Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Daar staan geskrywe dat ek hom sal sien

Daar staan geskrywe dat ek hom sal sien

Daar staan geskrywe dat ek hom sal sien

Soos vertel deur Rosalía Phillips

“Jy gaan ’n groot sukses wees! Jy het die talent om groot hoogtes te bereik!” Ons orkesleier het by sy klavier gesit en hierdie woorde vir my gesê sekondes voordat die verhooggordyn opgegaan het. Die ander vier lede van die sanggroep het my verwelkom. Ek was die nuutste lid van die groep en het ’n rooi rok vol blinkertjies aangehad. My hart het in my keel geklop. Hier, in een van die vernaamste teaters in Mexikostad, het ek op die punt gestaan om my debuut te maak, om ’n loopbaan in die vermaaklikheidswêreld te begin! Dit was in Maart 1976, ’n maand voor my 18de verjaarsdag.

MY PA het drie jaar vroeër gesterf, en ek het nog baie aan hom gedink. Die publiek het hom ook goed onthou. Mense het hom liefgehad en bewonder as een van die topkomediante in die land. Tydens die sogenoemde goue era van die Mexikaanse filmbedryf het hy in meer as 120 rolprente verskyn. Sy naam, Germán Valdés, “Tin-Tán”, was oral te sien in teaters in Sentraal- en Suid-Amerika en in Spaanssprekende dele van die Verenigde State en Europa. Sy rolprente word vandag nog, meer as 30 jaar ná sy dood, kort-kort op televisie vertoon.

Vandat ek ’n klein dogtertjie was, was ons huis ’n bymekaarkomplek van beroemdes. My ma en haar susters het ’n sangtrio gevorm wat as Las Hermanitas Julián (Die Julián-susters) bekend gestaan het. Haar broer Julio Julián was ’n beroemde operatenoor in Europa, terwyl sy Spaanse vrou Conchita Domínguez sopraan gesing het. Daarbenewens was my pa se broers Manuel “Loco” (die malle) Valdés en Ramón Valdés, beter bekend as Don Ramón, beroemde televisiekomediante.

Ek en my broer Carlos het die rolprent- en opnameateljees asook die revue-teaters goed geken, want my pa het ons dikwels saam werk toe en op toer geneem; dit is hoe hy die gesin bymekaargehou het. Wat ’n kontras was daar tog tussen daardie oppervlakkige milieu en ons huis, waar ware eenheid en liefde geheers het! My pa was ’n baie liefdevolle man, vol energie en lewenslus. Hy was uiters vrygewig, soms was hy selfs te vrygewig. Hy het my geleer dat ’n mens se geluk nie afhang van wat jy besit nie, maar van wat jy vir ander gee.

’n Verpletterende verwikkeling

Teen die einde van 1971 het my ma vir my en my broer die skokkende nuus gegee dat my pa met ’n ongeneeslike siekte gediagnoseer is. Ek het ’n jaar en ’n half lank gesien hoe hy ly en voortsukkel weens die sterk medikasie wat hy gebruik het.

Ek onthou nog die dag toe die ambulans hom by die huis kom haal het om hom hospitaal toe te neem. Ek het geweet dat hy nooit weer sou terugkom nie. Ek kan nouliks my pyn beskryf. Ek het besluit dat ek net soos hy moes ly. Ek het ’n sigaret in my handpalm doodgedruk en ontroosbaar gehuil. Op 29 Junie 1973 is my pa oorlede. Ek het my begin afvra: ‘Waarom moes so ’n goeie mens, wat soveel vreugde gebring het, ons verlaat? Waar is hy nou? Kan hy my hoor as ek met hom praat? Watter sin het my lewe nou sonder hom?’

