Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gevare in die strewe na skoonheid

Gevare in die strewe na skoonheid

Gevare in die strewe na skoonheid

WAT is die maatstawwe waarvolgens ’n mens ware skoonheid meet? “Elkeen weet wat vir hom of haar mooi is”, lui ’n spreuk. Ja, die beskouing van wat mooi is, word oor die algemeen as iets subjektiefs gesien. Verder verskil die algemene opvatting van presies wat skoonheid is grootliks van kultuur tot kultuur en van tydperk tot tydperk.

Jeffery Sobal, adjunk-professor van voedingswetenskap aan die Cornell-universiteit, VSA, sê: “Deur die negentiende eeu heen het byna alle gemeenskappe swaarlywigheid met ’n hoë sosiale status gelykgestel. ’n Gesette figuur is as ’n teken van welvaart en gesondheid beskou, terwyl maerheid beteken het dat iemand te arm was om genoeg voedsel te bekostig.” Die werke van baie kunstenaars van dié tyd weerspieël daardie idee, want hulle modelle—meestal vroue—het vet arms, bene, rûe en heupe gehad. En baie van hierdie werke was portrette van werklike mense wat as toonbeelde van skoonheid beskou is.

Daardie konsep bestaan vandag nog, hoewel skoonheid meer behels as om vet of maer te wees. Tog word swaarlywigheid in sommige kulture van die Stille Suidsee as aantreklik beskou. In sekere plekke in Afrika word voornemende bruide op “vetmaakplase” gehou, waar hulle groot hoeveelhede ryk kos gegee word met die doel om hulle aantrekliker te maak. Die eienaar van ’n nagklub in Nigerië sê: “Die gemiddelde Afrikavrou is stewig gebou . . . Dit is die soort skoonheid wat sy bied. Dit is deel van ons kultuur.” Om stewig gebou te wees, is ook in talle tradisionele Spaanse kulture ’n teken van welvaart en sukses.

Maar in baie ander plekke is die teenoorgestelde waar. Waarom? Sommige sê dat, namate die handel en industrialisasie uitgebrei het, daar ’n groter beskikbaarheid en ’n wyer verspreiding van voedsel was, sodat die “laer” klasse die soort voedsel begin eet het wat slegs die rykes voorheen kon bekostig. Swaarlywigheid het dus geleidelik uit die mode geraak. Aan die ander kant verbind sommige godsdiensopvattings swaarlywigheid met vraatsug, en dit het ’n negatiewe beeld van gesetheid geskep. Verder het wetenskaplike ontdekkings in verband met vetsugverwante gesondheidsgevare ook ’n rol gespeel. Hierdie en ander faktore het bygedra tot die veranderende menings oor wat skoonheid is, en ’n groot deel van die wêreld bevorder nou al dekades lank die skraal figuur as die ideaal.

Die media het baie tot hierdie beskouing bygedra. Mense wat op reklameborde en televisie verskyn, is gewoonlik skraal en atleties gebou. Hulle voorkoms is bedoel om ’n beeld van voorspoed en sukses te skep. Dit geld ook vir TV- en rolprentsterre.

Watter uitwerking het dit op gewone mense, onder andere jongmense? ’n Onlangse artikel oor liggaamsbeeld sê: “Teen die tyd dat die gemiddelde Amerikaanse meisie haar hoërskoolloopbaan voltooi, het sy meer as 22 000 uur voor die televisie deurgebring.” Gedurende ’n groot deel van daardie tyd word sy met beelde van pragtige vroue met “volmaakte” liggame gebombardeer. Die artikel voeg by: “Weens herhaalde blootstelling aan hierdie beelde, begin vroue ’n verband sien tussen hierdie ideale liggaam en prestige, geluk, liefde en sukses.” Dit is dus glad nie verbasend nie dat 47 persent van die meisies met wie ’n onderhoud gevoer is, gevoel het dat hulle eenvoudig gewig moes verloor nadat hulle foto’s van modelle in ’n tydskrif gesien het, terwyl slegs 29 persent van hulle in werklikheid oorgewig was.

Die modebedryf het ook ’n sterk invloed op mense se beskouing van skoonheid. Jennifer, ’n model van Venezuela wat in Mexiko-stad werk, sê: “Jou werk is om goed te lyk, en vandag beteken dit dat ’n mens maer moet wees.” ’n Franse model, Vanessa, sê: “Dit is nie soseer ander wat vereis dat jy maer moet wees nie, maar dat jy dit van jouself vereis. Dit is ’n wêreldwye neiging.” In ’n opname onder jong meisies het 69 persent van hulle erken dat foto’s van modelle in tydskrifte hulle beskouing beïnvloed het van wat ’n mooi liggaam is.

Maar dit is nie net vroue wat deur hierdie konsep van die “ideale liggaamsbou” beïnvloed word nie. Die Mexikaanse koerant El Universal sê: “Daar was nog nooit soveel skoonheidsmiddels vir mans op die mark nie.”

Die “ideale voorkoms”—Ideale resultate?

