Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Haaiafskrikker

Baie mense bly uit die see uit omdat hulle bang is dat hulle ’n haai sal teëkom. Maar die Natalse Haairaad het met ’n toestel teen haaie vorendag gekom. Die raad “het gevind dat ’n spesifieke elektriese golf ’n uitwerking het op sensitiewe reseptors in die haai se snoet”, berig die Weekend Witness van KwaZulu-Natal. Die raad het ’n sender ontwerp wat ’n Beskermende Seetoestel genoem word en die haai al hoe ongemakliker laat voel hoe nader hy aan die toestel kom. Wanneer dit ondraaglik word, “swenk die haai weg en verlaat hy die onmiddellike gebied”. ’n Australiese maatskappy maak so ’n sender vir swemmers en branderplankryers. Dit word aan ’n mens se onderbeen vasgemaak en skep ’n “persoonlike haaivrye sone” om die swemmer. Nogtans waarsku die vervaardiger: “Dit is eenvoudig onmoontlik om te waarborg dat alle haaie onder alle omstandighede afgeskrik sal word.”

Groter gevaar van vergiftiging onder volwassenes

“Wanneer mense aan die voorkoming van vergiftiging dink, is hulle geneig om aan klein kindertjies te dink”, sê Debra Kent van Brits-Columbië se Dwelm- en Vergiftigingsinligtingsentrum. Tog, sê Kent verder, “kom die meeste sterfgevalle weens vergiftiging onder adolessente en volwassenes voor”. Volgens The Vancouver Sun het die meeste volwassenes wat per ongeluk vergiftig is, gif ingekry “omdat iemand ’n gifstof in ’n ongemerkte houer gesit het—byvoorbeeld ’n plastiese waterbottel”. Ander gevalle kon vermy geword het as mense net die lig aangesit en die etiket gelees het voordat hulle die produk gebruik het. Volgens die Sun is “vergiftiging vierde op die lys van die 10 vernaamste doodsoorsake weens besering onder volwassenes”.

Televisie skadelik vir kleuters?

“Kinders wat televisie kyk terwyl hulle nog baie jonk is, loop ’n groter gevaar om aandagtekortprobleme te hê wanneer hulle oud genoeg is om skool toe te gaan”, berig The Herald van Mexiko-stad. Die berig meld ’n studie wat in die mediese tydskrif Pediatrics gepubliseer is, waarby twee groepe van altesaam 1 345 kinders betrokke was—een groep het uit eenjariges bestaan en die ander uit driejariges. Volgens die studie het die gevaar dat die kinders teen die ouderdom van sewe aandagtekortprobleme sou hê, met 10 persent toegeneem vir elke uur wat hulle televisie gekyk het. Die navorsers meen dat “beelde wat onrealisties vinnig opmekaar volg en kenmerkend is van die meeste TV-programme, [kleuters se] normale breinontwikkeling kan aantas”. “Om die waarheid te sê, daar is baie redes waarom kinders nie televisie moet kyk nie”, het die samesteller van die studie, dr. Dimitri Christakis, gesê. “Ander studies het getoon dat [TV-kykery] verband hou met vetsug en aggressiwiteit.”

Lag is goed vir jou

“Neuroloë by die Universiteit van Stanford het nog ’n rede ontdek waarom ons goed voel wanneer ons lag”, berig die UC Berkeley Wellness Letter. “Hulle het die breinaktiwiteit gemeet van mense wat humoristiese strokiesprente gelees het en gevind dat humor en lag die brein se ‘beloningsentrums’ geaktiveer het”, dieselfde gebiede waarop opkikkers ’n uitwerking het. “Lag verminder spanning, help jou om helder te dink en beur jou op”, sê die Wellness Letter. En wanneer jy lag, stel jou liggaam meer hormone vry, en jou hartklop neem toe wat bydra tot beter bloedsomloop en spiertonus. “Om lekker te lag, is in werklikheid soos om te oefen”, sê die Wellness Letter. “Dit verbrand egter nie baie kalorieë nie—jy kan jou slap lag, maar jy kan jou nie maer lag nie.”

Plant wat landmyne opspoor

“’n Deense bio-ingenieursmaatskappy het ’n plant gekweek waarvan die blare rooi word wanneer dit oor plofstowwe groei wat in die grond begrawe is”, berig die Spaanse koerant El País. Die mynklikkerplant, Arabidopsis thaliana, verander van kleur wanneer dit blootgestel word aan stikstofdioksied wat uit die landmyne lek. “Wanneer die wortels hierdie stof opneem,” verduidelik die koerant, “begin ’n biochemiese kettingreaksie wat tot die vervaardiging van ’n natuurlike pigment—antosianien—lei.” Simon Oostergaard, die president van ’n biotegnologiese maatskappy, sê dat hulle van plan is om “die sade na landmyngeteisterde gebiede te neem, dit daaroor te strooi, vyf weke te wag en dan die myne onskadelik te stel”. Die wydverspreide gebruik van die mynklikkerplant kan elke jaar duisende lewens red, sê Oostergaard. Oorloë wat in die 20ste eeu geveg is, het sowat 100 miljoen landmyne in 75 lande agtergelaat.

Windswaels se navigasievermoë

Windswaels “migreer aan die einde van April meer as 4 000 myl [6 000 kilometer] van Afrika na Engeland”, sê The Sunday Telegraph van Londen. Hoewel hulle “geen globale posisiebepalingsatelliet, geen lugverkeerbeheer en geen vlieëniers” het nie, is dit iets algemeens dat hulle snags op ’n hoogte van 3 000 meter vlieg, met behulp van hulle navigasievermoë wat meer gesofistikeerd is as dié van moderne vliegtuie. Die voëls maak die nodige aanpassings sodat hulle nie van koers af gewaai word nie en bepaal hulle posisie met betrekking tot die wind eerder as met betrekking tot landmerke op die grond, soos voorheen gedink is. Dr. Johan Bäckman van die Universiteit van Lund in Swede, wat radar gebruik het om 225 voëls te monitor, sê dat “selfs die modernste vliegtuie wat met uitstekende navigasie-instrumente toegerus is, waarskynlik nie so vir die winddryfstroom sal kan kompenseer nie”. Sommige studies het getoon dat die voëls merkwaardig genoeg die een helfte van hulle brein tydens hulle nagvlug afskakel. Maar daar is nog vrae, sê Graham Madge van die Koninklike Genootskap vir die Beskerming van Voëls. Byvoorbeeld: “Wat op aarde eet hulle as hulle daar bo is?”

Onaangename toiletfasiliteite

“Nat vloere, yskoue kraanwater, geen seep” en ’n gebrek aan privaatheid as gevolg van “stukkende slotte” en “klein afskortings” veroorsaak dat baie Franse skoolkinders toilette by die skool vermy, sê die Franse weekblad L’Express. ’n Studie onder leiding van die Fédération des conseils de parents d’élèves (Federasie van Ouerrade) het aan die lig gebring dat “meer as 48 persent van skoolkinders nie hulle skool se toilette gereeld gebruik nie”. Dit het ’n nadelige uitwerking op die kinders se gesondheid. Volgens die studie “het ’n kwart van hulle ingewands- en urinêre probleme”. Die kinderuroloog Michel Avérous sê: “Kinders behoort vyf of ses keer per dag toilet toe te gaan. As ’n mens nie gereeld genoeg urineer nie, kan dit tot ernstige blaasinfeksies lei.”