’n Doellose loopbaan

Nadat ek myself tyd gegee het om emosioneel te herstel, het ek klasse in binnenshuise versiering begin loop. Ek was egter ’n bietjie rebels en het die klasse opgegee. Ek en my ma het besluit om na meer sosiale geleenthede toe te gaan. Ons het elegante partytjies in die vermaaklikheidswêreld bygewoon. Die gasheer het dikwels die aand afgesluit met die woorde: “Rosalía, sing asseblief nou vir ons een van jou liedjies.” Hulle het van my stem en die gevoel waarmee ek gesing het, gehou en gesê dat ek my ouers se talent geërf het.

By een van daardie partytjies het die komponis en orkesleier van Arturo Castro and His Castros 76 my hoor sing en my genooi om by sy groep aan te sluit. Aanvanklik het ek nie van die idee gehou nie. Al was ek baie lief vir musiek en het ek kitaar gespeel en liedjies gekomponeer vandat ek 14 was, wou ek nie ’n professionele sangeres word nie. Maar omdat my ma druk op my uitgeoefen en ons gesin ’n finansiële posisie gehad het om te handhaaf, het ek uiteindelik die aanbod aanvaar. Dit het gelei tot my debuut wat vroeër beskryf is.

Ek het van die begin van my loopbaan af altyd werk gehad. Ons groep het deur Mexiko getoer en twee vertonings per aand gehou. Ons het in Guatemala, Venezuela, New York en Las Vegas gewerk. Ek was twee jaar lank deel van die groep. Toe is ek die geleentheid gebied om rolprente te maak. Ek is twee byrolle in rolprente aangebied asook ’n hoofrol, waarvoor ek twee belangrike toekennings ontvang het.

Op ’n dag het ek ’n oproep ontvang van die grootste televisiemaatskappy in die land. Hulle het my ’n eksklusiewe kontrak onder hulle “sterstelsel” aangebied, asook die hoofrol in ’n sepie wat hulle na my sou vernoem. Ek sou oornag ’n ster in die vermaaklikheidswêreld word. Ek sou ’n uitstekende salaris ontvang, selfs al het ek nie voltyds gewerk nie. Maar ek het die kontrak van die hand gewys, want ek het nie gevoel dat ek al hierdie dinge verdien nie en ek was bang dat ek my vryheid sou verloor. Ek het ingestem om in die sepie op te tree, maar slegs sodat ek my dramastudies aan die universiteit kon voortsit. Ek was nogtans nie gelukkig nie. Dit het my gepla om te sien hoe akteurs jare lank sukkel om ’n hoofrol los te slaan, terwyl ek dit gekry het—hoofsaaklik omdat ek Tin-Tán se dogter was.

Toe het ek plate begin maak. Die eerste een het die klankbaan van die sepie ingesluit, waarvan ek die lirieke en musiek geskryf het. Later het ek opnames gemaak by ’n beroemde ateljee in Londen. Ek het nog plate, rolprente en sepies gemaak. Die vermaaklikheidseksie van koerante het artikels oor my begin publiseer; ’n mens kan dus seker sê dat ek die toppunt van sukses behaal het. Nogtans het iets ontbreek. Ek het gesien hoe ydel en mededingend uitvoerende kunstenaars is, en onsedelikheid en geveinsdheid was iets algemeens onder hulle. Ek het my vertroue in mense verloor.

Toe, in die herfs van 1980, het ek my oom Julio by ’n familiereünie gesien. Hy het besluit om sy opera-loopbaan te beëindig, en ek het geluister hoe hy vertel van ’n paradys wat God belowe het. Oom Julio het gesê dat ongeregtigheid en smart van die aarde sal verdwyn en dat daar liefde sal heers. Hy het ook gesê dat die naam van die ware God Jehovah is. Wat my die meeste beïndruk het, was om te hoor dat ons afgestorwe dierbares in die Paradys opgewek sal word. Die vooruitsig om my pa weer te sien, was iets wonderliks. Ek het hom nog altyd gemis en na sy ondersteuning en liefde verlang. Hoe wonderlik sou dit tog wees om hom terug te hê! Maar diep binne-in my het dit vir my onmoontlik geklink. Oom Julio het vir my ’n Bybel gegee en my en my ma na ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies genooi wat ’n paar weke later gehou sou word. Ons het gesê dat ons dalk sou gaan.

