Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sê nou hy sê nee?

Sê nou hy sê nee?

Jongmense vra . . .

Sê nou hy sê nee?

JY HET hom as ’n vriend beskou. Maar toe het hy jou belangstelling op ’n ander manier gewek. Dalk was dit sy goeie maniere of die manier waarop hy vir jou geglimlag het toe julle gesels het wat jou aangetrokke tot hom laat voel het. In elk geval, dit is nou al ’n ruk en hy het nog geen romantiese belangstelling getoon nie. Daarom het jy besluit om hom te vra of hy meer as net vriende wil wees. Tot jou diepe teleurstelling het hy vriendelik maar ferm nee gesê. a

Dit is natuurlik dat jy seergemaak voel. Maar moenie oorreageer nie; probeer om dinge in die regte perspektief te sien. Ja, ’n jong man het gesê dat hy nie daarin belangstel om ’n romantiese verhouding met jou te hê nie. Onthou, sy besluit verander nie jou menswaardigheid nie, dit verander ook nie die feit dat ander jou nog steeds liefhet en respekteer nie. Trouens, die jong man se besluit het dalk nie soveel met jou te doen as met sy eie doelwitte en prioriteite nie.

As jy ’n Christen is, moet jy ook onthou dat ‘God nie onregverdig is sodat hy jou werk sal vergeet en die liefde wat jy vir sy naam getoon het nie’ (Hebreërs 6:10). Sonja b stel dit so: “Jy is nog steeds waardevol. As ’n ongetroude persoon is jy vir Jehovah nuttig.” Waarom moet jy jou selfrespek verloor as die Allerhoogste en ander groot waarde aan jou heg?

Dalk voel jy nog steeds soos ’n mislukking of is jy bang dat niemand ooit met jou sal wil trou nie. Maar net omdat jy op hierdie stadium blykbaar nie “reg” is vir hierdie jong man nie, beteken nie dat jy “net reg” vir iemand anders sal wees nie (Rigters 14:3). Moet dus nie jou soeke na ’n geskikte huweliksmaat as ’n mislukking beskou nie, want jou pogings het iets goeds opgelewer: Jy het uitgevind dat hierdie jong man nie die regte een vir jou is nie. Waarom sê ons so?

Was hy reg vir jou?

Die Bybel beveel mans om “hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam” (Efesiërs 5:28). Dit beveel mans ook om aan hulle vrouens “eer toe te ken” (1 Petrus 3:7). In hierdie geval stel die jong man heel waarskynlik jou vriendskap op prys. Maar deur nee te sê, het hy in werklikheid getoon dat hy nie op hierdie stadium bereid is om jou as sy vrou lief te hê en te eer nie. Hy het die reg gehad om daardie besluit te neem. Dink hieroor na: Sal hy, as hy so voel, werklik ’n geskikte man vir jou wees? Hoe ongelukkig sal jy tog wees as jy met iemand getroud is wat jou nie liefhet en koester soos die Skrif beveel nie!

Dit kan ook help om weer na hierdie jong man te kyk, noudat jou hoop op ’n romantiese verhouding nie verwesenlik sal word nie. Soms maak verliefdheid ’n mens blind vir persoonlikheidsgebreke of geestelike tekortkominge wat vir ander mense dalk duidelik is. Was hy byvoorbeeld onbewus van die feit dat jou gevoelens vir hom sterker geword het, of het hy jou gevoelens doelbewus aangemoedig deur nog gereeld met jou om te gaan? As laasgenoemde die geval is, is dit nie miskien ’n aanduiding dat hy nie gereed is om ’n bedagsame Christenhuweliksmaat te wees wat empatie het nie? In daardie geval is dit goed dat jy dit uitgevind het, al maak dit seer.

’n Jong man het spesiale aandag aan Marcia begin skenk, en dit het sekere emosies by haar gewek. Toe sy hom oor sy bedoelings uitvra, het hy vir haar gesê dat hy nie in ’n verhouding met haar belangstel nie. Wat het haar gehelp om oor die teleurstelling te kom? Sy sê: “Dit het my gehelp om my gevoelens te verwerk deur met my verstand te dink en nie my hart nie.” Sy het nagedink oor die Bybel se vereistes vir mans en besef dat hy eenvoudig nie daaraan voldoen nie. Dit het haar gehelp om haar hartseer te verwerk.

Andrea het ’n soortgelyke ondervinding met ’n jong man gehad. Sy het later besef dat sy optrede teenoor haar ’n gebrek aan volwassenheid geopenbaar het. Dit het vir haar duidelik geword dat hy nie gereed was om te trou nie, en sy is dankbaar dat Jehovah haar oë oopgemaak het vir daardie feit. Sy sê: “Ek glo dat Jehovah jou teen omstandighede kan beskerm wat vir jou nadelig kan wees, maar jy moet Hom vertrou.” In baie gevalle gedra ’n jong man hom natuurlik goed en sê hy om eerbare redes nee. Maar hoe kan jy die gevoelens wat dit tot gevolg het, verwerk?

Wat jy omtrent jou gevoelens kan doen

Jy het dalk tyd nodig om gewoond te raak aan die feit dat hy nee gesê het. Jou gevoelens vir hom het oor ’n tydperk ontwikkel, en om daardie proses om te keer, gaan ook tyd neem. Romantiese gevoelens kan selde soos ’n elektriese lig afgeskakel word. Soms sal dit dalk voel of dit jou oorweldig! Wees geduldig met jouself. Mettertyd sal daardie gevoelens verbygaan. As jy egter wil hê dat dit vinniger moet verdwyn, moet jy dit nie voed nie.

