Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Behep met skoonheid

Behep met skoonheid

Behep met skoonheid

MARIA a is ’n suksesvolle jong vrou en is deel van ’n lieflike gesin. Tog is sy nie gelukkig nie. Waarom nie? Sy is ontevrede met haar voorkoms. Hoewel haar gesin haar probeer bemoedig, voel Maria dat sy allesbehalwe mooi is, en dit maak haar terneergedruk.

José kom uit ’n ordentlike gesin en het blykbaar alle rede om gelukkig te wees. Maar hy dink nie dat hy ooit ’n huweliksmaat gaan vind nie. Waarom nie? José meen dat hy onaansienlik, selfs lelik, is. Hy is daarvan oortuig dat ’n aantreklike meisie nooit in hom sal belangstel nie.

Die agtjarige Luis hou daarvan om skool toe te gaan en het ’n heel vriendelike geaardheid. Hy geniet dit om saam met sy skoolmaats te speel, maar hy huil dikwels omdat hulle hom oor sy voorkoms spot. Hulle sê hy is vet.

Dit is nie geïsoleerde gevalle nie. Om te sê dat Maria, José en Luis bloot ’n gebrek aan selfrespek het, is dalk ’n oorvereenvoudiging van die situasie. Niemand hou immers daarvan om verworpe te voel weens sy of haar voorkoms nie.

Die samelewing heg egter ’n oordrewe waarde aan voorkoms. Trouens, sukses hang blykbaar dikwels van ’n mens se voorkoms af. Dit lyk byvoorbeeld of die aantreklikste mense meer geleenthede in die arbeidsmark kry. Pilar Muriedas, een van die direktrises van die Latyns-Amerikaanse en Karibiese Netwerk vir Vrouegesondheid, sê die volgende in verband met vroue: “Om goed te lyk, is een van die vernaamste vereistes vir sukses.” En volgens dr. Laura Martínez weet vroue alte goed dat ’n mens se “voorkoms [uiteindelik] baie belangrik is om in diens geneem te word”.

Baie mans het natuurlik ook daarmee behep geraak om die “volmaakte” liggaam te hê. Ja, baie mans en vroue doen groot moeite om goed te probeer lyk; hulle gaan selfs op hongerdiëte of ondergaan pynlike behandeling om die mooiste gesig of figuur moontlik te hê. Is dit die moeite werd? Hou dit enige gevare in?

[Voetnoot]

a Name is verander.

[Prent op bladsy 3]

Jou voorkoms kan ’n uitwerking hê op die geleenthede wat jy gebied word