Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dansende perde van die see

Dansende perde van die see

Dansende perde van die see

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

DIE paartjie bloos wanneer hulle mekaar sien. Dit lyk of hy hom opblaas van trots terwyl sy hom met goedkeuring aankyk. Hulle raak liggies aan mekaar en omhels mekaar dan hartlik. Terwyl die gloed van die môrelig op hulle val, begin hulle ritmies met een van die natuur se elegantste danse—die dans van die seeperdjie.

“Seeperdjies is eenvoudig bekoorlik, uniek en charismaties”, sê die mariene deskundige, dr. Keith Martin-Smith. Maar in die verlede was mense nie seker presies wat hulle is nie. Vroeë natuurkenners het die naam Hippocampus gebruik, wat ook gebruik is vir die mitiese perde met vissterte wat die strydwa van Poseidon, die Griekse god van die see, getrek het.

Daar word gesê dat smouse in die Middeleeue dalk voorgegee het dat seeperdjies babadrakies was wat vuur kon spoeg. In werklikheid is seeperdjies net benerige visse—al lyk of swem hulle nie soos die meeste visse nie. Seeperdjies wat in die water dryf of stil daarin hang, is al met fyn kristalperdjies en lewende skaakstukke vergelyk.

Seeperdjies word in die meeste van die wêreld se warm kuswaters gevind. Hulle kom in ’n ongelooflike verskeidenheid vorms en groottes voor. Deskundiges reken dat daar van 33 tot meer as 70 verskillende spesies kan wees. Dit sluit die dwergseeperdjie in, wat maklik op jou vingernael kan pas, en die boepensseeperdjie, wat tot 30 sentimeter lank kan word.

Geen tande, geen maag, geen probleem!

Met hulle vreemde kop wat soos ’n perd s’n lyk, gepantserde benerige lyf en grypstert, is seeperdjies beter aangepas om op een plek te bly as om vinnig rond te beweeg. Hulle is blykbaar tevrede om die grootste deel van die dag hulle stert eenvoudig om ’n geskikte ankerpaal te draai en te eet. As seeperdjies moet beweeg, dryf ’n klein rugvin hulle teen ’n stadige pas voort, terwyl hulle hulle met hulle borsvinne stuur. Deur die hoeveelheid lug in hulle swemblaas te reguleer, kan hulle net soos ’n duikboot op en af beweeg.

Vir honger seeperdjies is kos ’n belangrike saak, en enige klein garnale of skaaldiertjies wat verbyswem, word vinnig in hulle buisvormige bek ingesuig. Aangesien seeperdjies geen tande of maag het om met spysvertering te help nie, moet hulle elke dag tot 50 garnale vang om die nodige voedingstowwe te kry om aan die lewe te bly. Dit is vir hierdie goeie jagters geen probleem nie, aangesien seeperdjies baie goed kan sien. Een oog kan vorentoe kyk om na prooi te soek, terwyl die ander een onafhanklik daarvan agtertoe kan kyk. Hulle oë kan ook meer kleure as mense-oë sien en meer besonderhede as die meeste visse.

Seeperdjies moet natuurlik sorg dat hulle nie self prooi word nie. Om aan roofvyande soos krappe en skilpaaie te ontkom, kan baie spesies hulle amper onsigbaar maak tussen die seegras, koraal en wortelbome in hulle habitat. Hulle gevlekte velpatrone, die uitgroeisels aan hulle liggaam wat soos seegras lyk en hulle vermoë om hulle velkleur heeltemal te verander sodat hulle by hulle omgewing kan pas, maak dit vir hulle moontlik om volmaak met hulle agtergrond saam te smelt. “Hulle kamoefleer hulle liggame so goed dat jy regtig mooi moet kyk om hulle raak te sien”, sê die navorser Rudie Kuiter.

Dans en romanse

In teenstelling met die meeste ander visse, hou mannetjie- en wyfieseeperdjies hulle maats lewenslank en dwaal hulle selde ver van mekaar af weg. Elke dagbreek bevestig hulle hulle verbintenis met ’n unieke dans. “Die seeperdjiedans is so pragtig en grasieus dat dit ’n plesier is om daarna te kyk”, sê die seeperdjieteler Tracy Warland. Aan die einde van die dans keer die seeperdjies na hulle onderskeie ankerpale terug om vir die res van die dag te eet. Die paringsdans is ingewikkelder. Terwyl die wyfie die mannetjie nader, blaas hy sy buidelsak op, word hy helderder van kleur en pronk hy heen en weer voor haar. Hulle swem stadig om mekaar en haak hulle sterte in mekaar. Terwyl hulle saam in die rondte draai, beweeg die paartjie soos pronkende perde oor die seebodem. Hulle speel tot ’n halfuur lank saam terwyl hulle styg en daal, draai en van kleur verander.

