Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die vallei van blommeprag

Die vallei van blommeprag

Die vallei van blommeprag

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE OEKRAÏNE

WANNEER die lente aanbreek in hierdie klein vallei, genestel in die Karpatiese gebergte, word die vrugbare grond geleidelik met ’n wit blommetapyt bedek. Die beste tyd om hier ’n besoek af te lê, is in die laat lente, wanneer ’n soet geur oor die Alpegrasvlakte hang en besoekers lok om dit van naderby te bekyk.

Waar is hierdie pragtige vertoning? In die Vallei van Narsings—’n natuurreservaat naby Khust, in die westelike deel van die Oekraïne. Hier word uitgestrekte velde van wilde narsings aangetref. Hoewel meer as 400 plantspesies in die vallei groei, is die narsing koning.

Trouens, die reservaat is vernoem na hierdie blom, wat ook bekend staan as die smalblaarnarsing, of affodil. Hierdie bolplant, met sy lang dun blare en trompetvormige kelk omring deur wit of geel blomblare, word ook oral in die Alpe en die Balkan aangetref.

Digters en musikante besing al eeue lank die skoonheid van die narsing. Trouens, een spesie word Narcissus poeticus, oftewel die digtersnarsing, genoem. Maar dit is nie net digters wat die skoonheid van die narsing al raakgesien het nie. In eertydse Rome het heersers geel narsings gebruik om hulle seëvierende krygers te begroet. En in Pruise was die narsing ’n simbool van liefde en geluk. Vandag besing gemeenskappe oral in die wêreld nog steeds die prag van hierdie blom by jaarlikse feeste en vieringe.

Die narsing is egter veel meer as net ’n mooi blom. Die naam narsing is verwant aan die Griekse woord narkaʹo, wat beteken “om beneweld te wees”. Kan narsings werklik so ’n uitwerking op ’n mens hê? Wanneer hierdie blomme in die Vallei van Narsings blom, kan dit besoekers effens oorweldig, of hulle selfs ’n bietjie lighoofdig laat voel!

Die narkotiese uitwerking van die geur het daartoe gelei dat party mense geneeskragtige eienskappe aan die blom toegeskryf het. Die Arabiere het narsingolie gebruik om haarverlies te behandel, terwyl die Franse dit vir epilepsie en histerie gebruik het. Narsingolie word vandag in parfuum en, in sy gesuiwerde vorm, in aromaterapie gebruik.

Sal dit altyd daar wees?

Die smalblaarnarsing word beskou as ’n blom wat hoog in die berge groei. Dit groei gewoonlik tussen 1 100 en 2 060 meter bo seespieël. Maar die Vallei van Narsings is 200 meter bo seespieël en is dus die laagste vallei waar hierdie spesifieke blom groei.

In 1979 is die Vallei van Narsings ’n reservaat gemaak om hierdie natuurwonder te bewaar. Sowat 20 jaar later het die Europese Raad die smalblaarnarsing tot ’n beskermde spesie verklaar.

Aanvanklik is daar ’n verbod geplaas op die sny van gras ná die blomseisoen in die Vallei van Narsings. Maar binne ’n paar jaar het die getal blomme begin afneem. Waarom? Wetenskaplikes het uitgevind dat die jong blomlote verstik word wanneer die gras toegelaat word om ongehinderd te groei. Toe die beperking op die sny van gras egter opgehef is, is die natuurlike balans van die vallei herstel. Nou is die vallei pragtig in die lente, en dit voorsien veevoer deur die hele winter.

Hierdie ongelooflike blommeprag herinner ons aan die potensiaal wat ons aardse tuiste het. Ja, baie Bybelstudente sien uit na die tyd, onder die heerskappy van God se Koninkryk, wanneer ‘die wildernis en die waterlose streek sal jubel, en die woestynvlakte bly sal wees’ en pragtige blomme sal voortbring (Jesaja 35:1). Dan sal die ganse aarde so mooi soos die Vallei van Narsings wees wanneer die aarde omskep word in ’n paradys soos dit oorspronklik in Eden was.—Genesis 2:8-15.