Ek besluit om my lewe te verander

Een aand het ek in die bed gerook terwyl ek die Bybel gelees het wat my oom vir my gegee het. Wat ek in die boek Spreuke gelees het, het my laat besef dat lig, begrip en lewe van God af kom, terwyl duisternis, verwarring en die dood van ’n heeltemal ander bron af kom. Daardie selfde nag het ek my heel laaste sigaret doodgedruk en gewag dat my ma by die huis kom. Ek het haar in trane gevra om my te ondersteun in ’n paar groot besluite. Daarna is ek na die teater toe waar ek die rol van Cordelia in Shakespeare se King Lear gerepeteer het. Ek het bedank en my verhouding met my kêrel, een van die hoofspelers, beëindig.

Maar omdat ek nog nie geleer het om God te dien nie, was daar niks waarop ek kon steun nie. Ek het baie depressief geword. Ek het gebid dat God my moes help om te voel dat ek waarlik aan iets kon behoort weens die mens wat ek is, en nie weens my oorgeërfde talent of beroemde naam nie. Ek het my van al my vriende en bedrywighede onttrek.

Die weg na ware sukses

In my verwarde toestand het ek my oom se uitnodiging onthou om die byeenkoms by te woon. Ek het hom gebel, en hy het my na die stadion toe geneem. Wat ek daar gesien het, het my hart geraak. Ek het ordelike mense gesien wat nie gevloek of gerook het nie en niemand probeer beïndruk het nie. Wat ek uit die Bybel gehoor het, het my herinner aan wat ek gelees het in die boekie Is die Bybel werklik die Woord van God? a wat ek kort ná my pa se dood in die huis gekry het.

Gedurende hierdie tyd is ek nog ’n hoofrol in ’n sepie aangebied. Ek het van die rol gehou, want dit het gelyk of dit die godvrugtige waardes waarvan ek by die byeenkoms geleer het, voorgestaan het. Ek het die rol dus aanvaar. Maar hierdie gedagte uit die Bybel het kort-kort by my opgekom: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want . . . watter deelgenootskap het lig met duisternis?”—2 Korintiërs 6:14.

My begeerte om God te behaag, het sterker geword. Ek wou saam met my oom en tannie ’n vergadering by die Koninkryksaal bywoon. Hulle gemeente was ’n uur van ons huis af, maar ek het die volgende drie Sondae soontoe gegaan. My oom het besluit om my na ’n gemeente in ons omgewing te neem. Ons het daar opgedaag net toe die vergadering geëindig het en vir Isabel ontmoet, ’n jong vrou van my ouderdom. Sy was beskeie en vriendelik. Toe my oom my as Rosalía Valdés voorstel, het dit glad nie gelyk of sy deur my naam beïndruk is nie. Ek was baie bly daaroor. Sy het aangebied om die Bybel met my in my eie huis te studeer.

Ons het ons studie begin uit die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. b Isabel was heel gewillig om haar by my rooster aan te pas. Soms moes sy tot baie laat in die nag wag, tot wanneer ek met die verfilming van die sepie klaargemaak het. Hoe dankbaar was ek tog dat iemand in my belanggestel het bloot omdat ek Bybelwaarhede wou leer! Sy was ’n opregte, eerlike en verfynde mens, eienskappe wat ek gedink het slegs aangekweek kon word deur filosofie en kuns te studeer. Ons het gereël om lang studiesessies te hê, soms ’n paar keer per week.

Aanvanklik was dit vir my moeilik om van my verkeerde idees af te sien, maar geleidelik is dit met die waarhede van die Bybel vervang. Ek onthou hoe ek aangemoedig is deur God se belofte: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:10, 11). Die hoop om my pa weer in die Paradys te sien, het ook vir my ’n werklikheid begin word. Ek het baie aan Jesus se woorde gedink: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe.”—Johannes 5:28, 29.

