Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Dié wat ‘gode’ genoem word”

“Dié wat ‘gode’ genoem word”

“Dié wat ‘gode’ genoem word”

TOE die apostel Paulus ’n kreupel man in Listra genees het, het die mense uitgeroep: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe neergedaal!” Hulle het Paulus Hermes en sy metgesel Barnabas Zeus genoem (Handelinge 14:8-14). In Efese het Demetrius, ’n silwersmid, gewaarsku dat “die tempel van die groot godin Artemis as niks geag sal word nie” as Paulus toegelaat word om met sy predikingswerk voort te gaan.—Handelinge 19:24-28.

Mense in die eerste eeu—soos baie vandag—het dié aanbid “wat ‘gode’ genoem word, hetsy in die hemel of op die aarde”. Trouens, Paulus het gesê: “Daar [is] baie ‘gode’ en baie ‘here’.” Maar hy het ook verduidelik: “Daar [is] in werklikheid vir ons een God, die Vader”, en “daar is een Here, Jesus Christus”.—1 Korintiërs 8:5, 6.

Is Jesus ook God genoem?

Hoewel Jesus nooit gesê het dat hy God is nie, word hy, as Jehovah se aangestelde heerser, “Magtige God” en “Vredevors” in Jesaja se profesie genoem. Jesaja se profesie voeg by: “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie” (Jesaja 9:6, 7). As die ‘Vors’—die seun van die Groot Koning, Jehovah—sal Jesus dus as Heerser van die hemelse regering van “God die Almagtige” optree.—Eksodus 6:3.

Maar iemand vra dalk: ‘In watter sin is Jesus ’n “Magtige God”, en het die apostel Johannes nie gesê dat Jesus self God is nie?’ In Die Bybel, 1953, sê Johannes 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Sommige voer aan dat dit beteken dat “die Woord”, wat as die baba Jesus op aarde gebore is, God die Almagtige is. Is dit waar?

As hierdie vers vertolk word as ’n aanduiding dat Jesus self God die Almagtige is, weerspreek dit die voorafgaande stelling, “die Woord was by God”. Iemand wat “by” iemand anders is, kan nie ook terselfdertyd daardie persoon wees nie. Baie Bybelvertalings tref dus ’n onderskeid sodat dit duidelik is dat die Woord nie God die Almagtige is nie. ’n Aantal Bybelvertalings sê byvoorbeeld die volgende: “Die Woord was ’n God”, “’n god was die Woord” en “die Woord was goddelik”. *

Bybelverse wat in Grieks ’n soortgelyke konstruksie het as Johannes 1:1, gebruik die uitdrukking “’n god”. Byvoorbeeld, met verwysing na Herodes Agrippa I het die skare geskreeu: ‘Dit is ’n god se stem.’ En toe Paulus deur ’n giftige slang gebyt is en nie gesterf het nie, het die mense gesê: ‘Hy is ’n god’ (Handelinge 12:22; 28:3-6). Dit is in harmonie met die Griekse grammatika sowel as met wat die Bybel leer, om van die Woord te praat as “’n god” en nie as God nie.—Johannes 1:1.

Kyk na hoe Johannes “die Woord” in die eerste hoofstuk van sy Evangelie geïdentifiseer het. “Die Woord het vlees geword en onder ons gewoon”, het hy geskryf, “en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid [nie soos dié van God nie, maar] soos dié van ’n enigverwekte seun wat van ’n vader kom.” “Die Woord”, wat vlees geword het, het as die man Jesus op die aarde gelewe en is deur mense gesien. Hy kon dus onmoontlik God die Almagtige wees waarvan Johannes gesê het: “Geen mens het God ooit gesien nie.”—Johannes 1:14, 18.

‘Maar waarom’, vra iemand dalk, ‘het Tomas uitgeroep: “My Here en my God!” toe hy die verrese Jesus gesien het?’ Soos reeds gesê is, is Jesus ’n god in die sin dat hy goddelik is, maar hy is nie die Vader nie. Jesus het pas tevore vir Maria Magdalena gesê: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God.” Onthou ook waarom Johannes sy Evangelie geskryf het. Drie verse na die verslag oor Tomas het Johannes verduidelik dat hy geskryf het sodat mense “kan glo dat Jesus die Christus . . . , die Seun van God” is—nie dat hy God is nie.—Johannes 20:17, 28, 31.

Wie is “die God van hierdie wêreld”?

Dit is duidelik dat daar baie gode is. Soos ons gesien het, word party van hulle in die Bybel geïdentifiseer. Maar mense wat Jehovah se krag gesien het, het lank gelede uitgeroep: “Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!” (1 Konings 18:39). Daar is egter ’n ander god wat ook krag het. Die Bybel sê: ‘Die god van hierdie wêreld het die sinne van die ongelowiges verblind.’—2 Korintiërs 4:4, Die Bybel, 1953.

Die aand voor sy dood het Jesus sy dissipels drie keer teen hierdie god gewaarsku en hom “die heerser van hierdie wêreld” genoem. Jesus het gesê dat hierdie magtige heerser, of god, ‘uitgewerp sal word’ (Johannes 12:31; 14:30; 16:11). Wie is hierdie god, en wat is die wêreld waaroor hy die heerser is?

Hy is niemand anders nie as die opstandige engel Satan die Duiwel. Hoe weet ons dit? Volgens die Bybel het Satan, toe hy Jesus versoek het, hom “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid gewys, en hy het vir hom gesê: ‘Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig’” (Matteus 4:8, 9). Hierdie aanbod sou glad nie ’n versoeking gewees het as Satan Jesus iets aangebied het wat Satan nie besit het nie. Trouens, die apostel Johannes het gesê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.”—1 Johannes 5:19.

Onthou dat Jesus belowe het: “Die heerser van hierdie wêreld [sal] uitgewerp word” (Johannes 12:31). Trouens, hierdie wêreld, of stelsel van dinge, sal saam met sy heerser uit die weg geruim word, soos voorspel deur die apostel Johannes toe hy gesê het: “Die wêreld gaan verby.” Maar Johannes het bygevoeg: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Kom ons ondersoek nou die glorieryke voornemens van die enigste ware God en hoe ons daarby kan baat vind.

[Voetnoot]

^ par. 7 Sien The New Testament deur James L. Tomanek; The Emphatic Diaglott, interlineêre lesing, deur Benjamin Wilson; The Bible—An American Translation deur J.M.P. Smith en E. J. Goodspeed.

[Prent op bladsy 8, 9]

Die mense van Listra het Paulus en Barnabas gode genoem

[Prent op bladsy 8, 9]

Jesus het vir Maria Magdalena gesê: ‘Ek vaar op na my God en julle God’