunswerke versamel het. Die boek Collecting—An Unruly Passion sê: “In die tyd van Cicero en Caesar was Rome as ’n seëvierende ryk die vernaamste voorbeeld van buitensporigheid en kwistige verbruik. . . . Hele straatblokke het uit kunshandelaars bestaan. Party van die rykste burgers het selfs hulle eie private museums gehad.”

Waarom is versameling so gewild?

Waarom versamel mense vandag goed as ’n stokperdjie? The Encyclopedia Americana sê: “Mense beoefen stokperdjies om baie redes, maar hoofsaaklik omdat hulle dit geniet. Stokperdjies is ontspannend en bied ’n verandering van die daaglikse roetine.” Ja, vir baie mense is dit eenvoudig ’n genot om tydsaam deur hulle versameling kosbare voorwerpe te kyk.

’n Artikel in die koerant Canberra Times van Australië sê verder dat ’n versamelaar se versameling “herinneringe kan oproep van plekke en mense waarvan hy al byna vergeet het. As dit ’n versameling oudhede is, word ’n brug gebou tussen die vaardighede en strewes van vorige geslagte en waardering vir wat ons geslag het.” Ja, dit kan insiggewend en opvoedkundig wees om goed te versamel. Rex Nan Kivell was byvoorbeeld ’n bekende versamelaar in Australië. Hy het ’n buitengewone versameling van sowat 15 000 voorwerpe gehad wat met die vroegste geskiedenis van Australië en Nieu-Seeland verband hou.

Nog ’n moontlike rede waarom hierdie stokperdjie so gewild is, is dat baie mense glo dat versamelstukke ’n goeie belegging is. Die Utne Reader sê: “Om watter ander rede sal mense $80 [R500] betaal vir ’n stel ‘oorspronklike kaartjies [vir ’n rockkonsert] wat in 1969 in Woodstock gehou is’, saam met ’n brief wat die egtheid daarvan bevestig, as hulle nie eers die konsert bygewoon het nie? Die versameling van voorwerpe wat met die popkultuur verband hou, het ’n winsgewende bedryf geword.”

Maar ’n woordjie van waarskuwing. Die artikel in The Canberra Times sê: “Versameling is nie altyd net plesier nie. Daar is slaggate. Nie alle verkopers is betroubaar nie, en daar is baie namaaksels en vervalsings wat as iets kosbaars aangebied word, met min agting vir wat reg of sedelik is.” Hoe teleurstellend sou dit tog wees om uit te vind dat ’n mens se “belegging” ’n waardelose namaaksel is! Die woorde van Spreuke 14:15 is dus baie prakties vir versamelaars: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”

Balans is nodig

’n Mens kan ook te veel tyd, energie en geld daaraan bestee om goed te versamel. Een versamelaar het haar gewoonte as “’n onbedwingbare rusteloosheid” beskryf. Alastair Martin, wat sy lewe lank ’n versamelaar was, het selfs erken dat party versamelaars “ietwat eksentriek is”.

Werner Muensterberger het in sy boek Collecting—An Unruly Passion gesê: “Wanneer ’n mens versamelaars dophou, kom jy gou agter dat hulle ’n voortdurende behoefte het, selfs ’n sterk drang, om voorwerpe aan te skaf. . . . Dit is nie versameling op sigself wat dalk vir die buitestander vreemd lyk nie, maar eerder die spektakel wat baie versamelaars van hulleself maak, hulle emosionele betrokkenheid wanneer hulle goed probeer bekom, hulle opgewondenheid wanneer hulle dit vind of hulle ontsteltenis wanneer hulle dit nie kan kry nie en die feit dat hulle gesindhede en gedrag soms eienaardig is.”

Behoort ’n Christen toe te laat dat hy so behep raak met ’n stokperdjie dat hy tot onverstandige uiterstes gaan wat dalk verleentheid veroorsaak? Nee, want die Bybel waarsku ons om ‘gebalanseerd te bly’ (1 Petrus 1:13, voetnoot in NW). En hoewel ’n stokperdjie genotvol kan wees, is dit eenvoudig nie een van “die belangriker dinge” waaroor ’n godvrugtige persoon besorg moet wees nie (Filippense 1:10). Leer by koning Salomo. Hy het sy groot rykdom gebruik en ’n indrukwekkende versameling huise, wingerde, bome en vee gehad. “Niks wat my oë gevra het, het ek hulle ontsê nie”, het Salomo erken. Maar het dit hom ware bevrediging verskaf om sy lewe aan hierdie dinge te wy? Salomo antwoord: “Ek, ja ek, het my gewend tot al my werke wat my hande verrig het en tot die harde werk waaraan ek hard gewerk het om dit tot stand te bring, en kyk! alles was nietigheid en ’n gejaag na wind.”—Prediker 2:3-11.

Hoe kan jy voorkom dat jou belangstelling in versameling belangriker sake verdring? Jy kan jou afvra: ‘Hoeveel tyd kan ek redelikerwys aan hierdie stokperdjie of tydverdryf bestee?’ Onthou dat dit nie net die aankoop van die gewenste voorwerp is wat tyd in beslag neem nie. Dit verg ook tyd om na jou versamelstukke om te sien, dit gereeld skoon te maak, te vertoon, te bewonder en te beveilig. En wat van geld? Sal jy geld aan die stokperdjie bestee wat jy nodig het om jou gesinsverantwoordelikhede na te kom? (1 Timoteus 5:8). Het jy die selfbeheersing om iets nie te koop wanneer jy dit werklik nie kan bekostig nie? En hoe hard jy ook al probeer, jy kan eenvoudig nie alles versamel wat ’n mens kan besit nie. Wat Salomo oor boeke gesê het, is ook op ander versamelstukke van toepassing: “Aan die maak van baie boeke kom geen einde nie, en groot toewyding daaraan is vermoeiend vir die vlees” (Prediker 12:12). Christelike balans is dus nodig.

Versameling is al “’n onbeheerste liefde” genoem. Maar dit hoef nie te wees nie. As ’n mens dit op sy plek hou, balans handhaaf en nie tot uiterstes gaan nie, kan dit ’n ontspannende, genotvolle en miskien selfs opvoedkundige tydverdryf wees.

[Prent op bladsy 26]

Dit is verstandig om die koste daarvan te bereken om ’n stokperdjie te beoefen en om in ag te neem hoeveel tyd sowel as geld daarby betrokke is