Ek het my werk aan die sepie afgehandel en is dadelik ander rolle aangebied. Hoewel die projekte waarskynlik groter roem vir my sou beteken het, sou ek die indruk skep dat ek onsedelikheid, afgodediens en ander valse idees goedkeur as ek daarin gespeel het. Ek het geleer dat Satan werklik bestaan en dat hy nie wil hê dat ons Jehovah moet dien nie. Ek het dus die rolle van die hand gewys en al die vergaderinge begin bywoon. My ma en broer het natuurlik nie verstaan waarom ek soveel geleenthede en soveel geld prysgee nie. Terselfdertyd kon hulle ’n verandering in my sien. Ek het van ’n ongelukkige, neerslagtige mens in iemand vol lewenslus en vreugde verander. Uiteindelik het ek ’n doel in die lewe gehad!

Ek wou baie graag die dinge wat ek besig was om te leer, vir ander vertel, en kort voor lank het ek ’n verkondiger van die wonderlike boodskap van God se Koninkryk geword. Wanneer ek aan die predikingswerk deelgeneem het, het die huisbewoner dit soms moeilik gevind om aandag te skenk; baie het my as ’n vermaaklikheidskunstenaar herken. By meer as een geleentheid het ek en my metgesel aan iemand se deur geklop terwyl die sepie waarin ek gespeel het, op die TV was. Die huisbewoners kon nie glo dat ek voor hulle deur staan nie!

Op 11 September 1982 het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur gedoop te word. My lewe het nou ’n ware doel gehad en ’n ander soort loopbaan het voor my gelê. Isabel se ywer vir die bediening het my gemotiveer. Sy het as ’n gewone pionier gedien, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Kort voor lank het ek haar begin vergesel na mense met wie sy die Bybel studeer het. Isabel het my beste vriendin geword.

Ek het feitlik glad nie meer as ’n vermaaklikheidskunstenaar gewerk nie, en ek en my ma moes dus met ’n laer lewenstandaard tevrede wees. Intussen het ek die musiek vir my vierde platealbum gekomponeer, wat ’n paar liedjies ingesluit het oor my nuwe waardes en oortuigings. Ek het ’n liedjie geskryf oor my vaste hoop om my pa weer te sien. Ek het die liedjie “Daar staan geskrywe—Ek sal hom sien” genoem. Toe ek dit die eerste keer vir my ma sing, het dit haar diep geraak. Sy kon my opregte oortuiging aanvoel. Ek was verheug toe sy vir my sê dat sy die Bybel wou studeer. Twee jaar later was sy ’n gedoopte kneg van Jehovah. Sy is tot vandag toe nog bedrywig in die bediening.

Mettertyd het dit vir my makliker geword om werksaanbiedings van die hand te wys. En wanneer ek voor ’n beproewing of versoeking te staan gekom het, het die wonderlike beeld van my pa wat saam met ons in ’n pragtige paradys is, my vertroue versterk en my meer vasbeslote gemaak om Jehovah te bly dien.

Op ’n dag is ek ’n rol aangebied in die Spaanse weergawe van die kinderprogram Sesame Street. Ek het nie gedink dat ek dit sou kon doen nie en het vir die regisseur gesê dat my Bybelse beginsels my nie sou toelaat om dinge soos sekere vakansiedae en verjaarsdae te bevorder nie. Die regisseur het geantwoord dat hy my oortuigings sou respekteer as ek die werk aanvaar, en dat ons ’n kontrak kon opstel waarin my standpunt uiteengesit word. Ek het dit dus aanvaar en 200 episodes verfilm. Dit was die laaste werk wat ek as ’n aktrise gedoen het.