Die paringsdans is natuurlik ’n inleiding tot ouerskap. “Namate die tyd om te paar nader kom, word die seeperdjie se dans langer, doen hulle dit meer dikwels en kan dit gedurende die hele dag herhaal word”, sê Kuiter. “Wanneer die dans sy hoogtepunt bereik, gaan die paartjie, met sterte inmekaargehaak en liggame naby mekaar, stadig na die oppervlak. Die wyfie plaas haar eiers dan versigtig in die mannetjie se buidelsak, wat soos ’n kangaroe s’n lyk.” Die toekomstige pa soek dan ’n stil plekkie om die eiers veilig aan die voering van die buidelsak te laat vasheg. Hy bevrug hulle, en dan begin die ongewoonste swangerskap in die diereryk.

“Elke vrou se droom”

“Ek dink dit is wonderlik dat mannetjieseeperdjies swanger raak en die kleintjies kry”, sê een vrou. “Hulle is elke vrou se droom”, het ’n ander gesê. Een mannetjieseeperdjie het in ’n enkele jaar sewe opeenvolgende swangerskappe van 21 dae verduur!

Terwyl die kleintjies diep binne-in die buidelsak lê, verskaf ’n ryk netwerk van bloedvate hulle van suurstof en voedingstowwe. Mettertyd neem die soutgehalte in die buidelsak toe, wat hulle voorberei vir hulle toekomstige seewatertuiste. Wanneer die tyd aanbreek vir hulle om gebore te word, kan die pa ’n paar uur tot twee dae lank kraam. Sy buidelsak gaan uiteindelik oop, en die kleintjies word stelselmatig in die water vrygelaat. Die aantal kleintjies verskil van spesie tot spesie, maar daar kan tot 1 500 op een slag gebore word.

Troeteldiere, kurio’s en geneesmiddels

Druk op seeperdjiebevolkings neem wêreldwyd toe ondanks die vissie se hoë geboortesyfer. Party owerhede skat dat daar elke jaar wêreldwyd 30 miljoen seeperdjies gevang en verkoop word. Baie word uiteindelik in tradisionele Asiatiese geneesmiddels gebruik, wat aangewend word om baie verskillende toestande te behandel, van asma en gebreekte bene tot impotensie.

Elke jaar word ongeveer ’n miljoen seeperdjies deur die kuriobedryf gebruik om sleutelhouers, papiergewiggies en borsspelde te maak. Sleepvissery, dinamietskietery van koraalriwwe en besoedeling bedreig die sensitiewe kusgebiede waar die seeperdjies lewe. Seeperdjies word ook uit die see gevang vir die akwariumbedryf—maar min lewe lank in gevangenskap, aangesien hulle spesiale kos nodig het en vatbaar is vir siektes.

In ’n poging om hierdie probleem op te los, is regstappe voorgestel wat dit vir baie nasies verpligtend sal maak om te bewys dat hulle seeperdjie-uitvoer ekologies volhoubaar is. Beter metodes en tegnologie help ook ’n klein aantal kommersiële telers om die akwariummark te voorsien van seeperdjies wat in gevangenskap geteel is.

Die toekoms van seeperdjies hou verband met die toekoms van die oseaan in sy geheel. “Dit is duidelik dat mensebedrywighede die wêreld se oseane bedreig. Ons neem te veel van alles uit die oseane uit”, sê Kuiter. Sal hierdie delikate dansertjies van die see verlore gaan in die kakofonie van “mensevooruitgang”? “Ons moet optimisties wees”, sê Martin-Smith. “Daar is vandag beslis welwillendheid onder mense. Ons werk is om meer mense te leer om vir die aarde se lewende wesens om te gee. Wanneer dit gebeur, sal veranderinge plaasvind. As ons die seeperdjies kan red, kan ons miskien ook die oseane red.” Miskien kan ons. Maar gelukkig is daar ’n betroubaarder bron van hoop.—Openbaring 14:7.

[Prent op bladsy 15]

Dwergseeperdjie (werklike grootte)

[Erkenning]

© Reinhard Dirscherl/Visuals Unlimited

[Prent op bladsy 16, 17]

Seeperdjies het die vermoë om heeltemal van kleur te verander om by hulle omgewing te pas

Kortkopseeperdjie

Boepensseeperdjies

Gestreepte seeperdjie

[Prent op bladsy 16]

Hoëkroonseeperdjie

[Prent op bladsy 17]

Kortkop- seeperdjies

[Prent op bladsy 17]

Klein kortkopseeperdjies

[Prent op bladsy 17]

Mannetjiekortkop- seeperdjie besig om te kraam

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Gestreepte seeperdjie: © Ken Lucas/Visuals Unlimited; alle ander foto’s: Rudie H Kuiter

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Alle foto’s: Rudie H Kuiter