Moet byvoorbeeld nie tob oor elke woord en gebaar wat jy gebruik het toe jy die jong man van jou gevoelens vertel het nie. As jy nie sulke gedagtes bedwing nie, kan jy op die ou end glo dat hy nie werklik nee bedoel het nie of dat ’n ander benadering dalk sal werk. Aanvaar die feit dat jy nie kan verander hoe hy voel nie. Sy antwoord sou heel waarskynlik dieselfde gewees het, ongeag jou benadering.

Dagdrome kan nog ’n strik wees. Jy vorm ’n denkbeeld waarin die twee van julle lank en gelukkig saamlewe. Sulke dagdrome is dalk aangenaam, maar dit is nie werklik nie. Wanneer jy ophou dagdroom, keer jou gevoel van verlies en so ook jou pyn terug. Hierdie kringloop van aangename dagdromery gevolg deur ondraaglike pyn kan lank aanhou as jy nie hard probeer om ’n einde daaraan te maak nie.

Span jou in om dagdrome uit jou gedagtes te verdryf. Wanneer hierdie gedagtes by jou opkom, moet jy opstaan en ’n ent gaan stap. Doen iets fisies—iets wat jou gedagtes in ’n ander rigting sal stuur. Dink aan dinge wat jou opbou, nie aan dinge wat jou neerslagtig maak nie (Filippense 4:8). Dit kan aanvanklik moeilik wees, maar mettertyd sal jy die stryd wen en vrede vind.

Die ondersteuning van hegte vriende kan help (Spreuke 17:17). Sonja maan egter: “Dis nie goed as al jou vriende ongetroud en ewe oud is en graag wil trou nie. Jy het ook ouer vriende nodig wat jou kan help om jou perspektief te behou.” En onthou, daar is iemand wat jou selfs meer kan help om jou pyn te oorkom.

Jehovah—’n vriend en ’n steunpilaar

Toe ’n getroue man in die ou tyd teleurstelling die hoof moes bied, het hy tot Jehovah gebid vir hulp. Wat was die gevolg? Hy het geskryf: “Wanneer ek ook al angstig en bekommerd is, vertroos u my en maak u my gelukkig” (Psalm 94:19, Today’s English Version). Jehovah sal jou ook vertroos en onderskraag as jy in geloof tot hom bid. Andrea het dit gedoen. Sy sê: “Gebed is baie belangrik en help jou om oor die pyn te kom en voort te gaan.” Sonja sê ook van gebed: “Dit help jou om eiewaarde te hê wat nie daarvan afhang of ander van jou hou of jou verwerp nie.”

Geen mens kan jou gevoelens ten volle verstaan nie, maar Jehovah kan. Hy het mense geskep met die begeerte om wedersydse liefde in die huwelik te geniet. Hy weet hoe kragtig romantiese aangetrokkenheid is, en hy weet hoe om dit te beheer. Hy kan jou help om groot hartseer te oorkom, want 1 Johannes 3:20 sê: “God is groter as ons hart en weet alles.”

Behou jou ewewig

Die huwelik kan ’n bron van groot geluk wees, maar dit is nie die enigste bron nie. Almal wat Jehovah dien, vind vreugde, nie net getroudes nie. Ongetroudes het sekere dinge wat tot hulle voordeel strek wat getroudes nie het nie. Hulle ly nie “verdrukking in hulle vlees” nie, soos 1 Korintiërs 7:28 dit stel. Hierdie verdrukking verwys na die druk waarmee alle egpare te kampe het. Ongetroudes het ook meer persoonlike vryheid en dit is makliker vir hulle om hulle lewe in Jehovah se diens te gebruik. Daarom leer die Bybel ons: ‘Hy wat sy maagdelikheid in die huwelik gee, doen goed, maar hy wat dit nie in die huwelik gee nie, sal beter doen’ (1 Korintiërs 7:38). As jy oor hierdie Bybelleringe peins, kan dit jou help om jou ewewig te behou en jou huidige omstandighede ten beste te benut, al wil jy baie graag trou.

Sommige welmenende vriende sê dalk vir jou: “Moenie bekommerd wees nie, jy sal eendag ’n wonderlike man kry.” En die feit dat jy een keer verwerp is, beteken beslis nie dat jy altyd alleen gaan wees nie. Candace, ’n jong Christenvrou, redeneer nietemin soos volg: “Ek vertrou op Jehovah. Ek verwag nie noodwendig dat hy vir my ’n man sal gee om my gelukkig te maak nie. Maar ek weet dat hy vir my sal gee wat ek nodig het om daardie leemte te vul.” Sulke positiewe denke het haar gehelp om romantiese teleurstelling te bowe te kom.

In hierdie wêreld misluk pogings om ’n romantiese verhouding te begin dikwels, maar dieselfde geld vir baie huwelike. As jy op Jehovah vertrou en op sy raad ag slaan, kan hy jou help om teleurstelling met vreugde te vervang. Jy kan dieselfde ervaring hê as koning Dawid, wat geskryf het: “O Jehovah, voor u is al my begeertes, en my gesug is vir u nie verborge nie. Want op u, o Jehovah, het ek gewag; u het geantwoord, o Jehovah my God.”—Psalm 38:9, 15.

[Voetnote]

a Die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek vir hom sê hoe ek voel?” (22 Oktober 2004) het verduidelik dat daar in sommige lande dalk kulturele besware kan wees as ’n vrou ’n man oor ’n romantiese verhouding nader. Hoewel die Bybel nie hierdie gebruik veroordeel nie, moedig dit Christene wel aan om ander nie te laat struikel nie. Diegene wat graag God se seën wil hê, kan dus gerus die Bybel se raad in ag neem wanneer hulle hieroor besluit.—Matteus 18:6; Romeine 14:13; 1 Korintiërs 8:13.

b Van die name is verander.

[Prente op bladsy 20]

Benut die hulp wat God voorsien