Daar was nog net een kontrak met die platemaatskappy wat ek moes nakom; ek het dus tien van my komposisies opgeneem, waaronder die liedjie wat ek oor my pa en die opstanding geskryf het. Ek het die geleentheid gehad om daardie liedjie op televisie en by persoonlike optredes te sing, waartydens ek altyd melding gemaak het van my oortuigings. Die platemaatskappy het egter druk op my begin uitoefen om ’n sensueler beeld te hê. Ek het toe bedank.

Seëninge in God se diens

In Desember 1983 het ek en Isabel op ’n toer van die fasiliteite van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gegaan. Daar het ek Russell Phillips ontmoet, met wie ek later getrou het. Ons het byna twee jaar lank vir mekaar geskryf. Hoe goed onthou ek nog die dag toe ek met die gewone pionierdiens begin het—Russell het al die pad van New York af vir my rose gestuur!

Ek het ’n jaar lank saam met Isabel gepionier. Toe is sy genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko te gaan dien. Wat sy vir my oor haar nuwe toewysing vertel het, het die begeerte by my gewek om my bediening uit te brei en ook by Bethel te dien, as dit Jehovah se wil was.

Russell was nog ’n seën in my lewe. Danksy sy liefde vir Jehovah en Sy organisasie het ek geleer om die voltydse diens as baie kosbaar te beskou. Hy het drie jaar by die Brooklynse Bethel gedien en het sy Betheldiens baie geniet. Nadat ons getroud is, het ons saam as gewone pioniers in Colorado, VSA, gedien. Later is ons genooi om as internasionale konstruksiewerkers by nuwe takfasiliteite in ander lande te gaan dien. Hoe verras was ons tog toe ons hoor dat ons na Mexiko gestuur word! In April 1990 het ons die wonderlike voorreg aangegryp om lede van die Bethelgesin in Mexiko te word. Russell se voorbeeld het my baie bemoedig. Ek het die selfopofferende gees bewonder wat hom beweeg het om sy vaderland en familie te verlaat om Koninkryksbelange in Mexiko te bevorder.

Ek en Russell het ons diensvoorreg by die Mexiko-takkantoor baie geniet. Maar dinge het skielik verander toe ek swanger geraak het. Ons het dit glad nie verwag nie. Tog het ons nog altyd ouers bewonder wat hulle kinders in die weg van die waarheid grootmaak, en ons het dit met dankbaarheid as ’n nuwe toewysing aanvaar. In Oktober 1993 is Evan gebore, en Gianna twee en ’n half jaar later. Hoewel dit voortgesette inspanning verg om kinders groot te maak, voel ons dat ons daarvoor beloon word elke keer wanneer ons 11-jarige seun en 8-jarige dogter hulle eie geloof bekend maak terwyl hulle aan die bediening deelneem.

Russell dien nou op ’n Koninkryksaal-streekboukomitee, en ek het onlangs die voltydse bediening hervat en as ’n pionier begin dien. Gedurende die afgelope 20 jaar kon ek 12 familielede, asook 8 ander, help om Bybelwaarheid te leer en Jehovah te dien.

Wanneer my kinders my vra: “Mammie, was dit moeilik om ’n lewe in die vermaaklikheidswêreld prys te gee?” haal ek die woorde van die apostel Paulus aan: “Ek beskou alles . . . inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen” (Filippense 3:8). Hoe dankbaar is ek tog dat Jehovah my van ’n ydele en doellose lewe gered het en my toegelaat het om deel van sy wonderlike volk te word! Ek word nooit moeg om hom te bedank vir die tallose seëninge wat hy deur sy Seun, Jesus Christus, voorsien het nie. Ek sing dikwels met vreugde die lied wat ek oor my pa geskryf het. Ek is vol vertroue dat ek hom weer sal sien.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Prent op bladsy 10]

Saam met my ouers en my broer toe ek ’n jaar oud was

[Prent op bladsy 12, 13]

Ek sing saam met Arturo Castro and His Castros 76

[Erkenning]

Angel Otero

[Prent op bladsy 14]

Saam met my gesin vandag

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Activa, 1979