In ’n poging om die “ideale voorkoms” te verkry of om bloot hulle beste te lyk, wend baie mense hulle tot kosmetiese chirurgie. Die toepassings van hierdie tak van die geneeskunde raak al hoe goedkoper en neem voortdurend toe. Hoe het kosmetiese chirurgie ontstaan?

Volgens die Encyclopædia Britannica het moderne tegnieke van plastiese chirurgie gedurende die jare ná die Eerste Wêreldoorlog ontstaan, toe pogings aangewend is om letsels weens oorlogswonde te verwyder. Sedertdien het hierdie tegnieke waardevolle hulpmiddele geword om ernstige fisiese skade te herstel wat deur brandwonde, traumatiese beserings en aangebore gebreke veroorsaak is. Maar soos die Britannica erken, word plastiese chirurgie dikwels “uitgevoer met die uitsluitlike doel om andersins gesonde persone se voorkoms te verbeter”. Byvoorbeeld, die neus kan verander word, oortollige vel kan van die gesig en nek verwyder word, die ore kan kleiner gemaak word, vet kan van die buik en heupe verwyder word, sekere liggaamsdele kan vergroot word en selfs die naeltjie kan “mooier” gemaak word.

Maar wat van gesonde mense wat hulle gesondheid in gevaar stel sodat hulle hulle aantrekliker kan maak? Watter risiko’s loop hulle? Angel Papadopulos, sekretaris van die Mexikaanse Vereniging vir Plastiese, Estetiese en Rekonstruktiewe Chirurgie, verduidelik dat hierdie soort chirurgie soms deur swak opgeleide mense uitgevoer word, wat tot groot skade lei. Daar is klinieke wat gevaarlike middels gebruik om pasiënte ’n slanker figuur te gee. Vroeg in 2003 het ’n koerant berig dat ongesonde toestande in skoonheidsalonne ’n skandaal veroorsaak het op die Kanariese Eilande, waar honderde vroue slagoffers van onveilige operasies was. a

Mans kan ook daarmee behep raak om die “ideale voorkoms” te verkry. Party bring baie ure in die gimnasium deur en gebruik feitlik al hulle vrye tyd om hulle spiertonus en liggaamsvorm te verbeter. “Op die lange duur”, sê die tydskrif Milenio, “skeep hulle hulle sosiale aktiwiteite en verhoudings met ander af weens die drang om te oefen.” Omdat baie daarmee behep is om gespierd te lyk, neem hulle selfs middels, waaronder steroïede, wat hulle liggaam kan beskadig.

Weens ’n beheptheid met hulle voorkoms het sommige jong vroue slagoffers geword van eetversteurings, soos bulimie en anorexia nervosa. Sommige gebruik verslankingsmiddels wat ongelooflike resultate in ’n kort tydjie belowe, maar nie deur gerespekteerde gesondheidsinstitute onderskryf word nie. Sulke produkte kan ernstige skade veroorsaak.

’n Beheptheid met ’n mens se voorkoms hou nie net fisiese gevare in nie. Dr. Katherine Phillips van die Brown-universiteit, VSA, sê dat mense wat te besorg is oor hulle voorkoms, ’n sielkundige toestand kan ontwikkel wat liggaamsdismorfiese steurnis genoem word en ’n beheptheid is met denkbeeldige gebreke in hulle voorkoms. Tot 1 uit 50 mense ly moontlik aan hierdie toestand. Mense wat aan hierdie toestand ly, “kan so oortuig daarvan wees dat hulle lelik is, dat hulle hulle van hulle vriende en geliefdes afsonder”, sê sy. “Hulle kan terneergedruk raak en selfmoordneigings ontwikkel.” Phillips noem die voorbeeld van ’n mooi meisie wat ’n bietjie aknee gehad het, maar oortuig was dat haar gesig vol letsels is. Die meisie het geweier om in die openbaar gesien te word en het dus in graad agt skool verlaat.

Is ’n mens se voorkoms werklik so belangrik dat hy sy verstandelike en fisiese welstand ter wille van die “ideale voorkoms” moet opoffer? Is daar ’n belangriker soort skoonheid waarna ’n mens moet streef?

[Voetnoot]

a Kosmetiese chirurgie is ’n persoonlike saak waaroor Christene self moet besluit. Daar is nietemin belangrike faktore wat in ag geneem moet word. Vir ’n breedvoeriger bespreking, sien die Ontwaak! van 22 Augustus 2002, bladsye 18-20.

[Lokteks op bladsy 5]

Nege-en-sestig persent van meisies se beskouing van wat ’n mooi liggaam is, word beïnvloed deur foto’s van modelle in tydskrifte

[Prent op bladsy 4]

Advertensies het ’n sterk invloed op mense se beskouing van wat fisies mooi is

[Prent op bladsy 6]

Sommige het hulleself skade aangedoen deur oormatige plastiese chirurgie

[Prente op bladsy 7]

Sommige doen alles in hulle vermoë om goed te lyk