Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek Dien God ondanks uitdagings

Ek Dien God ondanks uitdagings

Ek Dien God ondanks uitdagings

SOOS VERTEL DEUR IVAN MIKITKOF

“As jy in hierdie dorp bly, sal jy teruggestuur word tronk toe”, het ’n offisier van die Sowjet-staatsveiligheidskomitee (KGB) my gewaarsku. Ek is kort tevore vrygelaat ná 12 jaar in die tronk. My pa en ma was ernstig siek en het sorg nodig gehad. Wat moes ek doen?

EK IS in 1928 in die dorpie T̩aul, Moldowa, gebore. * Toe ek ’n jaar oud was, het my pa, Alexander, die stad Ias̩i, Roemenië, besoek waar hy Bybelstudente ontmoet het, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Toe hy na T̩aul teruggekeer het, het hy vir sy gesin en bure vertel wat hy geleer het. Kort voor lank is ’n groepie Bybelstudente in T̩aul gevorm.

As die jongste van vier kinders—almal seuns—is ek van kleins af omring deur geestelikgesinde mense, wat ’n goeie voorbeeld vir my gestel het. Mettertyd het ek besef dat diens aan Jehovah tot teenstand sou lei—en dat dit ’n uitdaging sou wees. Ek onthou nog goed hoe die polisie baie maal ons huis deursoek het om ons versteekte Bybellektuur te probeer kry. Dit het my nie bang gemaak nie. Ek het uit ons studie van die Bybel geleer dat God se eie Seun, Jesus Christus, sowel as sy dissipels vervolg is. Gedurende ons vergaderinge is ons dikwels daaraan herinner dat Jesus se volgelinge vervolging moet verwag.—Johannes 15:20.

Versterk om vervolging te verduur

In 1934, toe ek maar ses jaar oud was, is ’n brief vir ons gemeente in T̩aul voorgelees oor die lyding wat ons mede-Christene in Nazi-Duitsland verduur. Ons is aangespoor om vir hulle te bid. Al was ek nog klein, het ek nooit daardie brief vergeet nie.

Vier jaar later het ek voor my eerste persoonlike toets van onkreukbaarheid te staan gekom. Gedurende godsdiensonderrig op skool het die Ortodokse priester my herhaaldelik beveel om ’n kruis om my nek te dra. Toe ek weier, het hy al die kinders in die klas gevra om hulle kruise te wys as ’n teken dat hulle goeie kerklidmate was. Die priester het toe na my gewys en die klas gevra: “Wil julle iemand soos hy in julle klas hê? Almal wat nee sê, steek julle hande op.”

Omdat die kinders bang was vir die priester, het hulle almal hulle hande opgesteek. “Sien jy”, het hy vir my gesê, “niemand wil enigiets met jou te doen hê nie. Verlaat onmiddellik die gebou.” ’n Paar dae later het die skoolhoof na ons huis toe gekom. Nadat hy met my ouers gesels het, het hy my gevra of ek wil teruggaan skool toe. Ek het gesê ek wil. “Solank ek die skoolhoof is”, het hy gesê, “sal jy kan skoolgaan en die priester sal jou nie kan keer nie.” Hy het sy woord gehou, en terwyl daardie man die skoolhoof was, het die priester my nie weer gepla nie.

Vervolging neem toe

In 1940 het Bessarabië, die gebied waarin ons gewoon het, deel van die Sowjetunie geword. Op 13 en 14 Junie 1941 is almal wat op politieke of sosiale gebied prominent was, na Siberië gedeporteer. Jehovah se Getuies is nie deur hierdie deportasie geraak nie. Maar van toe af was ons versigtiger wanneer ons ons vergaderinge gehou en ons predikingswerk gedoen het.

Teen die einde van Junie 1941 het Nazi-Duitsland onverwags ’n volskaalse aanval op die Sowjetunie geloods, wat tot op daardie stadium sy bondgenoot was. Kort daarna het die Roemeense magte Bessarabië herower. Dit het ons weer onder Roemeense bewind gebring.

