Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Ballonne Ek het die artikel “Die grootste ballonvaartgeleentheid ter wêreld!” (8 Maart 2004) baie geniet. My ma sê dat sy daarvan sal hou om eendag in ’n ballon te vlieg, en ek sal ook graag in een wil vlieg. Toe ek die artikel gelees het, kon ek nie glo hoeveel ballonne daar is nie! Ek het baie van die prente gehou. Ek is agt jaar oud.

J. L., Verenigde State

Verbasende plant “’n Regte kanniedood” (8 Maart 2004) is die interessantste en merkwaardigste artikel wat ek nog gelees het. Die welwitschia is waarlik ’n verbasende plant. Hoe kry die plant dit reg om so lank onder moeilike toestande te lewe? Sulke artikels openbaar in ’n groter mate aan ons die wysheid van ons vindingryke Skepper, Jehovah.

A. C., Rusland

Ek het in Angola grootgeword en het die voorreg gehad om die welwitschia by ’n paar geleenthede te sien. Hierdie vreemde plant het my elke keer gefassineer. Maar ek het oor talle algemene opvattings daaroor gewonder. Nou, 27 jaar later, het ek die inligting gevind wat ek gesoek het.

A. O., Switserland

Ek lees die Ontwaak! al meer as 15 jaar. Aangesien ek nie in staat is om te reis nie, help sulke artikels my om meer oor Jehovah se skepping te leer. As dit nie vir die Ontwaak! was nie, sou ek nooit geweet het dat die welwitschia so lank kan lewe nie.

L. Z., Frankryk

Ierland se Burren-streek Ek en my man het verlede jaar die geleentheid gehad om Ierland te besoek. Ons het dus veral belanggestel in die artikel “Ierland se fassinerende Burren-streek” (8 Maart 2004). Die meeste reisgidse gee nie veel inligting oor die Burren-streek nie. Die landmeter Ludlow het die Burren-streek eenkeer “’n woeste landstreek” genoem, maar dit het ’n ruwe skoonheid. Wat vir ons egter die heel mooiste was, was ’n groep Getuies van Jehovah wat aan die huis-tot-huis-bediening deelneem. Hulle was verheug toe ons hulle vertel dat ons ook Getuies is. Ons het Ierland met ’n paar nuwe vriende sowel as herinneringe aan die Burren-streek verlaat.

B. E., Verenigde State

Bloedgroep Dankie vir die artikel “Die Bybelse beskouing: Word jou persoonlikheid deur jou bloedgroep bepaal?” (8 Februarie 2004). Hierdie vraag het my nogal gepla. Op skool het ek gehoor dat persoonlikheid nie deur jou bloedgroep bepaal kan word nie. In party boeke het ek ook opgemerk dat dit met spiritisme verband hou as jy jou persoonlikheid deur jou bloedgroep probeer bepaal. Maar ek ken mense wat bloedgroepe dikwels bespreek het en ander op grond daarvan geoordeel het. Net toe ek begin wonder het oor wat reg of verkeerd is, het hierdie artikel verskyn en kon ek die Bybel se beskouing duidelik verstaan.

R. K., Japan

Ek het die artikel interessant gevind. Mense by ons skool sê dat iemand met groep A-bloed deeglik en sensitief is en dat iemand met groep B-bloed saggeaard is. Ek het al dikwels gewonder: ‘Is dit hoe ek is?’ Ek was egter verlig om te hoor dat elkeen sy eie persoonlikheid het. Ek kon ook insien dat ons ons persoonlikheid kan verander deur ons aan die werking van God se heilige gees te onderwerp.

N. I., Japan

Watervalle Ek wil graag my waardering uitspreek vir die wonderlike artikel “Asemrowende watervalle” (22 Februarie 2004). Zambië is geseën met mere, riviere, woude en berge. En die watervalle is ’n ware genot. Die artikel het my beweeg om Jehovah, ons hemelse Vader, te dank vir die dinge wat hy geskep het.

G. M., Zambië