Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Fabriek van die dood

Fabriek van die dood

Fabriek van die dood

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

MITTELWERK was na bewering die grootste ondergrondse fabriek ter wêreld. Die fabriekskompleks, wat in die Harzgebergte van Duitsland ongeveer 260 kilometer suidwes van Berlyn geleë was, het uit 20 kilometer van yslike ondergrondse vertrekke bestaan wat aan die voet van ’n heuwel uitgegrawe is. Vanaf 1943 tot 1945 het duisende gevangenes van konsentrasiekampe as slawe in hierdie ondergrondse vertrekke gewerk. Hulle is gedwing om onder haglike omstandighede wapens vir die Nazi-staat te maak.

Die werkers het nie sommer gewone wapens gemaak nie. Die fabriek het V-1- en V-2-vuurpyle vervaardig. Dit is vanaf Mittelwerk na lanseerterreine, hoofsaaklik in Frankryk en Nederland, vervoer. Nadat die missiele gelanseer is, het dit onbeman na teikens in België, Brittanje en Frankryk gevlieg, waar dit uit die lug op hierdie teikens geval en ontplof het. Die Nazi’s het selfs gehoop om ’n vuurpyl te ontwikkel wat so kragtig sou wees dat dit ’n bom oor die Atlantiese Oseaan na New York sou kon vervoer. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het etlike honderde V-1- en V-2-missiele Europese stede getref. Maar dit was net ’n klein aantal van die missiele wat deur die Nazi’s vervaardig is en wat hulle teen hulle vyande wou gebruik. Nie een van die missiele het New York ooit bereik nie.

’n Tragiese onderskeiding

Ná die oorlog het tientalle Duitse wetenskaplikes en tegnici wat die V-1- en V-2-missiele ontwerp het, Duitsland verlaat. Hulle het hulle kundigheid in vuurpyltegnologie saam met hulle geneem en dit gebruik in die lande waar hulle hulle gevestig het. Een van hierdie vuurpylwetenskaplikes was Wernher von Braun. Hy het na die Verenigde State verhuis waar hy gehelp het om die Saturn-vuurpyl te ontwikkel, wat die mens maan toe geneem het.

Vandag, reg langs die plek waar die Mittelwerk-fabriek eens was, staan ’n konsentrasiekamp-monument ter nagedagtenis aan die 60 000 mense wat daar opgesluit was. Baie van die gevangenes het nie net in die koue, nat ondergrondse vertrekke gewerk nie, maar het ook daar gewoon. Dit is geen wonder nie dat daar volgens sommige skattings byna 20 000 gevangenes gesterf het. Besoekers aan die gedenkmuseum kan ’n begeleide toer van die ondergrondse vertrekke doen, waarvan die vloer nog steeds met vuurpylonderdele besaai is wat ongeveer 60 jaar gelede daar agtergelaat is. Volgens die tydskrif After the Battle het die Mittelwerk-missiele hierdie tragiese onderskeiding: “Die V1 en V2 is die enigste wapens wat meer lewens geëis het tydens die vervaardiging as tydens die ontplooiing daarvan.”

[Prent op bladsy 21]

Foto van V-1-vuurpyle op trollies in 1945

[Erkenning]

Quelle: Dokumentationsstelle Mittelbau-Dora

[Prent op bladsy 21]

Besoekers doen ’n toer van die ondergrondse vertrekke, waarvan die vloer nog steeds met vuurpylonderdele besaai is