Die Getuies in nabygeleë dorpies wat geweier het om in die Roemeense leër te dien, is in hegtenis geneem, en die meeste van hulle is gevonnis tot 20 jaar dwangarbeid. My pa is na die polisiestasie ontbied en wreed geslaan omdat hy ’n Getuie was. En ek is met geweld van die skool af kerk toe geneem om die dienste by te woon.

Toe het die gety van die Tweede Wêreldoorlog verander. In Maart 1944 het die Sowjetleër vinnig die noorde van Bessarabië ingeneem. Teen Augustus het hulle die hele land oorgeneem. Ek was op daardie tydstip in my middel-tienerjare.

Kort daarna is al die mans van ons dorpie wat fisies gesond was, vir diens in die Sowjetleër opgeroep. Maar die Getuies het geweier om hulle neutraliteit prys te gee. Hulle is dus tot tien jaar tronkstraf gevonnis. In Mei 1945 het die Tweede Wêreldoorlog in Europa tot ’n einde gekom toe die Duitsers oorgegee het. Maar baie Getuies in Moldowa is eers in 1949 uit die tronk vrygelaat.

Ontberinge ná die oorlog

Ná die oorlog in 1945 is Moldowa deur ’n kwaai droogte geteister. Ten spyte van die droogte het die Sowjetregering steeds geëis dat plaasboere ’n groot deel van hulle oes as belasting gee. Dit het tot ’n verskriklike hongersnood gelei. Teen 1947 het ek baie lyke in die strate van T̩aul gesien. My broer Yefim het gesterf, en ek was weke lank so swak van die honger dat ek skaars kon beweeg. Maar die hongersnood het verbygegaan, en die Getuies wat dit oorleef het, het voortgegaan met die openbare bediening. Terwyl ek in ons plaaslike gebied die boodskap verkondig het, het my broer Vasile, wat sewe jaar ouer as ek was, in nabygeleë dorpies getuig.

Namate die Getuies bedrywiger in die bediening geword het, het die owerhede ons fyner begin dophou. Ons predikingswerk en die feit dat ons nie betrokke geraak het by die politiek of militêre diens wou doen nie, het daartoe gelei dat die Sowjetregering ons huise vir Bybellektuur deursoek het en ons in hegtenis geneem het. In 1949 is party Getuies van naburige gemeentes na Siberië gedeporteer. Dié van ons wat oorgebly het, het dus weer ons bediening versigtiger begin uitvoer.

Intussen het ek ’n ernstige gesondheidsprobleem ontwikkel wat al hoe erger geword het. Dokters het uiteindelik gesê dat ek beentuberkulose het, en in 1950 is my regterbeen in gips gesit.

Gedeporteer na Siberië

Op 1 April 1951, met my been nog in gips, is ons gesin in hegtenis geneem en saam met ander Getuies na Siberië gedeporteer. * Met so min tyd om voor te berei, het ons net kans gehad om ’n bietjie kos saam te neem. Dit het nie lank gehou nie.

Uiteindelik, ná omtrent twee weke op die trein, het ons in Asino, in die streek Tomsk, aangekom. Daar is ons soos beeste afgelaai. Hoewel dit yskoud was, was dit wonderlik om ’n bietjie vars lug in te asem. In Mei, toe die ys in die rivier begin smelt het, is ons per skip 100 kilometer ver na Torba geneem, waar daar ’n bosboukamp in die Siberiese taiga, of subarktiese woud, was. Hier het ons ons dwangarbeid begin—wat volgens ons vervolgers vir ewig sou duur.

Hoewel dwangarbeid in ’n bosboukamp nie dieselfde as lewe in ’n tronk was nie, is ons altyd fyn dopgehou. Snags het ons gesin saam in ’n spoorwa geslaap. Daardie somer het ons huise gebou—eenvoudige wonings wat half onder die grond was—vir beskerming tydens die komende winter.

