Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die belangrikste soort skoonheid

Die belangrikste soort skoonheid

Die belangrikste soort skoonheid

MENSE voel aangetrokke tot diegene wat vir hulle aantreklik is. Maar wat maak jou werklik aantreklik? Daar is per slot van rekening perke aan wat jy kan doen om oorgeërfde eienskappe te verander sonder om jou gesondheid in gevaar te stel. Daarbenewens is fisiese skoonheid kortstondig, aangesien niemand vandag die agteruitgang kan vryspring wat met die ouderdom en siekte gepaardgaan nie. Is daar ’n ander soort skoonheid wat belangriker, blywender en meer bereikbaar is?

Die belangrikheid van innerlike skoonheid

Die Bybel verseker ons dat die Skepper, Jehovah God, groot waarde heg aan innerlike skoonheid. Beskou ’n paar voorbeelde.

Toe Jehovah vir die profeet Samuel gesê het om ’n koning vir Israel uit die seuns van Isai te kies, het die profeet die aantreklike Eliab opgemerk. “Waarlik, hy is die een wat die Here gekies het”, het Samuel gesê. Maar Jehovah het vir Samuel gesê: “Moenie dink dat Eliab die een is net omdat hy lank en aantreklik is nie. Hy is nie die een wat ek gekies het nie. Mense oordeel ander volgens hulle voorkoms, maar ek oordeel volgens wat in hulle hart is.”—1 Samuel 16:6, 7, Contemporary English Version.

Die een wat gekies is om koning te wees, was die jongste seun, Dawid. Hoewel Dawid “pragtige oë en ’n aantreklike voorkoms” gehad het, was hy dalk nie so aantreklik soos sy ouer broers nie. Maar “van dié dag af het die gees van Jehovah oor Dawid werksaam geword”. Hoewel hy onvolmaak was en ernstige sondes gepleeg het, het hy bekend geword as iemand met ’n goeie hart wat sy hele lewe lank ’n getroue kneg van God was (1 Samuel 16:12, 13). Hy was beslis aantreklik in God se oë, hoofsaaklik weens sy innerlike skoonheid.

Beskou in teenstelling hiermee die voorbeeld van Absalom, een van Dawid se seuns. Hy het ’n laakbare persoon geword ten spyte van sy benydenswaardige voorkoms. Die Bybel sê van hom: “En in vergelyking met Absalom was daar in die hele Israel geen man so mooi dat hy soveel geprys is nie. Van die sool van sy voet tot die kroon van sy kop was daar geen gebrek aan hom nie” (2 Samuel 14:25). Maar Absalom se ambisie het hom beweeg om teen sy eie vader te rebelleer en die troon wederregtelik in besit te neem. Hy het selfs sy vader se byvroue verkrag. Gevolglik het Absalom hom God se gramskap op die hals gehaal en ’n pynlike dood gesterf.—2 Samuel 15:10-14; 16:13-22; 17:14; 18:9, 15.

Voel jy aangetrokke tot Absalom? Natuurlik nie. Hy was ’n afstootlike persoon. Die feit dat hy besonder aantreklik was, het nie vergoed vir sy verwaandheid en ontrouheid nie, en dit het ook nie sy ondergang gekeer nie. Aan die ander kant bevat die Bybel baie voorbeelde van verstandige, innemende mense, maar dit sê niks omtrent hulle voorkoms nie. Hulle innerlike skoonheid was klaarblyklik die belangrikste.

Innerlike skoonheid is aantreklik

Kan innerlike skoonheid ander aantrek? Georgina, wat al byna tien jaar lank getroud is, sê: “Deur die jare heen het ek nog altyd my man se eerlikheid en opregtheid teenoor my aantreklik gevind. Om God te behaag, is vir hom die belangrikste. Dit het daartoe bygedra dat hy bedagsaam en liefdevol is. Hy neem my in ag wanneer hy besluite neem en hy laat my voel dat ek gewaardeer word. Ek weet dat hy my innig liefhet.”

Daniel, wat in 1987 getrou het, sê: “Ek dink my vrou is pragtig. Ek is fisies aangetrokke tot haar, maar ek is selfs liewer vir haar weens haar persoonlikheid. Sy neem altyd ander mense in ag en probeer om hulle goed te laat voel. Sy het kosbare Christelike eienskappe. Dit maak dit vir my aangenaam om by haar te wees.”

In hierdie oppervlakkige wêreld moet ons dieper as die oppervlak kyk. Ons moet besef dat dit moeilik—selfs onmoontlik—is om die “ideale” voorkoms te hê, en dat dit baie min waarde het. Maar dit is moontlik om aantreklike eienskappe aan te kweek wat tot ware innerlike skoonheid bydra. Die Bybel sê: “Bekoorlikheid kan vals wees, en skoonheid kan nietig wees; maar die vrou wat Jehovah vrees, sy verwerf lof vir haarself.” In teenstelling hiermee waarsku die Skrif: “Soos ’n goue neusring in die snoet van ’n vark, so is ’n vrou wat mooi is maar wat haar van verstandigheid afkeer.”—Spreuke 11:22; 31:30.

God se Woord help ons om waarde te heg aan “die geheime persoon van die hart in die onverderflike versiering van die stille en sagmoedige gees . . . , wat in die oë van God van groot waarde is” (1 Petrus 3:4). Waarlik, sulke innerlike skoonheid is baie belangriker as fisiese skoonheid. En dit is binne almal se bereik.

[Prente op bladsy 8, 9]

Goeie eienskappe kan jou aantrekliker maak as enige fisiese behandeling