Omdat my been in gips was, het hulle my nie in die woud laat werk nie, maar moes ek spykers maak. Dit het my die geleentheid gegee om in die geheim Die Wagtoring en ander Bybelpublikasies te dupliseer. Dit is op die een of ander manier duisende kilometers ver van Wes-Europa af gereeld na ons gebied toe ingesmokkel.

Inhegtenisname en tronkstraf

In 1953 is my gipsverband afgehaal. Maar al het ek probeer om versigtig te wees, het die KGB intussen bewus geword van my geestelike bedrywighede, insluitende duplisering van Bybellektuur. Gevolglik is ek en ander Getuies eindelik tot 12 jaar in ’n gevangeniskamp gevonnis. Gedurende die verhoor kon almal van ons egter ’n goeie getuienis aangaande ons God, Jehovah, en sy liefdevolle voornemens vir die mensdom gee.

Ons groep gevangenes is uiteindelik na verskeie kampe naby Irkoetsk, honderde kilometers verder oos, gestuur. Hierdie strafkampe was bedoel vir mense wat as vyande van die Sowjetunie beskou is. Van 8 April 1954 tot vroeg in 1960 het ek my vonnis in 12 van hierdie strafkampe uitgedien. Daarna is ek meer as 3 000 kilometer wes geneem na die enorme Mordowiese gevangeniskompleks, omtrent 400 kilometer suidoos van Moskou. Daar het ek die voorreg gehad om met getroue Getuies uit baie dele van die Sowjetunie te assosieer.

Die Sowjetowerhede het besef dat wanneer die Getuies toegelaat word om vryelik te assosieer met gevangenes wat nie Getuies is nie, sommige van hierdie persone ook Getuies word. Daarom is daar in die Mordowiese gevangeniskompleks, wat uit baie werkkampe bestaan het en oor ongeveer 30 kilometer of wat gestrek het, ’n poging aangewend om ons eenkant te hou sodat ons nie noue omgang met ander gevangenes kon hê nie. Meer as 400 Getuies is saam in ons kamp gesit. ’n Paar kilometer verder was daar sowat honderd Christensusters in ’n ander kamp van die gevangeniskompleks.

In ons kamp was ek baie betrokke by die organisering van Christelike vergaderinge sowel as die duplisering van Bybellektuur, wat in die kamp ingesmokkel is. Kampamptenare het blykbaar hiervan te wete gekom. Kort daarna, in Augustus 1961, is ek gevonnis tot een jaar in die berugte Vladimir-gevangenis, wat uit die tydperk van die tsaars dateer en omtrent 200 kilometer noordoos van Moskou geleë was. Die Amerikaanse vlieënier Francis Gary Powers, wat op 1 Mei 1960 afgeskiet is terwyl hy met ’n spioenvliegtuig oor Rusland gevlieg het, was ook ’n gevangene daar tot Februarie 1962.

Terwyl ek in die Vladimir-gevangenis was, het ek net genoeg kos gekry om aan die lewe te bly. Ek kon die verhongering verduur aangesien ek dit in my jong dae ondervind het, maar dit was moeilik vir my om die uiterste koue van die winter in 1961/62 te deurstaan. Die verwarmingstelsel het gebreek, en die temperatuur in my sel het tot ver onder vriespunt gedaal. ’n Dokter het my ellendige toestand gesien en gereël dat ek gedurende die ergste deel van daardie verskriklike koue weke na ’n effens warmer sel verskuif word.

Onderskraag om die uitdaging die hoof te bied

Ná maande lange opsluiting kan negatiewe gedagtes ’n mens ontmoedig, en dit is wat tronkbeamptes hoop sal gebeur. Maar ek het aanhou bid en is versterk deur Jehovah se gees en deur die tekste wat ek kon onthou.

Veral terwyl ek in die Vladimir-gevangenis was, kon ek my vereenselwig met die woorde van die apostel Paulus dat ons “in elke opsig geknel [is], maar nie só vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie” en “raadop, maar nie heeltemal sonder uitweg nie” (2 Korintiërs 4:8-10). Ná ’n jaar is ek teruggestuur na die Mordowiese gevangeniskompleks. Ek het op 8 April 1966 my 12 jaar lange vonnis in hierdie kampe voltooi. Met my vrylating is ek beskryf as “onmoontlik om te hervorm”. Vir my was dit ’n amptelike getuienis dat ek getrou aan Jehovah gebly het.

Ek is al dikwels gevra hoe ons Bybellektuur in Sowjetkampe en -tronke ontvang en gedupliseer het ondanks pogings om dit te verhoed. Dit is ’n geheim wat min ooit uitgevind het, soos gesien word uit die woorde van ’n Lettiese politieke gevangene wat vier jaar in die Potma-vrouekamp was. “Die Getuies het op die een of ander manier altyd ’n oorvloed lektuur gekry”, het sy ná haar vrylating in 1966 geskryf. “Dit was asof engele in die nag oorgevlieg en dit afgegooi het”, was haar gevolgtrekking. Ja, dit was net met God se hulp dat ons dit kon doen!

’n Tydperk van relatiewe vryheid

Nadat ek vrygelaat is, het die broers wat die leiding in die predikingswerk geneem het, my gevra om na die weste van die Oekraïne, naby Moldowa, te trek om ons Moldowiese broers te help. Maar as ’n gewese gevangene wat fyn dopgehou is deur die KGB, was ek baie beperk in wat ek kon doen. Die moontlikheid om weer opgesluit te word, het soos ’n swaard oor my kop gehang, en daarom het ek ná twee jaar besluit om na die Sowjetrepubliek van Kazakstan te trek, waar die owerhede selde dokumente nagegaan het. Maar in 1969, toe my ouers baie siek geword het, het ek na die Oekraïne gegaan om hulle te versorg. Dit was in die dorp Artyomosk, noord van die groot stad Donetsk, dat ’n KGB-offisier gedreig het om my terug te stuur tronk toe, soos aan die begin van hierdie artikel gemeld is.

In werklikheid wou die offisier my net probeer intimideer. Hy het nie genoeg bewyse gehad om iets te doen nie. Aangesien ek vasbeslote was om voort te gaan met my Christelike bediening en die KGB my in elk geval sou dophou waar ek ook al gaan, het ek my ouers bly versorg. Beide my pa en my ma het getrou aan Jehovah gesterf. My pa is in November 1969 oorlede, maar my ma het gelewe tot Februarie 1976.

Toe ek na die Oekraïne toe teruggetrek het, was ek 40 jaar oud. Terwyl ek my ouers versorg het, was ek in dieselfde gemeente as ’n jong vrou met die naam Maria. Sy was maar agt jaar oud toe sy en haar ouers, net soos ons gesin, vroeg in April 1951 uit Moldowa na Siberië verban is. Maria het gesê dat ek mooi sing. Dit was ’n begin, en hoewel ons albei in die bediening besig was, het ons darem tyd gekry om ’n vriendskap te ontwikkel. In 1970 het sy ingestem om met my te trou.

Kort voor lank is ons dogter, Lidia, gebore. In 1983, toe Lidia tien was, het ’n voormalige Getuie my egter aan die KGB verraai. Teen daardie tyd het ek byna tien jaar lank as ’n reisende opsiener in die hele oostelike deel van die Oekraïne gedien. Teenstanders van ons Christelike bedrywighede het daarin geslaag om mense te kry om valse getuienis tydens die verhoor te gee, en ek is vyf jaar tronkstraf opgelê.

In die tronk is ek van ander Getuies af weggehou. Maar ten spyte van sulke jare lange afsondering kon geen menslike instelling my verhinder om met Jehovah te kommunikeer nie, en hy het my altyd onderskraag. Daarbenewens het ek geleenthede gevind om vir ander gevangenes te getuig. Uiteindelik, nadat ek vier jaar van my vonnis uitgedien het, is ek vrygelaat en met my vrou en dogter herenig, wat albei getrou aan Jehovah gebly het.

Terug na Moldowa

Ons het nog ’n jaar in die Oekraïne deurgebring en toe vir goed na Moldowa teruggekeer waar daar ’n behoefte aan ryp, ervare broers was. Teen daardie tyd het die Sowjetregering ons meer bewegingsvryheid toegelaat. Ons het in 1988 in Bălţi aangekom, waar Maria gewoon het voordat sy en haar gesin 37 jaar vroeër gedeporteer is. Teen 1988 was daar omtrent 375 Getuies hier, die tweede grootste stad in Moldowa; nou is daar ver oor die 1 500! Hoewel ons in Moldowa gewoon het, het ek nog steeds as reisende opsiener in die Oekraïne gedien.

Teen die tyd dat ons organisasie in Maart 1991 wetlike erkenning in die Sowjetunie ontvang het, was duisende mense ontnugter deur die mislukking van Kommunisme. Baie was verward en het nie ’n ware hoop vir die toekoms gehad nie. Toe Moldowa dus ’n onafhanklike soewereine republiek geword het, het baie van ons bure—en selfs party van ons voormalige vervolgers—gunstig gereageer op ons getuieniswerk! Ná ons verbanning in 1951 was daar maar ’n klein groepie Getuies oor in Moldowa, maar nou is daar meer as 18 000 in hierdie klein landjie van omtrent 4 200 000. Die wonderlike ondervindinge wat ons geniet het, het inderdaad ons ontberinge van die verlede oorskadu!

In die middel-1990’s kon ek weens swak gesondheid nie meer as reisende opsiener dien nie. Soms ontmoedig my situasie my. Maar ek het tot die besef gekom dat Jehovah weet wat ons nodig het om ons te versterk. Hy gee die nodige aanmoediging op die regte tyd. Sou ek, as ek my lewe oor kon hê, ’n ander weg kies? Nee. Ek wens eerder dat ek moediger in my bediening was en groter ywer en geesdrif aan die dag gelê het.

Ek voel dat Jehovah my geseën het en dat al sy knegte ’n geseënde volk is ongeag wat hulle omstandighede is. Ons het ’n vaste hoop, ’n lewende geloof en die versekering dat almal binnekort volmaakte gesondheid sal geniet in die nuwe wêreld wat Jehovah tot stand gaan bring.

[Voetnote]

^ par. 4 Die huidige naam van die land, Moldowa, sal deurgaans in hierdie artikel gebruik word in plaas van die vorige name Moldawië of die Sowjetrepubliek van Moldawië.

^ par. 21 Gedurende die eerste twee naweke van April 1951 het die Sowjetowerhede ’n goed beplande program uitgevoer waarin hulle meer as 7 000 Getuies van Jehovah en hulle gesinne wat in die westelike deel van die Sowjetunie gewoon het, gevange geneem en per trein duisende kilometers oos na Siberië gedeporteer het.

[Prent op bladsy 20, 21]

Ons huisie terwyl ons in 1953 ballinge in Torba, Siberië, was. My pa en ma (links), en my broer Vasile en sy seun (regs)

[Prent op bladsy 21]

In ’n gevangeniskamp, 1955

[Prent op bladsy 23]

Christensusters in Siberië, toe Maria (links onder) omtrent 20 was

[Prent op bladsy 23]

Saam met ons dogter, Lidia

[Prent op bladsy 23]

Ons troue, 1970

[Prent op bladsy 23]

Saam met Maria vandag